VF Plus-kandidaat vir Kaap is eks-ANC-boetie

Adv. Lennit Max spits hom nou op op die burgemeesterskap in die Wes-Kaap. (Foto: Facebook)

Die Vryheidsfront Plus het die kleurvolle Wes-Kaapse politikus adv. Lennit Max as burgemeesterskandidaat aangewys.

Max, ’n voormalige Wes-Kaapse polisiekommissaris, was tot baie onlangs nog ’n lojale ANC-lid, maar het verlede maand na die VF Plus oorgeloop.

Hy is ’n vertroueling van die minister van polisie, genl. Bheki Cele, en het tot onlangs as Cele se spesiale adviseur gedien.

Tydens die bekendstelling van sy kandidatuur Woensdag by die VF Plus se parlementêre kantoor het Max, wat ook al senior posisies beklee het in die DA en die destydse Onafhanklike Demokrate, aan die media vertel hy het nog altyd geglo in selfbeskikking, dat hy gekant is teen regstellende aksie en dat bruin sowel as wit mense tans deur die ANC uitgeskuif word.

Max blyk oortuig te wees dat die VF Plus, wat tans een setel in die Kaapse stadsraad met sy 232 lede het, die verkiesing gaan wen en dat hy dan burgemeester gaan word. Hy het herhaaldelik aan die mediakorps vertel wat sy planne is “wanneer” hy ná 1 November die burgemeester is.

Max het ook ondersteuners van Wes-Kaapse sesessie (die sogenaamde Cape Exit-groepering) uitgenooi om die VF Plus hul spreekbuis te maak. Max het voorts uitgewys dat sy berese politieke geskiedenis toon hy is lojaal aan beginsels en aan die mense wat hom verkies het; nie blind lojaal aan ’n politieke party nie.

Daarbenewens het Max vertel van sy eie persoonlike swaarkry, sy trou aan die VF Plus beloof, en aangevoer dat die polisie se nuutgestigte spesialis-eenheid teen bendegeweld sý idee was.

Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, het ’n bietjie sand op al die vlamme gegooi deur uit te wys dat die VF Plus ten gunste van selfbeskikking is, en sesessie as een van die moontlikhede beskou.

Op ’n vraag hoe die VF Plus as opsie aan Kaapse bruin kiesers voorgehou gaan word gegewe die party se verankering in wit Afrikanernasionalisme, het Groenewald en die VF Plus se Wes-Kaapse leier, dr. Corné Mulder, gesê tye het verander en dat die VF Plus ’n tyd gelede hul missie en grondwet aangepas het.

“Die party veg nou vir die regte van alle minderhede.”

Bruin kandidate maak nou 68% van die VF Plus se kandidate op die kandidatelys vir Kaapstad uit. Onder hulle tel Grant Marais, seun van oudpremier Peter Marais. Die oudpremier is tans die VF Plus se enigste lid in die Wes-Kaapse wetgewer.

Die VF Plus, wat sterk groei in Kaapstad verwag, se huidige stadsraadslid, Erika Botha-Rossouw, is tweede op die lys.

Die VF Plus neem vanjaar aan die verkiesing deel in alle Wes-Kaapse munisipaliteite, behalwe Prins Albert en Bitou (Plettenbergbaai).

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

66 Kommentare

Swerwer ·

En so suipel die ANC in alles in sonder veel moeite en niemand verroer ‘n vinger om dit te stuit nie.

Swerwer ·

Jammer ek deel dit nie, kyk in watter toestand is ons land as gevolg van hulle en hul gaan net aan en aan.

Adelaide ·

Nou wonder ek – dom, optimisties of volstruiskop in die sand

Jan ·

Jammer dat die VF Plus toelaat dat integriteit ingeboet word ten gunste van populisme.
Hierdie is ‘n opperste opportunis.

groenboer ·

Ja, ek het ook bedenkinge, en nie oor sy velkleur nie (eintlik dalk hoog tyd dat Afrikaners en bruin Afrikaanssprekendes begin saamwerk). Maar ek ruik ook maar opportunisme hier. Hulle moes hom maar eerder eers in junior posisies aangestel het, sodat hy homself kan bewys. Die VF Plus moet versigtig wees om nie so desperaat te raak vir stemme dat hulle beginsels oorboord gooi nie.

Mariana ·

Hmmm soek groener weivelde en groot salarisse…..wat betaal word.

Werner ·

Die arme FV manne gaan ook nou teen al hul waardes om tog maar net n werkie te he.Geen politieke party kan hierdie land se probleme oplos nie.Ook nie n toekoms vir ons verseker nie.Wag maar vir die anargie dan kyk ons wat kom daar tot stand.

Misky ·

Hy het verlede maand oorgeloop van ANC en is ‘n vertroueling van Cele……. ek kry so bitter smaak in my mond en weet nie of ek nou reg gelees het nie

RB ·

Nè!? En hulle vind dit nie vreemd dat hy sò radikale sprong maak nie.
Maar nou ja, dis waarom jy nie met n tang aan politiek raak nie – grootste kolonie bedrieërs, leuenaars, huigelaars, rugstekers en so is die lys lank!

So is de Beer ook nou hoof peaunut in sy eie pakkie nadat hy ANC verlaat het.

Ek sê nie n persoon kan nie tot inkeer kom, tot sy sinne kom en waaragtig radikaal verander nie. Net die tyd sal leer of iemand wel n hartsverandering ondergaan het en ander dien, nie net homself nie.

Baardman ·

Darem een man wat tot inkeer gekom het. Dit is eintlik waaroor demokrasie gaan. As een party nie aan jou verwagtinge voldoen nie, is dit jou reg en jou plig om dan n party te steun wat aan jou vereistes en verwagtinge voldoen. Haal jou hoed vir die man af, hy het die ANC verlaat . Die VF Plus is nie net daar vir n gedeelte van die bevolking nie.

Lourens CFG ·

Hang af of hy regtig tot inkeer gekom het, of geplant is.

Werner ·

As dit te goed is om waar te wees is daar n slang in die gras.Maar nou ja as jy naïef is glo jy seker als.

Swerwer ·

Weet nie so mooi van die inkeer nie. Dit is hoe die ANC beplan om al die partye te infiltreer. Jammer maar waar die ANC betrokke is of ‘n lid van die ANC is daar absoluut geen vertroue nie.

Gerra ·

Ek was ook opgewerk totdat ek vanoggend op RSG (Monitor) die man hoor praat het. Gaan luister gerus

Swerwer ·

Van wanneer af sal hul hul eie party verraai, naturlik sal hy mooi woorde fluister.

fransdutoit3 ·

Ek weet nog nie hoe om hierdie kloutjie by die oor te bring nie.. Die VF+(-?) het al jare terug gewys dat hulle nie te vertrou is nie.. Dalk is hierdie net ‘n wanhopige poging om meer steun te verkry ongeag vanwaar dit kom..

JohanR ·

Lennit Max is erger as ‘n verkleurmannitjie. Nee a VF Plus raak julle nou desperaat! Volgende verkiesing is hy weer EFF toe…..

Jannie van Niekerk ·

Mnr Jan-jan Joubert, u het gister oor die radio op RSG gesê dat joernaliste nie “partydig” is nie afhanghende van die leser se persepsie oor ‘n saak. Nou wonder ek net waarom u vir ADV Max en die VF plus verdag maak in u berig? Net so erloops, ek is nie ‘n ondersteuner van die VFplus, DA of ANC nie.

Elinette ·

Feite is feite, die VF+ het hulle nou “common” gemaak met dié nominasie. Ek het in elk geval nie veel hoop dat hulle hond haar af sal maak met Max as kandidaat nie. Die DA staan te sterk en vry al JARRRRRRRE lank na die Cape kallits.

Boeretroos ·

Hoe kan daai ou vertrou word , hy spring vinniger as n haas . VF probeer bruin stemme werf wat goed is , maar nie met so n persoon nie, Hy het geen integriteit nie

Kokerboom ·

En die VF Plus leier val waaragtig vir die jakkals!!! Politiek bly ‘n vuilspel

Belinda ·

Wonder net of dit n goeie move was want mense vertrou geen ANC lid nie.

Chris dupreez ·

VF Plus , desperate times calls for desperate measures. Hê hê

wim ·

Ja, hulle neem nou die voormalige DA kiesers wat die lig gesien het in

JM ·

Jammer Fransdutoit3, ek sal graag wil weet waarom jy nie die VF+ vertrou nie. Sal jy dit reguit vir hulle sê? Die party se leiers is mense met integriteit, meer as wat jy van die ANC kan sê.

piet ·

VF+ se hoofmissie is selfbeskikking laas toe ek nog gekyk het op hul webblad. In 25 jaar se tyd het hulle nog GEEN aandag daaraan gegee nie. So ek kan hulle ongelukkig nie vertrou nie, bly by praat en niks doen nie. Ek se dit hier vir hulle, reguit.

Baardman ·

Jy kan nie net n provinsie verklaar as n nuwe republiek nie piet. Ook maar goed so, anders was hier al honderde republieke in SA, want ons Suid Afrikaners kan nou maar net nie saamstaan nie. Ons kan nie eers saamstem oor die Amerikaanse politiek nie, wat nog van ons eie.

piet ·

Dis hulle hoofmissie, so waar is hulle planne om dit bereik ? Daar’s niks. Hoe kan ek vir hulle stem as ek nie eers weet wat hulle in die mou voer nie. Hulle is darem wragtig stil vir ‘n party wat se hoofmissie selfbeskikking is maar hulle maak geen voorbrand daarvoor nie.

Elinette ·

Lennit Max laat my dink aan ‘n vlooi – hy spring van hier, tot daar en dan weer doer anderkant toe, al die pad byt hy en suig hy bloed uit. VF+, hou op om polities korrek te wees en te vry na die Cape Kallits; die DA doen dit alreeds.

wim ·

Duidelik ‘n man wat uit sy foute kan leer. Geen respektabele vlooi sal op die DA bly sit nie.

piet ·

Die dag wanneer VF+ die idee van selfbeskikking rerig ernstig opneem en daadwerlik daarop aanspraak maak en veg daarvoor is die dag wanneer mens kan luister en ‘n sinvolle besluit neem. Tans is hulle net nog ‘n opposisieparty wat geen alternatief bring nie. Bly net by praat en beloftes maak, niks daadwerkliks gebeur nie.

Deon ·

ANC se geld is op, kan nie hul werkers betaal nie, nuwe job vir die man…. Ek is ook die “beste wat se werk ek ool voor aansoek doen” wanneer jy my wil aanstel. Ek vertrou nie die vrede hier nie… Hoop van harte ek is verkeerd

Johan ·

Dan kon hulle net so wel vir Carl Niehaus gebruik het shame hy is ook werkloos

Gato ·

Die politikuste of is dit nou politici, is ‘n regte klomp narre en die Parlement is die groot sirkus tent waar hulle almal hulle toerties uithaal. Is daar nie ‘n slim mens in die wereld wat ‘n beter stelsel as demokrasie kan uitdink nie. Dit werk nerens in die wereld meer nie en veral nie in Afrika nie.

annie ·

Die Mulder-clan het lankal hierdie plan gekoester. Ouboet het reeds bande gesmee. Om nou as ‘n DA-lite te wil stemme werf met tweede handse ANC- x-familie as voorbankers met die plan om ‘n volkstaat saam te begin met wat hulle nou ‘verankerdes in wit Nasionalisme’ wil noem is die doodsteek vir die terugtrek-trekkergroep se Afrikaner-aard. Koebaai VF en alle plussers.

Malan ·

Hierdie ou is ‘n nar. Ek dink die enigste party waar hy ‘n bydrae kan maak is Boswell en Wilkie.

fs ·

en daar verloor hul my stem asook my maandelikse bydrae.. lyk my geen politikus is meer beginsel vas

Sarel ·

Ex DA….Ex ANC(?) …ek weet nie want dit is tipies Politieke Taktiek van ‘n sekere Politieke Party

piet ·

VF+ het besluit om weg te beweeg van wit Afrikaner politiek. Die ding is hulle het vanwee hul wit konserwatiewe agtergrond wel hierdie reputasie gehad wat hulle wil afskud. Ek vir een is bly daaroor en dink dis ‘n goeie ding maar daar is beslis VF+ kiesers wat nie hiermee gaan saamstem nie. Hulle kan stemme verloor.

Mariana ·

Vraag is of hy vertrou kan word. Vertrou niemand wat iets met die ANC te doen het of gehad het nie.

Andre ·

Geen politikus kan vertrou word nie, Max is net besig om sy pensioen te probeer versterk voor hy aftree, hy het self gese hy is reeds oud genoeg darvoor. Tog jammer dat hy nou eers”wakker word”

Sandra ·

‘n Jakkals verander van haar, maar nooit van streke nie.

Kobus ·

En die stuk gemors wil sy brood aan beide kante gebotter he want dan is daar en dan by die party

wim ·

Die skrywer se onderrok hang uit. Die opskrif behoort te wees: “vf-plus-kandidaat-vir-kaap-is-eks-DA-boetie”.

Louis ·

Cheers VF Plus.. Julle het sopas my stem verloor na al die jare

Tipper ·

Ek dink hy’s n goeie kandidaat,hy sal nooit weer wegloop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.