VF Plus kies nuwe provinsiale leierskappe

Die Vryheidsfront Plus verkies tans nuwe provinsiale leiers vir die party op byeenkomste wat as reorganisasievergaderings bekend staan.

Hierdie vergaderings vind elke drie jaar plaas en in die daaropvolgende jaar word die landwye leierskap op ʼn federale reorganisasievergadering verkies.

Die VF Plus-parlementslid Wouter Wessels het by navraag aan Maroela Media gesê weens die koronavirus is daar uitstel aan provinsies verleen om tot 13 Februarie aanstaande jaar hul reorganisasievergaderings te hou.

Die VF Plus in die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga het die afgelope paar weke hul reorganisasievergaderings afgehandel. Daar was meer afgevaardigdes van takke as tevore, wat volgens Wessels ʼn aanduiding is van die groei wat die party tans ervaar.

Buiten provinsiale leiers is twee provinsiale onderleiers en ʼn dagbestuur per provinsie verkies.

In die Oos-Kaap is die VF Plus-parlementslid Piet Mey van Despatch tot leier verkies. Die onderleiers is ʼn voormalige radio-omroeper en sakeman van Port Elizabeth, Antonie Pieterse, en ʼn oudskoolhoof van Jeffreysbaai, Danie Fouche.

In Mpumalanga is Werner Weber tot leier verkies. Hy is lid van Mpumalanga se wetgewer en ʼn voormalige parlementslid vir Wakkerstroom. Die onderleiers is Leon Viviers en Johan Swanepoel.

Vir Limpopo is Marcelle Maritz van Mokopane (Potgietersrus) tot leier verkies. Die onderleiers is Stephanie Alberts van Mokopane en Frik Erasmus van Thabazimbi.

Die reorganisasievergadering vir KwaZulu-Natal vind hierdie Saterdag plaas en die ander provinsies reorganiseer volgende jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.