VF Plus ‘koningmaker’ in talle munisipaliteite

pieter mulder

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus

Die VF Plus meen hy het landwyd stewig gegroei in 2016 se munisipale verkiesing en het veral beïndruk deur groot deurbrake te maak in provinsies waar daar histories feitlik geen VF Plus-voetspoor was nie.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, het gesê waar verskeie kleiner partye in die pas afgelope verkiesing amper uitgewis is, is die VF Plus tans die vyfde sterkste uit die meer as 200 partye wat aan die plaaslike verkiesing deelgeneem het. Die party het ook meer gegroei as met die onlangse verkiesing in 2014.

“In al nege provinsies het die VF Plus se stemtotaal vermeerder. In sommige provinsies het dit verdubbel, in die Wes-Kaap vervierdubbel en in die Noord-Kaap selfs vyfvuldig gegroei. Die gevolg daarvan is dat die VF Plus vir die eerste keer raadslede verkies gekry het op plekke waar die party in die vorige termyn geen teenwoordigheid gehad het nie. Die VF Plus het nou byvoorbeeld vir die eerste keer raadslede in Kimberley, Upington, Koster, Ottosdal, Wolmaransstad, Schweizer-Reneke, Zeerust, Nelspruit, Worcester, Paarl, Mosselbaai en Hessequa.”

Volgens Mulder het die VF Plus in talle ander munisipaliteite soos Krugersdorp, Middelburg en Kroonstad sy aantal raadslede verdubbel. “Verskeie van die nuwe VF Plus raadslede is oud DA-raadslede wat nou by die VF Plus aangesluit het of oud-DA-parlementslede, soos Lourie Bosman, wat in Newcastle in KwaZulu-Natal verkies is.”

Mulder het gesê die VF Plus het sy verkiesingsveldtog grootliks rondom koalisies en regstellende aksie geloods en die party is reg bewys deurdat talle koalisies na die verkiesing gevorm sal moet word waar geen party meer as 51% steun gekry het nie. “In verskeie van hierdie rade sal die VF Plus die koningmaker wees omdat die party se keuse sal bepaal watter koalisie die munisipaliteit regeer.”

Die VF Plus het in die 2011-munisipale verkiesing meer as 120 000 (0,45%) van die stemme op hom verenig. In Woensdag se verkiesing het die VF Plus 229 281 (0,77%) van die stemme getrek.

Dr. Mulder sê die groei is ʼn sterk aanduiding dat die party enersyds in tradisionele sterkpunte steun van ander partye weggerokkel het en andersyds ander minderheidsgroepe hulle vir die eerste keer agter die VF Plus geskaar het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

tamboti ·

Baie geluk VF+, meer en meer Afrikaners word wakker en is bereid om op te staan vir Afrikaans en voorbestaan van minderhede. Moenie jou stem mors op die meerderheid joiners nie.
Maak ‘n verskil, op die regte manier.

Pieter Terblanche ·

Mooi so JC, kom laat ek ‘n sterretjie op jou voorkop plak!!!

Sakkie du Plooy ·

Die Vf+ is tereg trots op ‘n toename in Raadslede van 85% landwyd.90
Menige kiesers wat die DA ondersteun het kyk nou met groot ontsteltenis hoedat hulle DA in stede soos Johannesburg en Pretoria nou met die EFF moet saamwerk om te kan regeer. Om Pretoria te wen met 43.11% is een ding maar om Pretoria te regeer, desnoods met die EFF en sy anti Afrikaner (en Blank) sentiment en destruktiewe optrede oraloor is ‘n ander storie. Die Vf+ het in sy veldtog ernstig hierteen gewaarsku. Dit sou vir die DA makliker en vir Pretoria veel meer voordelig gewees om met die Vf+ en ander gematigde partye soos COPE en die ACDP Pretoria te regeer.

jaco ·

229281 stemme is min as in ag geneem word dat die VF meer as dubbel daardie hoeveelheid stemme in 1994 gekry het. Die getal mense wat nee gestem het in 1992 was digby 900 000. Waar is al daardie mense heen? Almal dood? Almal in Kanada en Australie? Almal DA ondersteuners?

Potts ·

So, Jaco jy insinueer dat almal wat nee gestem het nou VF stem en dan seker ook vice versa.
Kan jy asseblief vir my Saterdag se lotto nommers stuur asb

Cherokee ·

Jaco se vraag maak baie sin. Of maak dit vir jou sin dat die ‘nee-stemmers’ nou saam met die Progresiewe-Party van Helen Suzman, Frederick Van Zyl Slabbert en Zach De Beer moet stem vir regstellende aksie en grondhervorming? Tog lyk dit asof dit die geval is.
Jaco, ek kan twee stemme wat die VF+ nie gekry het nie verduidelik – my vrou en ek het buite stemming gebly omdat ons gewetes ons nie toelaat om DA te stem nie en die VF was nie verteenwoordig in ons stad nie. Hier het Inkhata buitendien die DA by die deur uitgehelp en die nuwe opposisie-party geword.

Frik Lotz ·

Baie dankie aan almal wat VF Plus gestem het. Enigste party wat veg vir minderheidsregte en ons belange op die hart dra. VF Plus groei en word met elke verkiesing sterker en dis goeie nuus. VF Plus is hier om te bly en gaan nie verdwyn nie!

Bruno Stef ·

Dit is net jammer dat so baie van ons jonger mense elders in die wereld n heenkome moet gaan soek.Die ouer mense sterf uit en die jonger mense soos my kinders/kleinkinders aanvaar burgerskap in oorsese lande waar hulle volgens meriete beoordeel word en nie die kleur van hulle velle nie. Ons is besig om weg te kwyn dan twis die oorblywendes nog onder mekaar ook.

Cherokee ·

Jy vind dit jammer dat jou kinders en kleinkinders oorsee moet gaan werk soek en dan kla jy ook oor die twis tussen die tuisblyers. Die twis is juis omdat die DA en hul kiesers daarvoor stem dat jou kinders oorsee moet gaan werk soek en die topposte in die land aan onbevoegdes gegee moet word.

Cherokee ·

Verduidelik jouself beter as om ‘n one-liner te wees, Columbiana. Jy is nou soos die klipgooiers wat duur karre vanuit die donker met klippe gooi. Of meer waarskynlik weet jy nie eens waarvoor jy gestem het toe jy DA gestem het, nie.

Paul ·

Cherokee, 100% korrek. Die DA stemmers het seker nog nooit na hulle party se beleid gekyk nie, want ons moet mos saamstaan om die DA (ANC Lite) te help om die ANC uit te stem en nie ons stemme op klein partytjies mors nie.

danie ·

Kyk ek het nou al n klomp bollie gehoor, maar wat julle nou kwyt raak vat die koek, jy verlaat jou land omdat jy wil nie omdatjy moet nie, as jy nie die son kan sien skyn oor ander mense nie is dit dalk beter dat jy gaan

thea ·

ek is so trots op VF , Ek sal nooit my stem verander om net saam met die massas te dans nie
ek het n trots . DA is die ou PFP party,

jaco ·

as hulle vanaf 1994 omtrent 1 miljoen stemme of meer met elke verkiesing gehad het, sou hulle nog meer vir minderheidsregte gedoen gekry het. Dis n skande dat konserwatiewe Afrikaners vanaf 1994 so apaties teenoor die politiek geraak het.

Cherokee ·

Die gemiddelde kieser het nog nooit iets van politiek af geweet nie maar bloot saam met die hoofstroom gestem. ‘n Voorbeeld is 2 kommentare hoër waar Columbiana vir die DA gestem het sonder om te weet dat dit ‘n stem is vir regstellende aksie en vir die weggee van plaasgrond.

Esmay ·

Cherokee ek stem met jou saam. Dit help nie om die getalle vol te kry nie, jy moet op hoogte wees van party se einddoel. Ek het 1992 my laaste kruisie getrek met *nee* stem. Ongelukkig is ek te arm om die land te verlaat en gaan met elke verkiesing wat nog kom by huis bly en n vleisie braai !!!

WitBlits ·

Mooi Esmay hou aan om vir die ANC te stem deur weg te bly. Ongelukkig gaan jy altyd te arm bly om die land te verlaat soland die ANC regeer, want regstellende aksie sal aanhou om jou te benadeel en korrupsie sal sorg dat jy belasting deur jou nek betaal vir die “fat cats”! Die realteit is ook dat jy spoedig nie meer vleis sal kan bekostig om op verkiesingsdag te braai nie en dan sal jy hopelik gaan stem om ‘n verskil te maak. Draadsitters van vandag is net so goed soos om ‘n ANC ondersteuner te wees!

Gesie ·

Baie dankie VF+ dat julle opstaan vir my waardes – Christenskap, Afrikaans, Kultuur, anti-rassisme en die regverdige, menswaardige behandeling van alle mense.

Koos ·

Almal wat kla en kerm oor die ja stem is soos die anc wat nie kan ophou praat van apartheid nie, ons kon op daardie staduim besluit oorlog of beskaafde bedinging. Ongelukkig het ons met mense ye doen wat nie kan saamstaan nie en sal ook nooit hardloop liewers weg . die ander is net daar om in te palm. Staan n slag saam kry 3m stemme vir vf Dan kan ons n verskil maak

Cherokee ·

Natuurlik maak dit sin dat ons steeds vies is omdat julle die land weggegee het maar wat geen sin maak nie is dat dit blyk dat ex-nee-stemmers dalk nou vir die DA stem. Ek is nie seker of dit ‘n regsomkeer is en of dit dalk bloot mense wat niks van politiek af weet nie en stem soos hul vriende sê hulle moet stem.

Arina ·

Veels geluk VF+, hoop jul sal van krag tot krag gaan, heelwat van ons jong mense het vir julle gestem. Net jammer daar sal altyd liberales wees, wat net wil afbreuk doen aan dit wat met trots opgebou is deur die jare.

Theuns ·

Uitstekende vertoning VF+. OOR ‘N PAAR JAAR KRY ONS DAARDIE 1 000 000 STEMME +. Ons moet nou al begin werk en ons party moet ook nou oorgaan tot die aanval! Geen mooi praatjies met die regering nie!

jaco ·

ons kon daardie hoeveelheid stemme in 1994 gehad het, maar toe besluit Ferdi Hartzenberg van die Konserwatiewe Party om nie aan die verkiesing deel te neem nie. Die VF is ‘n paar weke voor die verkiesing gestig om darem iets van ‘n Afrikaner-stem te kry. Dit was egter te laat. Nou sit Ferdi lekker op sy plaas en lewe van sy vet pensioen van jare as parlementslid en ons gewone Afrikaners moet swaarkry.

Cherokee ·

Ek het in Blyvooruitzicht op die verhoog aan Ferdi Hartzenberg gesê dat die KP gestig is deur Andries Treurnicht, Pik Botha en FW De Klerk om sodoende die HNP se stem te verdeel. Dit was uiters geslaagd – die KP het die konserwatiewe stem verraai.

snoefie ·

die vf+ is ook maar skuldig aan luiheid. ek soon al twaalf jaar in die dorp en in die twaalf jaar het niemand van die vf+ ons ooit kom toespreek nie. vorige verkiesings het die da maande voor die verkiesing al begin bel en SMS. vanjaar het ek een SMS gehad die oggend van die verkiesing. apatie is nie die enigste sondebok nie jaco.luiheid is.

Henk ·

Dit was te wagte dat sommige Afrikaanssprekende DA ondersteuners die DA die rug sou keer na bepaalde DA optredes, en ook versuime om op te tree. Dit is egter minder as wat ek verwag het. Koningmakers? In Hessequa ja, en dalk vir die IVP in KZN, maar vir die res sal ons maar moet wag en kyk.

Anti DA ·

Ek stem eerder vir ‘n party wat ek vertrou as een wat diskriminerende wetgewing teen my ondersteun hoe slim is dit nou??

Henk ·

Praat van groei!hier in Nelspruit het die VF+ vanaf 780 stemme in die vorige stemming gegroei na oor die 4500 stemme,en gee ons nou n setel in die raad,hier is n opgewondenheid in die Laeveld,die krag van koalisie gaan in die toekoms n algroter rol speel,mag geen party ooit weer die alleen mandaat hê nie,die oomblik as daar te veel mag is,begin die handjies slap raak,ons hou die Wes kaap met belangstelling dop

jaco ·

Asb VF Plus word die “king makers” saam met die ANC, maar stel die volgende voorwaardes:
1. ons werk vir ALMAL in die dorp; nie net vir sekere partye se mense of net vir sekere rasse nie
2. Ons werk. Ons sit nie agteroor en relax nie
3. Ons hou nie uitspattige onthale vir nonsens nie
4. Ons lunch nie op groot en vermorsende skaal by Nandos nie
5. Daars nie kader-ontplooiing nie
6. Regstellende aksie aanstellings van ons personeel kyk EERS na bekwaamheid, kwalifikasies en ondervinding. Ras en kleur is nie alles nie
7. As raadslede nou regtig moet motors kry, is dit nie die duurste en luukste BMW of Mercedes nie. n Hyundai getz of indica Tata is ook goed genoeg as basiese vervoermiddel
8. Nuwe raadslede wat reeds hulle die motors het, hou dit en gebruik dit teen basiese vergoeding vir raadsake
9. Ons vlieg nie aanmekaar Pretoria of Kaap toe vir allerhande nonsens-vergaderings nie

Cherokee ·

As die VF dit sou doen om saam met die ANC te werk sal ek ‘n ander party vind om voor te stem of voortgaan om buite stemming te bly. Dit is egter te betwyfel dat hulle soos die DA sal word.

John ·

Die VFPlus gaan vir watter party(e) uithelp.. konings maak? Dit behoort interessant te wees. Kiesers stem vir die’ party ~ staan in die wind en reen ~ omdat die ander nie hul belange op die hart dra nie en 5 minute later staan die broers hand-om-die-lyf met die opposisie… en die kiesers is maar tevrede?

Ben Jordaan ·

Ek is n trotse lid van die VF+, en dit gaan nie verander nie. As voormalige DA ondersteuner was ek baie duidelik verontnugter toe hulle feitlik oornag hulle beleid verander het en dit duidelik was dat my kinders geen toekoms sou hê onder n DA regering nie. Ek het die belsuit geneem om my by die enigste party te skaar wat my en my kinders se belange op duw hart dra, en selfs as kandidaat gestaan in die verkiesing.

Vir al diegene wat hulleself te belangrik ag om hulle stem uit te bring, julle apatie het veroorsaak dat daar nou koalisie onderhandelinge tussen die DA en EFF plaasvind, waaroor ons vir ongeveer 3 maande na die aanloop van die verkiesing gewaarsku het.

Dus die situasie soos dit tans staan, ons as party het ongelooflik gegroei, en ons het n beter kans om vir jou regte te baklei, selfs al het jy geen belangstelling daarin nie. Omdat jy deel is van n minderheid, sal ons vir jou ook veg

Al wat ek vra is, moenie oningelig bly nie, maak berekende besluite.

Trots VF+

Cherokee ·

‘Verontnugter toe hulle feitlik oornag hul beleid verander het’? Ag storie man, die DA het nog nooit van beleid verander nie. Jy het net laat wakker geword. Die DA is steeds dieselfde Progresiewe Party van Helen Suzman wat vir swart oorheersing geveg het.

Ben Prinsloo ·

Cherokee ek stem in die meeste gevalle met jou saam. Die enigste nadeel is dat oom Jaap se party het nooit vêr gevorder nie. Ek dink egter dat hy was die land se 1 goeie president wat ons nie gehad het nie.

Cherokee ·

Ek ondersteun jou 100% met wat jy sê, Ben. * Een van die redes wat afbreek gedoen het aan die groei van die HNP was omdat hy eerlike politiek wou bedryf. Ons was op ‘n vlak waar ek hom as Oom Jaap aangespreek het en toe ek hom vra waarom ons lidmaatskap van AWB-lede weier het hy gesê “omdat hulle ‘n ander weg sien om die regering oor te neem as met ‘n kruisie”. Oom Jaap het gentleman politiek bedryf.
* Werklike afbreek aan die groei van die HNP was die verraad van die KP wat kort op die hakke van die HNP die Konserwatiewe Party gestig het met so te sê dieselfde konstitusie maar hulle het ons opponeer. In Blyvooruitzight het ek as takvoorsitter van een van die lokale takke, op die verhoog geklim en aan Ferdi Harzenberg gesê dat die KP ‘n breinbaba is van die Nasionale party om die HNP, vir wie hulle bang was, se stemme te verdeel. Ek dink steeds dat dit so is.

Cherokee ·

Ben, bykomend tot die vorige redes wat ek verskaf het was nog ‘n probleem waarmee die HNP te doen gehad het ook die feit dat die stryd gerugsteun is met finansies uit ‘n trust wat Dr Albert Hertzog nagelaat het daarvoor en die Nasionale Party het die staat se finansies gehad. Ons het bydraes uit ons sakke gedoen om plakate langs die strate vas te sit en nou wil dieselfde mense wat daardie plakate uitgelag het al die skuld op FW pak asof die ja-stem met net een stem gewen het.

Kobus ·

Lyk my al die trotse vf+ sers het met trots vergeet vir hul sogenaamde Afrikaanse leier so n rukkie terug gewerk het. Nee boetas praat van rugsteek !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.