VF Plus: ‘Land het kruispad bereik’

Dr. Pieter Groenewald, Vf Plus-leier. (Foto: VF Plus/X)

Ná dertig jaar waarin die ANC Suid-Afrika tot op die punt van totale verval en bankrotskap regeer het, het die tyd vir verandering aangebreek om die stukke op te tel en weer te bou.

Só het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, Saterdag in Centurion gesê met die party se manifesbekendstelling.

“Die VF Plus se Manifes 2024 bring ʼn realistiese plan en boodskap van hoop vir die toekoms. Hierdie pad gaan by die stembus begin op 29 Mei vanjaar. Die boodskap is dat Suid-Afrika herstel en herbou kan word. Hoe groter die krake van ANC-onbevoegdheid en korrupsie begin wys het, hoe harder het die regering na iemand gesoek om die skuld op te pak vir sy mislukkings.”

Die waarheid is dat hierdie verval die direkte oorsaak is van die regering se beleid onder die vaandel van swart bemagtiging wat die perfekte teelaarde geskep het vir alles wat verkeerd gegaan het, meen Groenewald. Hy sê die VF Plus se manifes is die bouplan met daadwerklike oplossings om ʼn beter toekoms te bou. Dit behels veelpartyregerings wat die ANC uit bewind hou en die huidige verval herstel; ʼn vryemarkstelsel om die ekonomie weer op te bou; ʼn klein sentrale regering met ʼn mindere rol in burgers se lewe; die herstel van plaaslike regering; selfstandige gemeenskappe as die boustene; die bevordering van gemeenskappe se grondwetlike reg op selfbeskikking as die sement; en die afskaffing van wetgewing wat diskrimineer op grond van velkleur.

“Die beste sleutel tot ʼn beter toekoms en welvaart vir almal is om die ekonomie te herstel. Die ANC wil mense van hom afhanklik maak om te oorleef. Die VF Plus sê die publiek moet deur ʼn gesonde ekonomie bemagtig word om hul eie welvaart deur gelyke geleenthede te skep.”

Suid-Afrika moet dringend verlos word van alle vorme van korrupsie wat endemies aan die ANC geraak het, sê Groenewald.

“Sonder krag kan geen land vooruitgaan nie. Die regering se vele beloftes oor verbetering het tot nou toe net teleurgestel. Die ANC sê dit is sabotasie. Dit is waar. Die regering self het deur wanbestuur en korrupsie die ekonomie gesaboteer.

“ʼn Groeiende ekonomie sal werkskepping bevorder. Geen regering kan volhoubaar werk skep nie. Die VF Plus se manifes bied die resep hiervoor soos die skep van ʼn omgewing wat belegging en groei bevorder.”

Toeganklike, kwaliteit-onderrig is die hoeksteen om die land se jeug te bemagtig, meen Groenewald en die VF Plus stel ʼn stelsel van ouer- en gemeenskapsgedrewe moedertaalonderwys voor.

“ʼn Samelewing wat goeie gesondheidsorg ontsê word, kan nie werk en bou nie.  Die toestand van staatshospitale en klinieke is ʼn skande. Die ANC se oplossing is die nasionale gesondheidsversekering (NGV). Dit sal die krisis vererger. Die NGV moet beveg word, al is dit tot in die Grondwethof.”

Volgens Groenewald is daar waarskynlik min Suid-Afrikaners wat nog nie persoonlik misdaad ervaar het nie. “Die land se moordsyfer is die tweede hoogste in die wêreld en niemand is veilig nie. Internasionale organisasies stel die ANC al gelyk aan ʼn misdaad-mafia.

“Dit kan nie so voortgaan nie. Bouwerk kan nie plaasvind in ’n omgewing waar misdaad gedy nie.”

Ja, Suid-Afrika kan herstel word, sê Groenewald. “Hy kan weer opgebou word. Dit kan nie langer uitgestel word nie. Die land het ʼn kruispad bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frik ·

Uitstekend gedoen, Pieter Groenewald en VF Plus.
Dis tyd om te herstel en te herbou wat ANC afgebreek het.
ANC se rakleeftyd het lankal verstryk en dis tyd dat hul vervang word!

Republikein in die Wes Kaap ·

Jammer Frik, die ANC gaan tot 2049 die septer swaai.

Manie ·

Ons weet reeds dat die ANC niks die afgelope 30 jaar uitgerig het nie, maar wat het julle die afgelope 30 jaar gedoen VF+?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.