VF-Plus: Nuwe kabinet wys Ramaphosa ‘steeds ʼn ANC-gevangene’

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede in die parlement (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF-Plus, sê die kabinetskommeling bevat goeie én slegte elemente, maar is oorhoofs ʼn duidelike aanduiding dat pres. Cyril Ramaphosa deur die ANC gevange gehou word en nie werklik sy eie stempel op die regering kan afdruk nie.

Groenewald sê hoewel Ramaphosa in sy aankondiging die onderneming gegee het dat die kabinet wel in die afsienbare toekoms verklein gaan word, hy nie die ideale geleentheid – volgens hom die kabinetskommeling – benut het om dit te doen nie.

“Dit is jammer dat hy nie die moed of toestemming van die ANC gehad het om daadwerklik op te tree nie,” sê hy.

Groenewald sê daar is verskeie “groot teleurstellings” wat ernstige vrae laat ontstaan oor Ramaphosa se erns om staatskaping uit te roei. Die eerste hiervan is adj.pres. David Mabuza.

“Mabuza is ʼn omstrede figuur oor wie ʼn wolk hang van aantygings oor korrupsie, politieke sluipmoorde en Gupta-bande. Dit bevestig die feit dat pres. Ramaphosa die ANC bo Suid-Afrika stel.

“Nog ʼn vrot appel wat in die mandjie behou is, is min. Malusi Gigaba wat in tipiese ANC-styl ‘herontplooi’ is na die pos van binnelandse sake. Terwyl hy voorheen minister van binnelandse sake was, is dit hom juis ten laste gelê dat hy die Guptas se aansoek om Suid-Afrikaanse burgerskap versnel het. Dit is nog ʼn aanduiding dat die ANC-stert besig is om die staatspresident rond te swaai. Dit is onaanvaarbaar en dien as bewys dat pres. Ramaphosa se dreigemente oor optrede teen staatskaping net leë woorde is,” sê Groenewald.

Hy meen die aanstelling van Bathabile Dlamini as minister van vrouesake, nadat sy volgens die party “as minister van maatskaplike ontwikkeling misluk het”, is ʼn mistasting.

Die aanstelling van Bheki Cele as minister van polisie is volgens Groenewald ook “ʼn stap terug vir polisiëring in Suid-Afrika”.

“Dlamini is vandag weer gedagvaar om voor die Menseregtekommissie (MRK) te verskyn en is nie bevoeg om as minister op te tree nie. Dit is nog ʼn bewys van pres. Ramaphosa se party-lojaliteit.”

Groenewald het die aanstelling van Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings en Nhlanhla Nene as minister van finansies verwelkom.

“Hierdie aanstellings sal meer beleggingsvertroue skep veral in die lig daarvan dat die kredietgraderingsagentskappe openbare ondernemings en die bestuur daarvan geïdentifiseer het as een van die groot redes vir die afgradering van Suid-Afrika se kredietwaardigheid. Op die keper beskou, is dit duidelik dat die nuwe leier van die ANC en die regering steeds die belange van die ANC bo dié van Suid-Afrika stel.”

Lees meer: Ramaphosa kondig groot kabinetskommeling aan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Callie ·

Vra weer. Hoekom het enige een gedink daar gaan regtig veranderinge kom. Zuma het ANC beleid uitgevoer. Hy het hom egter te vinnig self verryk en is uitgeskop. Nou gaan die nuwe pres net aangaan maar hy gaan pas versnel. Kyk maar na die grond onteiening proses. Het Ramaphosa al plaasmoorde aangespreek. Word wakker SA

Gerhard ·

Daar is selfs nou nog sulkes wat dit dink. Ek dink hulle het hulself maar net so deurmekaar gedink hulle het geen idee waar die werklikheid is nie.

Rita Parys ·

Ja né, hoe gou is hierdie liefdesverhouding met Ramaphosa nie verby nie! Die wittebrood het skaars begin!

Koos1 ·

Sonder om kant te kies wil ek die volgende sê. Cyril moet ‘n baie moeilike balans toertjie uitvoer. As hy nou almal uitskop (volgens die oposisie partye), is die kans goed dat die ANC nie die volgende verkiesing in 2019 gaan wen nie, en dan is hy nie meer president nie. Die ANC kan nie ‘n verkiesing wen sonder sy bondgenote nie. Ek stem saam dat die koruptes moet gaan, maar hulle ondersteuningsbasis kan die ANC maak of breek! (Dit is presies wat die opposisie wil hê). Dis die selfde met die DA en EFF koalisie, as die EFF uit trek gaan die Metros weer in ANC hande val, en daarom is DA en EFF lede as ampsdraers aangewys.
Politiek is maar ‘n vieslike spul! Ondersteuning is belangriker as enige iets anders. Daar sonder is jy in politiek niks!

Jaco ·

@ Koos, jy kon dit nie beter gestel het nie, dit lyk tog asof CR die goeie wil laat gebeur maar hy moet ook dink aan ondersteuning, indien CR sou skop en skree teen die Zuma regime as adjunk sou hy lankal uit gewees het as president kandidaat en was Zuma 2 ons president, sy opsie was om stil te bly, indien CR drasties teen die ANC besluite sou draai is hy weereens uit, ek glo en ek hoop ek is nie verkeerd nie, dat hierdie alles deel is van n langtermyn strategiese plan om mag te behou asook SA te probeer opbou…Ons kom nou met Zuma 2 gesit het en dan was dit NAG!!!

Tammy ·

Ek het op dag een gese die mense wat glo alles gaan oornag reg wees leef in n droomwereld. Die nuwe president is maar net weer op die ou trein… die trein het slegs n nuwe drywer. Weereens net soos Zuma in die middernag sy skommeling in die parlement bekend gemaak. Wat het verander? NIKS. Dit bly die ANC met ANC streke.

Gerhard ·

Die probleem met ‘n trein is dat die drywer nie bepaal waarheen die trein gaan nie net hoe gou hy daar uitkom.

Koos1 ·

Tammy, ek wil net gou feite regstel oor die middernagtelike term van jou. Almal is reeds teen 17:00 ingelig dat daar 19:30 ‘n belangrike aankondiging gedoen gaan word. Om 19:30 is aangekondig dat dit teen 21:00 gedoen sal word en toe weer dat dit teen 22:00 gedoen sal word. Toe die Prez op die podium verskyn was sy eerste woorde, om verskoning aan te bied vir die vertraging en hy het ‘n verduideliking aangebied. Dis iets wat NOOIT in Zuma se bestaan gebeur het nie! Vergewis jouself asb. met die feite voordat jy kommentaar lewer. Ek verdedig nou die Prez, want soos gewoonlik word feite nie aldag aanvaar nie, maar eerder gevoelens. Skuus as ek op jou tone trap, maar feite is feite.

Grassie ·

Ek wonder of die klomp liberales wat vir Ramaphosa as ‘n soort messias vir die land beskou het nog so seker van hul saak is. Dit lyk vir my hul held het dalk voete van klei.
Iemand het ‘n tydjie gelede in een van die kommentare hier geskryf dat alhoewel Zuma beskou is as die linkervleuel van die ANC en Ramaphosa as die regtervleuel, ons moet onthou dat albei vleuels van dieselfde voël is. Hulle is almal nog deel van die dieselfde ou ANC wat besig is om die land in die afgrond in te bestuur.

Koos1 ·

Grassie, verskoon my as ek positief is, maar dis in my gene. Ek gun elke mens om op ‘n skoon bladsy te begin.
Ek het hoop vir die land, want wat anders bly oor? Ons kan almal nie seer sekerlik oorsee gaan nie, Orania is nie vir my ‘n opsie nie, so wat nou?
En weet jy wat, ek bid elke dag vir ons regering, soos die Bybel ons leer. Ons het gebid vir verandering en God het ons gebede verhoor, en nou verwoes julle die verandering (en God se wil?) nog voordat dit inwerking kan kom????

Gerhard ·

Ai ou Koos, kom ons praat weer oor 4-5 jaar as CR jou wys wie hy is. Doen my net ‘n groot guns en hou op om God as jou persoonlike kneg aan te stel en almal wat van jou verskil as teen God af te maak, asb tog my maat!

Wdp ·

Die Anc soek net stemme om verkiesing te wen. Hopelik sal mense se oë oopgaan en sien dat onbevoegde anc’s nogsteeds in kabinet sit

Jerry ·

Ek stem saam met Koos1 dat CR deur die skeuring in die ANC geforseer word om n balanstoertjie uit te voer deur eers met alle ANC swaargewigte te beraadslaag en wat polities gesproke hom in n wen wen situasie plaas, veral met die oog op 2019. Dit gese, weet CR ook dat hy in onguns sal verval deur te vinnig op te tree teen geimpliseerde staatskapers. Dit is meer voordelig vir CR en miskien ook vir politieke stabiliteit om die kommissies kans te gee om hulle ondersoeke af te handel en dan die gereg toe te laat om sy gang te gaan. So sal hy in elk geval van die geimpliseerde staatskapers in sy kabinet van ontslae raak. CR is die land se leier en hy wys goeie intensies, dus sou ek se gee die man n billike kans. Tweedens sou ek se dat as daar ooit n tyd was om n hand van vriendskap na n magshebber uit te reik en te beding vir waarborge vir selfbeskikking en volkstaat, dan is dit nou die tyd. Inteendeel, dit moes al suksesvol afgehandel gewees het en die vraag is dus, waarom waarborge vir selfbeskikking en volkstaat nog nie voor beding was nie? Sonder waarborge sal meeste inisiatiewe, soos deur Afri-Forum en Solidariteit geloods uiteindelik deur wysigingswette nul and void verklaar word. Word wakker Solidariteit en Afri-Forum en voer die mandaat om te beding vir waarborge vir selfbeskikking en volkstaat uit wat julle gevra en gekry het van julle lede.

Veritas ·

Die VF+ verkeer onder die wanindruk dat CR by hulle aangesluit het. Moenie ‘n fout maak nie, die ANC het net van vere verander en nie van kleure nie.

SjN ·

Selfde party en waardes nog steeds , sal en kan nie oornag verander nie, CR gaan n baie moelike taak he om almal tevrede te stel.

Magda du Preez ·

Ons het altyd gewonder oor CR maar nou weet ons. Iemand/iets hou hom bietjie vas! Kom DA laat ons nou aan die werk spring…

Boer ·

Ek het vir julle nuus….hy wil nie die land op bou nie!
Hy/hulle wil alles waarvoor jy jou lewe lank gewerk het (en my grond) vat en onder “the people” verdeel.
Word wakker!

Bettie ·

My opinie, hier is dit ‘n geval van “give them rope to hang themselves” vir sommige van die ministers!

Gerhard ·

Dit klink my hier is baie mense wat redeneer oor wat gister op die spyskaart was. Vandag is grondonteiening sonder vergoeding op die spyskaart mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.