VF Plus-parlementslid en vrou tuis beroof

Wouter en sy vrou Tammy op hul troudag. Foto: Facebook

ʼn Parlementslid van die VF Plus, Wouter Wessels, en sy vrou, Tammy Wessels, lid van die Vrystaatse wetgewer, is Woensdagaand in hul huis in Bloemfontein beroof.

Die vermoede bestaan dat die doel van die rooftog was om data te bekom wat inkriminerend teen sekere persone kan wees.

ʼn Onbekende aantal rowers het toegang tot die huis verkry deur vermoedelik ʼn middel te gebruik wat die Wessels-egpaar hul bewussyn laat verloor het.

Die egpaar is van hul selfone, skootrekenaars en hardeskywe beroof, waarvan sommige items later in ʼn oop veld in die stad gevind is.

Lt.kol. Moses Qovane, woordvoerder van die polisie, die voorval bevestig. Volgens Qovane is daar ses skootrekenaars, ’n selfoon en ’n tabletrekenaar gesteel.

“Die foon is nagespoor en van die gesteelde goedere is Donderdagoggend in die Navalsig-omgewing teruggevind.” Die polisie ondersoek ʼn saak van huisbraak.

Armand Cloete, VF Plus-woordvoerder in die Vrystaat, het gesê die party sluit nie die moontlikheid uit dat die rooftog polities gemotiveerd kan wees nie, aangesien dit wil voorkom of slegs toerusting wat belangrike dokumente en data stoor, gesteel is.

“Hierdie moontlikheid word versterk deur die feit dat die voorval plaasgevind het slegs ʼn week nadat Tammy ʼn klag by die openbare beskermer (OB) ingedien het oor moontlike tenderbedrog in die Vrystaat.”

In nog ʼn voorval in Februarie vanjaar is dokumente uit die huis van die Vrystaatse LUR vir finansies, Elsabé Rockman, gesteel.

Cloete het gesê wanneer politici beroof word van toerusting wat inligting van openbare belang bevat, word die oorsigrol van openbare ampsbekleërs aangetas.

“Rooftogte by woonhuise is een van die sogenaamde trio-misdade in Suid-Afrika wat wyd-algemeen voorkom en een wat die meeste deur gewone landsburgers gevrees word. Hierdie soort misdaad raak almal in die land en die regering bied geen werkbare oplossing om dit te bekamp nie.”

Die VF Plus het die polisie bedank vir hul flink optrede ná die rooftog by die Wessels-egpaar en doen opnuut ʼn beroep op die publiek om alle maatreëls moontlik te tref om seker te maak hulle word nie slagoffers van die groeiende voorkoms van misdaad in Suid-Afrika nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

wraggies ·

Die OB is mos self’n eks-spioen, baie gerieflik vir die beskuldiges as klagte by haar ingedien word.

Frik Lotz ·

Hoop die misdadigers word gou vasgetrek. Ons land het verval in n moeras van misdaad en daar is nerens meer morele waardes, respek en dissipline nie. Sterkte aan Wouter en Tammy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.