VF Plus-lid bedank ook oor party se grondwet

Anco Barker (Foto: Facebook)

Nóg ʼn lid van die VF Plus het bedank oor sekere klousules in die party se grondwet.

Anco Barker, ʼn voormalige DA-raadslid in Mosselbaai wat minder as ʼn jaar gelede by die VF Plus aangesluit het, sê dié party se grondwet fokus uitsluitlik op die bevordering van Afrikanerbelange.

Barker, wat na haarself as ʼn wedergebore Christen verwys, sê ander gemeenskappe word in die grondwet uitgelaat op grond van hul taal- en kulturele erfenis. “Aangesien God die skepper van alles is, kan ek my nie skaar by ʼn party wat sekere mense uitsluit nie.”

Barker sê sekere klousules in die VF Plus se grondwet weerspreek dié party se godsdienstige beginsels. Dit sluit in artikel 18 wat onder meer lees dat Afrikanervolkseenheid bevorder moet word.

Barker is ook ongemaklik met artikel 19 wat bepaal dat die sogenaamde gevegsvlag van die voormalige Boererepublieke, tans bekend as die Vryheidsvlag van die Afrikaner, die amptelike vlag van die VF Plus is.

“Ek kan nie ʼn simbool onderskryf wat ongelykheid en onderdrukking verteenwoordig nie,” het sy gesê.

Barker sê hoewel sy politieke partye se keuses respekteer, sy nie “uitsluiting” op grond van kultuur en ras goedpraat nie.

Volgens die VF Plus steek daar egter meer agter die besluit.

“Anco het deelgeneem aan die plasingsprosedure vir die komende verkiesing en het nie hoë posisies op die party se lyste bereik nie. Dit is nie toevallig dat sy nou, nadat sy nie goed gevaar het in die plasingsproses nie, skielik ʼn probleem met die grondwet van die party het en dit aanvoer as die rede vir haar bedanking,” sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en nasionale woordvoerder van die party.

Wouter Wessels, Pieter Groenewald en Pieter Mulder. Foto ter illustrasie van die VF Plus. (Foto: Verskaf)

Barker se bedanking volg kort ná dié van adv. Lennit Max.

Maroela Media het Woensdag berig Max stem ook nie saam met die VF Plus se grondwet nie en sê hy kan hom nie met die party se grondwet vereenselwig óf met ʼn skoon gewete bruin en swart mense vra om die VF Plus te ondersteun nie.

Max, eens ʼn spesiale raadgewer van die minister van polisie, verwys spesifiek na die party se doelstelling wat onder meer lui dat die VF Plus onherroeplik verbind is tot die verwesenliking van veral die Afrikaners se reg op selfbeskikking, asook die handhawing, beskerming en bevordering van hul regte en belange.

Hy sê dit blyk uit artikel 3 van die party se grondwet dat die Afrikaners se reg op selfbeskikking voorkeur kry bo dié van enige ander gemeenskap.

Die VF Plus ontken egter dat sy grondwet uitsluitlik op die bevordering van Afrikanerbelange fokus en dat daar geen voorsiening gemaak word vir die beskerming en bevordering van die regte van enige ander gemeenskap nie.

“Dit is onwaar dat die VF Plus persone of gemeenskappe uitsluit op grond van ras en etnisiteit. Alles behalwe. Die groeiende steun wat die party vanuit verskillende gemeenskappe ervaar, spreek daarvan,” sê Wessels.

Hy sê die toename in diverse kandidate en verkose ampsbekleërs dien ook as bewys van die party se inklusiwiteit.

“Die VF Plus het ʼn beleid en manifes wat oplossings bied en waarby verskillende gemeenskappe aanklank vind.

“Anco verwys na sekere artikels in die grondwet van die party buite konteks en noem nie dat die dele waarna sy verwys die stigtingsgrondslag is nie. Die party is in 1994 gestig. Oor die drie dekades het die politieke spektrum verander. Die waardes en beleidstandpunte van die party het standvastig gebly terwyl die party wel namate die omstandighede verander het, die nodige natuurlike evolusie ondergaan het.”

Volgens Wessels is die party se doelstelling reeds in 2013 aangepas ter bevordering van inklusiwiteit en die regte van alle gemeenskappe. “Die stigtingsgrondslag was wel die grondslag en kan nie verander word nie.

“Anco is ook verward oor watter vlag daarna in die grondwet verwys word. Sy verstaan die vlag, die herkoms daarvan en die simboliek, verkeerd,” sê Wessels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Delia ·

Ja wat so staan geen politici saam. Almal wil op sy eie mishoop kraai en die gemeenskap wat hulle salarisse indirek betaal, sowel ons alle vorme van belasting, suig aan geen speen, nie eers die agterste een.

George ·

VF is op truecaller as span meer as 1000 keer aangeteken, en eks trots een van daai 1000

Papsak ·

Ag laat hulle gaan as hulle niks voel vir grondwet of SA of vir ons nie bye bye dan gaan hulle maar want hulle kan nie saam staan nie dankie vir nulle wat op staan vir grondwet waardeur want alles wil die ander mos verniet vat of he bravo vir julle wat op staan !!!!!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Onmin binne die VF Plus. Eintlik maar ‘n binnelandse party. Maar dis goed om te sien dat Mulder ons afstigting steun. Kom ons hoop hy is ernstig.

Oosieoos ·

Stem saam Delia en kyk maar hoe het hulle al van een na die ander party gespring. Duidelik waar die probleem lê ook maar beter as die dwarstrekkers gaan

melaney ·

Party mense gebruik sleutelwoorde soos “Christen” en “Bybel” om hulself te verhewe in die oë van ander. Ek weet van ‘n paar mense wat goed aangejaag het, maar die dag van die hofsaak dra hulle ‘n Bybel saam. Wees maar versigtig vir diesoort.

Vrijburger ·

Ai tog, foeitog, die ‘beroeps’ politici darem. Sekerlik moes hulle die grondwet van die party gelees het voor hulle aangesluit het?

Grens ·

Die VF steun aborsie in hulle manifes, geen wonder sy loop nie.

Hendrik ·

Sy moes seker haar navorsing gedoen het voordat sy by die VF+ aangesluit het. Wonder waarheen is sy nou oppad?

versigtig101 ·

En sy het nie die grindwet gelees toe sy n jaar terug aangesluit het nie? Besluit om te wag tot voor die verkiesing….

melaney ·

Het die VF+ so iemand nodig om die party vorentoe te neem?

Amelia ·

Stem saam ons wil selfbeskikking he en wat is verkeerd met die Vryheidsvlag Sy besef ook nie die ongelykheid en onderdrukking van die minderheid nie ai miskien moet sy geskiedenis naslaan maar nou ja glo nie fv gaan trane oor haar huil nie

Marnelle ·

En dit is hoekom die Afrikaner nie kan saamstaan nie… Nie eers Julius is so katterig met Cyril nie… Plus ek is bekommerd dat iemand wat so graag in die parlement wil wees, nie kan lees nie….. Het sy nie die grondwet gelees voor sy aangesluit het nie?

Di ·

Was eers lid van die DA, toe VF Plus, dalk moet sy nou maar die EFF probeer

Leon ·

Die Antie weet self nie wat sy wil he nie. Die EFF is al wat vir haar oorbly. Sy sal nie te sleg lyk in n oranje oorpak nie. Carl sal haar met ope arms verwelkom.

Gerhardus ·

Dis net snaaks dat die grondwet hulle noú skielik pla, maar tot nou toe het hulle nie ‘n probleem daarmee gehad nie. As “wedergebore Christen”, kon sy mos al “nee” gesê het, vóórdat sy by die party aangesluit het. Het sy noú eers agtergekom wat in die grondwet staan?

Dis alles politieke speletjies. ‘n Mens kan oor die algemeen nie ‘n politikus vertrou nie, maar ‘n politikus wat tussen partye rondspring, kan nog mínder vertrou word.

Jaco ·

Palestina veg al dekades vir selfbeskikking. Suid Sudan, Kosovo, Eritrea, Oos Timor het almal hulle selfbeskikking gekry en niemand kla daaroor nie. Selfs die ANC steun Rusland se poging om selfbeskikking vir die Russiese minderheid in die Oekraïne te kry. Maar as Afrikaners vra vir selfbeskikking, dan is dit skielik rassisme en apartheid. Hoe dan nou???

Jackie ·

Ek dink dat die neerhalende wyse waarop die VF+ na die lede wat bedank het verwys, die party nie eer nie. Bedank hulle liewer vir bydrae terwyl hulle lede van die party was en wens hulle alle sukses vir die pad vorentoe toe. Ek glo die VF+ onderskryf die beginsel van vryheid van godsdiens, vryheid van assosiasie en vryheid van spraak 100%. Daarmee saam behoort medemenslikheid en goeie maniere en diplomasí ook agterweë gelaat word nie.

Gert ·

Totsiens dame. Jy sal seker beter pas by die ander partye wat ook net na hul eie mense se belange opsien. …oeps jammer dit sal weer ook nie vir jou werk nie. Gaan sit maar op die draad. Ek reken daar was ook Israeliete gewees wat nie uit Egipte wou trek nie. Waar is hulle nou?

Althes ·

Ek stem, dit is baie verdag dat sg professionele mense noú kort voor die verkiesing bedank by VF nadat hul konsuis nie hul vereenselwig met grondwet nie.

Miranda ·

Gaan slaan die geskiedenis na, asb. Dame. Wie was d onderdruktes toe die vlag ontwerp en aangeneem is? Die Afrikaner! Maar die arme Afrikaner is mos die slegste ding denkbaar! Ek is siek en sat daarvoor dat ons altyd moet verskoning maak vir wie en wat ons is – as jy nie van die VF Plus hou, sluit dan by n ander party aan waarmee jy jou 100% kan vereenselwig. Jy het nie nodig om die party eers verdag te maak nie!

Goldy ·

Nog n FW of kortbroek van schalkwyk. Geen toekoms vir haar in politiek nie.

Leeubekkie ·

Oi wei!
Afrikaners kon nog nooit saamstaan nie….sê ek tot my bittere spyt.
Van die Groot trek af alreeds….
Trots Afrikaans.

Nici ·

Het sy nie die party se grondwet gelees voordat sy aangesluit het by hulle nie?

Eugene ·

Nou wonder ek maar net hoekom is sy by die DA weg. Lyk my iemand se kop kan nie besluite neem nie. Sy sal seker nou by een van die afbreking partye aansluit en help om die land tot op die grond tot niet te maak.

tweeling ·

Die grondwet is al lank staande so hoekom nou eers reageer of vat jy so ank om te lees. Lennit Max lyk my is ook so.

piet ·

VF+ is maar eintlik ‘n kombinasie van KP/HNP/AWB-lite. In daai party kry jy die volle spekrum van gematige regses tot heel verregses (AWB tipes). Dis laasgenoemde groepering wat maak dat ek nooit VF+ sal stem nie.

Cherokee ·

Grens, moet nou nie grens daaroor nie, maar nêrens het ek raak gelees waar Anco jou aanstel as haar woorvoerder nie.

Danie ·

Ek het n groot probleem met wedergebore christene. Dit wil vir my voorkom dat as jy nou wedergebore word dan verdwyn alles waarvoor jy gestaan het en word dit nou as onheilig oneerbaar of een of ander sonde genoem. Alles om jou verander die moordenaars, diewe, verkragters word nou almal beklee met n liefdes baadjie. As dit is wat met wedergebore christen gebeur dan wil ek nie een wees nie. In my boek is n wedergobere Christen iemand wat n verhouding het met Jesus Christus wat sy rug op sondes draai as persoon en streef na Heiligmaking. Dit is nie iemand wat nou sy rug op haar eie draai en nou teenstaan nie. Die VF+ staan vir almal. Elke ras , volk, nasie wat jy hulle wil noem het n reg op bestaan en daarom staan hul vir die Afrikaner op net soos wat die Zulu vir sy mense opstaan en die I ndier vir sy mense. Nerens se die VF+ dat andere het geen bestaansreg nie maar wat nou gebeur is ek word wedergebore en van vandag af is ek Joseph my tuinier se broer . Nee ek het my kultuur en hy het sy kultuur maar nou wil wedergeborenes die kulture vermeng dan gaan dit soos ons volkslied wat n mengelmoes van tale is.

Goldy ·

Anco vergeet so bietjie wat die ander partye met Christenskap op skole en by PU vir CHO gedoen het. Goudvisgeheue.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.