VF Plus sê minimumloon sal landbousektor vernietig

Argieffoto (Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Die minister van arbeid se ondeurdagte verhoging van die minimumloon, veral met betrekking tot plaasarbeiders, gaan nie tot werkskepping of die verlaging van werkloosheid lei nie. Die teenoorgestelde gaan gebeur, meen Tammy Breedt, die VF Plus se woordvoerder oor landbou.

Die vraag wat die ANC-regering nie verstaan nie, is nie óf boere die minimumloon wil betaal nie, maar of hulle dit kán betaal, het sy in ʼn verklaring gesê.

“Landbou is die enigste sektor in die ekonomie wat tydens die pandemie gegroei het hoofsaaklik weens ʼn hoër produksie van diere- en tuinbouprodukte en veldgewasse. Dit is egter relatief tot groei in die totale bedryf en is daarom nie werklik ʼn maatstaf vir die bekostigbaarheid van ʼn buitensporige minimumloon-verhoging nie.”

Volgens haar kan die ANC ook in gedagte hou dat sowat die helfte van die totale aantal boere in die land ʼn jaarlikse omset het van minder as een miljoen rand. Dan kan beswaarlik van enige wins gepraat word.

“ʼn Enkele minister se inkomste is dubbel die inkomste van die helfte van die land se boere. Dan het hulle nie twintig of dertig werkers om te betaal met ʼn verhoging van 16% op hande nie. Hulle het nie veevrektes, peste in hul gewasse, droogtes of ʼn hoë insetkoste om hul inkomste te genereer nie. En boere betaal ook belasting.”

Onder druk van die ANC het Suid-Afrika afgeskuif tot 69ste plek op die lys van internasionale voedselsekuriteit. Die rooi ligte begin flikker, en tog plaas die ANC-regering al hoe meer druk op die landbousektor.

“Boere betree reeds die fase waar hulle geen keuse het as om toenemend hul aktiwiteite te meganiseer of om die handdoek in te gooi nie, veral kleinboere met ʼn omset van minder as R300 000 jaarliks. Hierdie kleinboere maak die meerderheid uit van die 50% boere met ’n omset van minder as ʼn miljoen rand per jaar. Die beeld in die ANC se kop dat alle boere ryk is, is ʼn blote illusie.”

Sy sê die regering moet kennis neem van die meganisering wat tans in Brasilië se landbousektor plaasvind ten koste van hande-arbeid. Daar is reeds ʼn situasie van groter plase, groter produksie, groter winste en natuurlik minder werkers.

“Suid-Afrika se landbouers is nie almal ryk nie. Almal kan nie ʼn verhoging van 16% vir arbeid bekostig nie. Die ANC gaan hierdie sektor breek met sy optrede en dan kan die land maar sy deure sluit. Sonder kos boonop. Met die stygende prys van elektrisiteit, water en brandstof, kan ʼn skerp verhoging in arbeidskoste nie bekostig word nie. Die onmiddellike keuse is óf bankrotskap óf ʼn vermindering van werkers. Die keuse spreek vanself.

“ʼn Regering wat vir sy landbou sorg, sorg vir sy toekoms. Ook hierdie keuse behoort voor die hand liggend te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

Vlak in die dak! Laat die werkers gaan bakhande staan by Cyril en kaders. Gaan my gesonde verstand te bowe dat hulle dit nie verstaan nie, maar ja gaan kyk na die redenasie vermoë eish

Piet

Om ‘n werker R176 ‘n dag te betaal gaan nie die landbou sektor vernietig nie.

Pieter

Man jaag die goed weg dan kan die ANC vir ouer people werk gee.

Willem

Die ANC kry mos hulle kos in die winkel. Kom nie van die boer af nie

Frederik C

Die VF Plus moet verstaan dat die huidige minister van arbeid nie eers die verskil tussen ‘n dam en ‘n swembad kan uitpluis nie. Hoe gaan hy die verskil tussen werkloosheid en werkskepping verstaan ??