VF Plus sê oor Nasionale Dag van Aksie

‘n Optog teen pres. Jacob Zuma in Pretoria (7 April 2017). Foto: Maroela Media

Die VF Plus het Dinsdag verduidelik hoekom hy besluit het om nie sy stem by die meeste ander opposisiepartye te voeg vir die sogenaamde Nasionale Dag van Aksie teen pres. Jacob Zuma wat Woensdag sal plaasvind nie.

Leiers van die EFF, die DA, UDM, ACDP, IFP, Agang SA, Cope, African Independent Congress en die African People’s Convention het Maandag ʼn gesamentlike mediakonferensie gehou om hul planne bekend te maak vir die Nasionale Dag van Aksie (NDA) wat vir Woensdag 12 April beplan word. Dit is dieselfde dag wat Zuma sy 75ste verjaardag sal vier.

ʼn Massaprotesoptog sal in Pretoria vanaf Kerkplein tot by die Uniegebou gehou word om te eis dat Zuma uit sy posisie as president verwyder word. Volgens die opposisiepartye wil hulle die regerende party dwing om Zuma te herroep, óf genoeg druk op Zuma plaas om hom te dwing om “die eerbare ding te doen” en te bedank.

UDM-leier Bantu Holomisa het tydens ʼn vraag-en-antwoord-sessie gedurende die konferensie gesê die NFP het vroeër die oggend aangedui dat hulle ook die dag sal ondersteun, maar daar was ten tyde van die konferensie nog geen terugvoer van die VF Plus of die PAC nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hoewel die party nie beswaar teen die voorgenome optog Woensdag het nie, moet daarteen gewaak word dat te veel optogte nie veroorsaak dat die protesaksies hul trefkrag verloor nie.

“Optogte wat spontaan vanuit die burgery ontstaan en plaasvind, dra ook veel meer gewig as wanneer politieke partye optogte reël aangesien die ANC aksies wat deur politieke partye gereël is, as blote politiekery sal beskou en dit so sal afmaak,” het Groenewald gesê.

“Wanneer die burgery egter spontaan in opstand kom, sal die ANC-regering dit nie so maklik as onbenullig kan afmaak nie en sal hy kennis moet neem van die probleem. Die VF Plus doen daarom ook ʼn beroep op veral kerk- en geestelike leiers om leiding te neem waar die morele verval in die ANC sterk aangespreek moet word.”

Hy het gesê die VF Plus het wel Vrydag aan die Save SA-optog deelgeneem, een van die talle optogte wat landwyd gehou is om te eis dat Zuma uit sy pos verwyder word. Zuma het Maandag tydens sy toespraak by die gedenkdiens van die struggle-veteraan, Chris Hani, die optogte afgemaak as “ʼn bewys dat rassisme steeds ʼn werklikheid in Suid-Afrika is”.

Groenewald het gesê die VF Plus sal wel die mosie van wantroue teen Zuma, wat op 18 April in die parlement gedebatteer sal word, steun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Dirk ·

As politieke party, beteken die VF Plus maar min. Hulle besluit om nie deel te wees van die NDA wys maar net hoe inkonsekwent hulle werklik is. Dok Groenewaldt moenie worry nie. Ons sal die VF Plus (of is dit nou die VF Minus?) nie mis nie. Hulle is in elk geval te klein om ‘n verskil te maak.

Chekoree ·

Dankie VF plus dat julle vir die minderheid (blankes) opstaan en veg vir die Afrikaner al is die massas soveel meer en dan nie eers te praat van die “ja stemmers” wat ook teen julle is nie!

Johanna Botha ·

Ons sal ongelukkig nie daar kan wees nie maar ons het almal 10 plakkate by die werk geprint wat ons vanaand gaan opsit in die area wat ons bly. Dit gaan ons bydrae wees vir more.

Ondersteuner ·

Goeie besluit want dit gaan zuma se redenasie dat hierdie optogte rasgedrewe is nie verder ondersteun nie.

KarenG ·

Ek probeer regtig baie hard om te verstaan hoe Zuma kan se hierdie is rassisme. Die man leef in absolute ontkenning!!

Nico K ·

Ek stem saam met die VF plus. As verlede week se optog nie vir Zuma oortuig het om te bedank nie, wat gaan hierdie week se optog help. Ek weet julle gaan sê hulle probeer darem, maar Zuma gaan hom nie aan optogte steur nie.

Afrikaanse Knaap ·

Ek dink hoe meer mense gaan hoe beter. Hierdie ding is groter as ‘n politieke party en sy sieninge.
As die VF Plus, Solidariteit en AfriForum nou uiteindelik woord by die daad sit, en “veg” vir my regte, en ‘n jaarlikse wettige nasionale staak dag in stel teen BBBEE en AA, sit ek onbetaalde verlof in.

Gee krag ·

Nico k een optog gaan nie help nie. Maar 20 sal dalk. Want dan sien die massas maar die optog gangers kom niks oor en nog minder gaan hulle oorkom as hulle oor 2 jr vir ander party stem as ANC. Dis wat moet gebeur. Die ANC moet totaal verslaan word. Hulle is die opstokers en moordlustige. Almal anders kan optogte in die allergrootste vrede hou. ANC was enigstes wat lelik opgetree het

Bruno Stef ·

Dit is baie jammer VF+ ek het vir jare julle ondersteun maar as dit julle houding is sal ek en my gesin maar glad nie weer enige party ondersteun nie.Ek en my gesin is ten gunste van eenheid in n geval soos die MAW ” Die doel heilig die middele”

Gerhard ·

Solank die ANC weet dit is ander partye se kiesers wat betoog sal daar nie teen Zuma opgetree word nie en vergeet maar daarvan dat hy self sal bedank. VF+ is reg.

Wouter ·

Vir die res van Suid Afrika is dit beter dat Zuma aanbly tot sy termyn verstyk het. Dit is n groot gatslag en skeuring vir die ANC en hulle ondersteuners sal oorloop na EFF en DA. Gerrie Nel moet hom net doohou en sekermaak hy steel nie nog geld nie.

Grassie ·

Ag nee tog, magties, ons gewone plebs kan mos nie verwag dat hierdie hooggeplaasde VF+ mense hul koel lugversorgde kantore verlaat om saam met gewone mense voet te slaan vir ‘n nietige sakie soos Zuma se presidentskap nie. Het ons dan nie respek nie? Maggentag!

Loeis ·

Grassie, VF+ se leierskap en verekeie ondersteuners het Vrydag gestap.

James ·

Vir diegenes wat Groenewald veroordeel – die volgende:

1. Julle weet natuurlik die EFF is betrokke by die optog, en dat die kanse vir geweld groot is?
2. Jy moet jouself mooi afvra of jy saam met die EFF in ‘n optog wil wees.
3. Wat Groenewald NIE se nie – (want hy mag nie want hy is wit) – is dat daar dalk bloed kan vloei more – en hy wil nie verantwoordelik wees vir die dood/besering van mense nie.

Gaan “march” more as jy wil – moenie dat die VF+ jou keer nie….maar dink MOOI…

Wouter ·

More se betoging gaan nie oor party-politiek nie. Die mense wat deelneem stem saam Zuma moet verwyder word. Die VF++ is in elk geval onbenullig so maak nie eintlik saak nie, maar hul houding stink. Hierdie houding sal die vf++ net meer marginaliseer.

Bullseye ·

Stem saam james..die mense moet besef..ons moet ons hier liewer hier uithou..

Wouter ·

James, dis nie die rede wat Groenewald aanvoer nie. So iemand lieg.

Chrisjan ·

Witmense bly weg daar! Ons getalle kan geen verskil maak nie, laat die afrikane hul president uitsorteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.