VF Plus verwelkom Gordhan se optrede by Transnet

Transnet-pensioenarisse het op 24 April 2014 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om ‘n beswaarskrif te oorhandig. Foto: VF Plus

Die VF Plus het gesê hy verwelkom dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, besig is om uiteindelik huis skoon te maak by Transnet, maar meer werk wag om die skoonmaakproses deeglik te doen.

“Daar moet daadwerklik teen korrupte amptenare opgetree word. Amptenare wat bedank het alvorens klagtes van korrupsie en misdrywe ondersoek is, moet steeds vervolg word,” het Anton Alberts, woordvoerder van die party, in ʼn verklaring gesê.

“Die minister moet ook spoedig aandag gee aan Transnet-aangestelde trustees op die Transnet Pensioenfonds (TPF) en die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds (TTVVF) wat tans in ʼn groepsgeding gewikkel is en hulle moet vervang word met trustees wat met verantwoordelikheid en goedgunstigheid optree teenoor Transnet se pensioenarisse.”

Alberts het verduidelik die voorsitter van Transnet se direksie, Linda Mabaso, die finansiële hoof en uitvoerende direkteur, Garry Pita en nog twee nie-uitvoerende direkteure het die afgelope paar weke bedank voor ʼn vergadering met die departement van openbare ondernemings.

“Dit is duidelik dat hulle geswig het voor die druk van Gordhan se optrede. Hy het skerp kritiek op huidige direksielede gelewer deur te sê onder dié direksie se toesig het Transnet in ‘ernstige bewerings van blatante korrupsie en staatskaping verstrengel geraak’,” het Alberts bygevoeg.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, en Alberts, in sy amp as voorsitter van die party, gaan Gordhan binnekort spreek oor ʼn moontlike skikking in die groepsgeding asook oor die skoonmaak van die raad van trustees. “Die minister sal in besonder gevra word om onmiddellik meer van Transnet se surplus-fondse beskikbaar te stel aan die pensioenarisse as dringende interim finansiële verligting.”

Lees alle vorige berigte oor die Transnet-pensioenarisse op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

humor ·

Hoe is dit dan dat hier geen kommentaar gelewer word nie, Die hele land…. Stem VF Plus!!!!!!!!!!!!!!!

Lana ·

humor, wanneer dinge reg loop of in die regte rigting gaan, lewer mense nie sommer kommentaar. Dis wanneer ‘n mens sien iets gaan groot verkeerd wat jy dadelik begin met kommentaar.

zoom zoom ·

Word Gordhan bo en behalwe sy salaris as minister ook nou nog fie R20 per uur betaal om as skoonmaker by Transnet te werk.

Peet J ·

Baie dankie VFplus , die aangeleentheid het nou wel lank geneem en baie van ons kollegas is al oorlede maar ek weet van hulle gades lewe nog, kyk maar op Anton Alberts se FB hy het gereeld terugvoering gegee, onthou baie van ons pensioenarisse beskik ook nie oor internet nie en kan nie kommentaar lewer nie. Dankie ook aan die prokureursfirma wat die klasaksie vir ons pensioenarisse teen Transnet opgeneem het. Lank lewe VFPlus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.