VF Plus verwelkom stappe oor munisipale bestuurder se salaris

Wyle Stanley Khanyile (Foto: Sedibeng District Municipality)

Die VF Plus sê hy verwelkom die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, se besluit om op te tree teen raadslede van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit wat ten gunste was van die salarisaanpassing van die munisipaliteit se voormalige munisipale bestuurder, wyle Stanley Khanyile.

Khanyile het ʼn salaris van R1,8 miljoen per jaar ontvang terwyl die pos vir R1,2 miljoen per jaar geadverteer is.

Khanyile het egter die verhoogde salaris vanaf 2018 tot sy skietdood verlede maand ontvang.

Hy is op 3 Oktober in ʼn voertuig wat by ʼn winkelsentrum op die hoek van Hennie Albertsstraat en Michellelaan in Meyersdal geparkeer was, doodgeskiet.

Khanyile sou ook verlede maand in die hof moes verskyn op aanklagte van geldwassery, bedrog en diefstal wat verband hou met ʼn multimiljoenrand-projek in die Oos-Kaap toe hy ʼn departementshoof in die provinsie was.

Die VF Plus sê nou dit is “onrusbarend dat die buitensporige salaris nooit onder die aandag van die relevante oorsigkomitees van die Gauteng-wetgewer gebring is om dit betyds te pak nie”.

Amanda de Lange, ʼn lid van die VF Plus in die Gautengse wetgewer, sê die party gaan daarop aandring dat die Sedibeng-raadslede wat in die verslag betrek word by onreëlmatige en ongemagtigde besteding terwyl Khanyile as munisipale bestuurder gedien het, aanspreeklik gehou word. Die party eis ook dat die geld aan die munisipaliteit terugbetaal moet word.

“Raadslede word deur die gemeenskap verkies om hulle in munisipale rade te verteenwoordig en moet ten alle tye aanspreeklik gehou word vir hul dade.

“Dit is onredelik dat belastingbetalers moet opdok vir amptenare en raadslede se wanbesteding en korrupsie en daarom sal die VF Plus nie huiwer om ongerymdhede aan die kaak te stel nie.”

Die Sedibeng-distriksmunisipaliteit sluit die Emfuleni-, Lesedi- en Midvaal-munisipaliteit in Gauteng in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Baie Suid-Afrikaners verdien nie eers soveel in ‘n leeftyd nie. Ironies.

Androclus

Hulle voel vere vir jou ander een,solank hulle net bo uit kom.

Suzette

Miskien moet die VF Plus kom kyk wat in Bloemfontein aangaan – salaris gewys, oorbodige aanstellings ens. Daar is nou ‘n “regrukker” aangestel, maar hy kry nie veel reg geruk nie. Alles verloop soos voorheen….

Sarel

Ek het al die vraag gevra maar geen antwoord nog gekry nie. Hoekom was die man ooit aangestel??

Kokerboom

Die gelde kan verhaal word van sy boedel. Hy was inherent nog skelm ook. Die konstante rowery en bedrog word ooglopend toegelaat. Wat doen betrokke minister?