VF Plus vra Maties: Stel Afrikaans bo politiek

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. (Foto: VF Plus)

Afrikaans behoort aan die mense wat die taal praat, nie aan die VF Plus, die DA, die DAK-netwerk, AfriForum of Studenteplein nie en Afrikaans behoort nie aan die Universiteit Stellenbosch nie.

So het die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, Maandag aangevoer in ’n noukeurig bewoorde voorlegging voor die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se ondersoek na klagtes oor die gebruik van Afrikaans in private gesprekke aan die Universiteit Stellenbosch.

Dit is die VF Plus wat op 8 Maart vanjaar ’n klag by die MRK ingedien het nadat mediaberigte verskyn het oor studente aan die universiteit se bewerings dat hulle verbied is om Afrikaans in private gesprekke met mekaar te praat.

Groenewald het ten sterkste benadruk dat Afrikaans op die kampus nie verpolitiseer moet word nie en dat die MRK eerstens alle feite bo alle twyfel moet vasstel omdat sommige weergawes met mekaar bots.

Die VF Plus-leier het benadruk dat sy party nie die taal wil politiseer nie, en het aangevoer dit is die universiteit wat by monde van die rektor, prof. Wim de Villiers, die kwessie verpolitiseer het.

Prof. Wim de Villiers. Foto: US

Groenewald het voorts gesê selfs waar die beweerde afdwing van Engels nie strook met die universiteit se beleid nie, is dit die gevolg daarvan dat daar nie met dieselfde spoed en strengheid opgetree word teen diegene wat die taalbeleid oortree as teen diegene wat ander aspekte van die universiteit se beleid en reëls oortree nie. ʼn Spesifieke klimaat en kultuur word dus volgens die VF Plus deur die universiteit geskep, met ’n onderskeid tussen wat in teorie beweer word en wat in die praktyk plaasvind.

As voorbeeld is ’n beweerde maandelange vertraging met die hantering van ’n klagte van die Francie van Zijl-koshuis op die universiteit se Tygerberg-kampus in Bellville, wat gehandel het oor beweerde taaldiskriminasie. Dit is gestel teenoor die universiteit se onmiddellike optrede rakende die klagtes in die verlede betreffende die destydse aktivistiese organisasie Open Stellenbosch, die sogenaamde “blackface”-voorval by die koshuis Heemstede, en ’n spoedige distansiëring deur die universiteit van ’n politieke stelling deur ’n eertydse universiteitsraadslid, Piet le Roux (tans van Sakeliga), teen die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande.

Wat die belangrike toets van grondwetlikheid betref, het die VF Plus aangevoer dat, as die bewerings korrek sou wees, dit sou neerkom op die verbrekings van artikels 14 (die reg op privaatheid), 9 (die reg op gelykheid) en 30 (die reg op taal en kultuur).

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

In die lig van die erns, aard en omvang van die bewerings het die VF Plus die volgende agt versoeke aan die MRK gerig:

* Dat die MRK voortgaan met die bevestiging dat die ondersoek wat van stapel gestuur is na aanleiding van klagtes soos uiteengesit, sal poog om die omvang van die verbod op Afrikaans vas te stel;

* Dat die ondersoek nie beperk word tot die omvang van die verbod op Afrikaans nie, maar die omvang van die kultuur van vyandigheid teenoor Afrikaanssprekendes by die Universiteit Stellenbosch moet insluit;

* Dat ondersoek ingestel word na die beweerde lakse hantering van klagtes deur die universiteitsbestuur in hierdie verband;

* Dat ondersoek ingestel word na die redes vir beweerde dubbele standaarde wat toegepas word deur die universiteitsbestuur in terme van die straf van diegene wat opdragte gegee het dat daar ’n verbod op Afrikaans in private gesprekke moet wees;

* Dat vasgestel word hoe diegene wat ’n verbod op Afrikaans geplaas het, hul optrede geregverdig het;

* Dat vasgestel word watter stappe in die praktyk deur die universiteit gedoen word om gelyke behandeling van Afrikaans met Engels te verseker;

* Watter stappe gedoen is om diegene wie se regte geskend is, om verskoning te vra; en

* Dat, wanneer die MRK sy ondersoek, soos versoek, voltooi het, die feite aan die VF Plus beskikbaar gestel word, waarop die party dan geleentheid gegun sal word om voorstelle in te dien, alvorens die finale verslag vrygestel sal word.

Die voorleggings aan die MRK duur Dinsdag in Stellenbosch voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Samuel ·

Die kwessie van Afrikaans se minagting by die US, is hartseer. Die vraag is of die US dieselfde pad gaan loop as sommige Nederlandse Universiteite waar Engels die algemene voertaal geword het? Skaam prof de Villiers hom vir sy Afrikaanse herkoms?

Di ·

Dink prof. Wim de Villiers word ook net gedruk deur die kaders om afrikaans uit universiteit te verban.
Die ANC het mos seggenskap oor alles in ons lewe, ons het geen regte meer oor nie.

Chris dupreez ·

Die een oog MRK het klaar besluit, US het nie Afrikaans verban nie en al die studente wat so sê vertel leuns.

annie ·

Wim het die queen, ANC, die US-bestuur tot die tea-girl plus al die dooie tommies en die jare vol bitter Britse-skandes na 1652 toe die Kaap as hul eie verklaar is… aan sy kant. Wim is duidelik trots-Engels en voel dalk selfs vernamer as hy in Engels met sy hond praat. Die woord ‘me’ is betowerend selfvoldaan. Selfs -e… -e… laat SA-ondersteuners van die opgemixte Latynse-konkoksie van toeka soos hogere burgers kwyl wat net ‘n paleis nog kort. Die US is maar net weer ge-kaap deur kakie-nasate… te… te.

Jack ·

Die VF Plus mors hulle tyd.Die MRK het al so baie vir ons gewys dat hulle net belangstel om iets te doen as dit ten gunste is van die meerderheid.Anders mors jy jou tyd.Die MRK gaan julle aflag.

VaalDonkie ·

Nee hulle mors nie hulle tyd nie. Voordat jy VN toe gaan vir hulp, moet jy darem seker eers wys dat jy probeer het om met die regering te praat.

Spook ·

Die Victoria College doen sy naam gestand. Kovsies is ook deesdae bekend as The Royal Imperial British University College of the Orange River Colony, of sommer RIBU-ORC.

Blikkies ·

Hierdie Wim ou moet hom skaam omdat hy ons en sy Taal sommer so op die agter sitplek gooi. Hy laat my dink aan die eg Suid Afrikaners wat skielik hulle kindertjies groot engelse name gee en dan net Engels met hulle praat, geen Afrikaans mag in die huise gepraat word nie, want dis die toekoms? Watse klomp nonsens.

Hannes ·

Dit sal ‘n heuglike dag wees vir US wanneer de Villiers die pad vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.