VF Plus vra vir duidelikheid oor tender vir water by skole

Argierffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Volgens die VF Plus het die departement van basiese onderwys ʼn tender van R600 miljoen aan die Randse Waterraad toegeken waarmee die departement, volgens ʼn antwoord van die minister van basiese onderwys, 3 500 skole van water en watertenks voorsien het.

Die party voer egter aan dat minister Angie Motshekga se antwoord onvolledig is en dat dit meer vrae as antwoorde skep, het dr. Wynand Boshoff, die VF plus se woordvoerder vir basiese onderwys, Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Volgens Boshoff is dit onduidelik hoeveel skole aan ʼn munisipale waternetwerk gekoppel is asook hoeveel boorgate, indien enige, op skoolgronde gesink is. Die VF Plus wil ook weet hoe ver pypleidings daarvoor aangelê moes word, of watertenks met waterkarre of pypleidings gevul moes word en of waterleidings volgens formele vereistes aangelê is.

Argieffoto: Wikimedia

Luidens die verklaring is dit ook onduidelik hoeveel watertenks voorsien is.

“ʼn Deelsom dui daarop dat effens meer as R170 000 per skool bestee is. Gemiddelde syfers is problematies, want dit gee nie noodwendig betroubare inligting oor enige besondere geval nie,” het Boshoff gesê.

Volgens Boshoff kan ʼn 75 mm pyp volgens formele vereistes teen R200 per meter gelê word. Dit maak dus voorsiening vir ʼn 800 m pypleiding en nog R10 000 om krane op die skoolgrond aan te lê. Nog ʼn moontlikheid is 15 watertenks van tienduisend liter elk, wat nog R10 000 oorlaat om water tot by die tenks te kry en nog R10 000 om water op die skoolgrond te versprei. Anders kan ʼn boorgat teen R100 000 gesink en toegerus word, wat R70 000 vir verspreiding oorlaat.

“Die besteding wat hier ter sprake is, is op die oog af buitensporig,” het Boshoff gesê.

Die VF Plus doen nou ʼn beroep op Motshekga om meer duidelikheid oor haar departement se besteding aan water en watertenks te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andre ·

Na meer as ‘n kwarteeu het 3500 skole nie water nie. Is daar nie ‘n minister in beheer nie? Maar hulle wil Covid bekamp.

Pappa Beer ·

Die ministers in hierdie regering is meer behep om hulle eie sakke vol geld te stop as oor hulle ampte, dit het ons mos nou gesien met die covid dekmantel.

Stofdonkie ·

Die VF probeer ‘n logiese afleiding maak deur wiskunde te gebruik. Hulle verstaan duidelik nie anc wiskunde nie. R600miljoen bestee beteken die minister het sowat R100m gekry daarvan, ‘n familielid sowat R300m en die ander R200m lê nog in die departement se rekening want dis te min om al 3 500 skole te voorsien met water so nou doen hulle eerder niks.

Kokerboom ·

Bestaan daar nie ‘n bevoegde oorsigkomitee by Dept Finansies wat al die tenders deur departemente eers moet “screen” en goedkeur? Dit sluit ook in verifiering en kontrole oor werk afgehandel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.