VF Plus wil protesaksie by skole onwettig maak

Die betoging by Hoërskool Overvaal in Vereeniging (25 Januarie 2018). Foto: Ian Cameron.

Die VF Plus wil met behulp van ʼn privaatlid-wetsontwerp poog om in die toekoms protesaksies naby skole te verbied.

Dit kom nadat Hoërskool Overvaal in Vereeniging Donderdag vir leerders gesluit moes wees weens ʼn massa-protesoptog buite die skool. Honderde betogers het voor die skool gesing en dans en ʼn memorandum van hul griewe aan die skoolbeheerliggaam oorhandig. Dié betoging het gekom ná verskeie protesaksies by die skool in die afgelope week.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en die party se parlementêre woordvoerder vir basiese onderwys, het in ʼn verklaring gesê die party is van voorneme om ʼn privaatlid-wetsontwerp in te dien met die doel om protesoptredes, wat enige ontwrigting naby ʼn skool mag veroorsaak, te verbied.

Volgens Alberts is die wette wat verander sal moet word om dié doel te bereik, onder meer die Nasionale Skolewet en die Wet op die Regulering van Byeenkomste. Hy het gesê dit sal van toepassing wees op skole van voorskoolse tot sekondêre vlak.

Alberts het verwys na ʼn onlangse uitspraak in die Wes-Kaapse hooggeregshof rakende protesoptogte. Hy het gesê luidens mediaberigte het regter Thandazwa Ndita beslis dat vreedsame betogings sonder kennisgewing aan die owerhede, nou toelaatbaar is.

“Luidens ʼn berig in die Cape Argus het regter Ndita bevind die kriminalisering van ‘n byeenkoms van meer as vyftien mense op grond daarvan dat geen kennis gegee is nie, die Grondwet oortree aangesien dit mense verhinder om hul fundamentele grondwetlike reg uit te oefen om vreedsaam en ongewapend te vergader. Volgens die regter is die vorige beperking nie redelik en regverdigbaar in ‘n oop demokratiese samelewing gegrond op die waardes van vryheid, waardigheid en gelykheid nie,” het hy gesê.

Hy meen die regter het met dié uitspraak nie die regte van mense in ag geneem wat nadelig deur ʼn protesoptog ontwrig kan word nie.

“Dit kan reuse-ontwrigting veroorsaak en die deur oopmaak vir vandalisme en geweld indien ʼn groot optog sonder enige vooraf waarskuwing in ʼn stad of dorp gehou word, aangesien die owerhede en wetstoepassers nie die geleentheid sal kry om daarop voor te berei nie. Die grootste ontwrigting sal egter vir gewone mense wees wat betyds by die skool of werkplek moet uitkom,” sê hy.

“Dit neem die regte van vredeliewende landsburgers hoegenaamd nie in ag nie, en die VF Plus se beoogde privaatlid-wetsontwerp is daarom van die grootste belang om ten minste skoolkinders teen ontwrigting te beskerm en in die algemeen kinders se fundamentele regte, soos in die Grondwet vervat, aan te vul.”

Die betogings wat sedert verlede week voor Hoërskool Overvaal plaasgevind het, hou verband met ʼn hooggeregshofuitspraak die week vantevore toe die hof beslis het dat die Gautengse departement van onderwys Hoërskool Overvaal nie kan dwing om 55 Engelssprekende leerders by die skool in te neem nie. Maroela Media het vroeër berig die skool het aangevoer hy het nie plek vir nog leerders óf die nodige hulpbronne om dié Engelssprekende leerders te onderrig nie.

Die Gautengse departement van onderwys het reeds aangedui dat hy teen die hofuitspraak sal appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Johan ·

Daar moes al lankal n interdik gewees het teen die betogings aangesien..daar doodsdreigemente teen die kinders is..”one bullet…one boere kind”….hoekom is daar nie al een nie…..al hoe hulle gaan stop as dit onwettig is en hulle die polisie word verplig om hulle te arresteer….

Gerhard ·

Hoe kry jy ‘n interdik teen wettige optrede? Die probleem is juis dat dit wettig is.

Tilla ·

Interdik sal niks help hulle het geen ontsag vir die reg en dit hits hulle net aan.
Besef die geagte LUR dat hy regstreeks vir hierdie chaos verantwoordelik is. Daar moet daadwerklik teen hom opgetree word en hy behoort so gou moontlik uit sy pos onthef te word.

Stella ·

Dankie tog iemand begin ons kinders en ons skole beskerm! Dankie!!!

Gwen ·

Hoe lank is Ian Cameron om daardie foto te neem? Of het hy in ’n boom geklim?

Dark.O ·

@Gwen, die foto is waarskynlik met ‘n hommeltuigkamera geneem. ‘n Hommeltuig is ‘n relatief klein, onbemande lugvaartuig wat battery-aangedrewe is. Die kamera wat op die hommeltuig gemonteer is, stuur dan die foto na byvoorbeeld ‘n selfoon. Dit is dus nie nodig dat ‘n persoon uitermatig lank moet wees of moet boomklim om foto’s te neem nie, tegnologie word sommer ingespan.

Elsa ·

Lankal tyd vir die stap…onnodige ontwrigting en die optogte ly tot skade vir leerders, skole is nie die plek om aan te vat en optogte wat in elkgeval hand uitruk , hul onkunde tentoon te stel nie… doen dit sommer gou

Hendrik ·

Goeie verantwoordelike voorstel vir wetgewing. Ek hoop dat die VF+ die wet deur die parlement kan kry. Direkte gesprekke in die wandelgange “lobbing” van parlementslede kan dalk die ANC en hopenlik die DA(?) oortuig om die wetgewing te ondersteun en vinnig op die wetboeke te kry.

Boggom ·

En hoe gaan julle dit regkry? Nie geweet die party bestaan nog nie.?

Colleen ·

Goeie idee. Kinders word nou van hul regte ontneem om te leer. Die proteste raak nou afgesaag. Werk hierdie mense dan nie? Hulle het petrol/geld vir vervoer om te gaan betoog, maar hulle families sit sonder kos en klere.

GM ·

Nee, hulle word seker weer met bussies aangery, en die belastingbetaler betaal indirek daarvoor. Hulle sou nie daar gewees het as hul nie iets daaruit gekry het nie.

Andre ·

Dit moes al die eerste dag gedoen gewees het.Almal wag mos vir 10 dae dan wil hulle iets doen.

JdV ·

@ André, dit neem nie een dag om ‘n wet te verander nie … Laat staan nog twee: die skolewet en die Wet op Byeenkomste. Ons verstaan nie hoe wou jy gehad het “dit moes al die eerste dag gedoen gewees het” nie.

Gawie ·

Kan ons nie ook Universiteite insluit by die wetsontwerp nie? Die sal goed wees indien alle opvoedkundige instellings in vrede met hulle taak kan voortgaan. Die reg tot opvoeding is immers ‘n konstiusionele reg. Die optigte kan mos lekker voor die Uniegebou plaasvind.

snoefie ·

alle sukses. ek hoopvan ganse harre dit slaag. kan skole in swart gebiede ook bewaar.

JdV ·

Dink vêr vooruit. As jul kan, doen dit sommer op tersiêre vlak ook. Eendag gaan hulle nog voor Akademia en ander private Afrikaanse instellings ook wil toi-toi. Nie dat die protesterendes hul enigsins aan wette steur nie.

Hoekom ·

HOOP julle slaag hiermee, dit is onnodig om kinders se lewens in gevaar te stel asook die van hulle ouers net sodat iemand ‘n POLITIEKE propaganda kan dryf. Julius het so tekere gegaan op Swart Maandag omdat die ‘boere’ die kinders laat laat kom het vir skool, maar dit pla hom GLAD nie as honderde EFF ondersteuners breek/brand en onskuldige kinders verhinder om ‘n hele dag lank skool te gaan nie? Hoe is een ou se optog verkeerd en ‘n ander een s’n reg? Hoekom respekteer hulle nie die uitspraak van die hof nie? Kan ons ook by ‘n towship skool gaan brand en breek en aandring daarop om AFRIKAANSE kinders daarin te druk? Hoekom word alles so ONREGVERDIG en ONREGMATIG gedoen?

Theresa ·

Die eintlike punt is dat hierdie mense wat so lekker hul gevoel deel van doodsaanhitsing en die vervelige, dog gevaarlike gekerm oor wit is dit en wit is dat, en Afrikaans is dit en Afrikaans is dat, hul in elk geval aan geen wet gaan steur nie. Dis arrogante mense met ‘n geweldige deursettingsvermoë om te doen wat hul doen totdat hul nog iets wat kosbaar is, vernietig het. Dat Afrikaans en als wat daarmee verband hou diésulkes so ongelooflik kan bly hinder, is m g s d. laaste word = deksel.

Sowat van tyd mors en klaagliedere oor ‘n aspek wat hul regtig net kan verbystap en hul lewens voortsit soos miljoene ander mense in die land, is histeries.

Hetty ·

In hierdie land wil ek net weet HOE in die lewe gaan jy hierdie mense stop om “onwettig” op te tree???? Hulle maak NET soos hulle wil!

Casper Labuschagne ·

‘n Hofinterdik is ‘n puik plan, maar die werklikheid is iets heel anders in hierdie Suid-Afrika. Hier is ‘n revolusie op voetsoolvlak aan die broei. Wat my regtig bekommerd maak oor Overvaal is dat duisende ANC, EFF, Cosatu, Black Land First lede sonder twis en struweling saam hul oorlogsdraffie daar voor die skool uitgevoer het. Die revolusie wat voortgeset moet word het reeds die regsproses in die howe verplaas. Uiteindelik sal Overvaal noodgedwonge swik, want elke dag is die protes groter en groter, en dit is juis die revolusionere plan, om die vuurhoudjie te verskaf wat die kruitvat sal aansteek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.