‘Victor’ gepaste naam vir dié man

Marlene Mans en haar seun, Victor du Plessis. (Foto: Verskaf / Back a Buddy)

Toe Marlene Mans (52) van Rustenburg in Noordwes 35 jaar gelede aan haar seun, Victor du Plessis, geboorte geskenk het, het sy nooit gedink dat sy naam só gepas vir sy lewensreis sou wees nie.

Mans, ʼn enkelma, sorg haar lewe lank al vir haar seun wat met spesiale behoeftes gebore is en aan veelvuldige ongeneesbare siektes ly. Demensie en Alzheimer se siekte is ook onlangs by dié jong man gediagnoseer.

“Toe verpleegsters Victor destyds in my arms geplaas het toe hy maar net ʼn paar minute oud was, het ek in sy oë gekyk en onwetend aan hom die mees gepaste naam gegee. Victor beteken ‘oorwinnaar’ en verwys na iemand wat ʼn struikelblok oorkom het. Gegewe die stryd wat hy al moes voer is dit die perfekte naam,” sê Mans.

Du Plessis is in ʼn rolstoel en ly aan diabetes en epilepsie. Hy het ook al drie beroertes gehad.

Du Plessis moes voorheen teen bloeding op sy brein veg en ly aan minstens sewe seldsame siektes insluitend trisomie 21 (ʼn siekte wat ontwikkeling en intellek vertraag), skisofrenie en aangebore rubella-sindroom wat sy hart en kognitiewe vermoë aantas.

Weens sy beperkte breinfunksie sukkel Du Plessis om te eet en drink en is hy voltyds van ʼn kateter afhanklik om te urineer.

Toe hy boonop in Januarie vanjaar Covid-19 opgedoen het, het sy geliefdes gevrees die einde is in sig.

“Dokters het al dikwels moed verloor en vir ons gesê dat daar min hoop oor is. Victor het egter elke keer deurgetrek. Hy is ʼn kampioen,” sê sy ma.

Sy onlangse demensie- en Alzheimer-diagnose was egter vir sy geliefdes ʼn bitter pil om te sluk.

“Van al sy toestande en siektes was dié diagnose een van die moeilikstes om te aanvaar. Ek kan my nie ’n dag voorstel wanneer Victor my, sy sussie, Vianca du Plessis, en sy verpleegsters wat al soos familie geword het, nie herken nie. Ons is almal so lief vir ons teddiebeer.”

Opofferings uit die hart

Aangesien Du Plessis voltydse sorg benodig het Mans met ʼn tweede werkgeleentheid as ʼn verkoopsverteenwoordiger begin om haar seun se mediese uitgawes te dek.

Vianca du Plessis by haar ouboet, Victor. (Foto: Verskaf / Back a Buddy)

Sy mediese fonds is gedurig uitgeput – soms wanneer hy dit die meeste benodig – en die gesin sukkel dikwels om kop bo water te hou wanneer bybetalings en onvoorsiene uitgawes opduik.

Vianca (32) help egter ook om haar ouboet te versorg en bestee ʼn groot gedeelte van haar tyd en salaris aan Du Plessis.

“Ek weet nie hoe ons dit sonder haar sou gemaak het nie,” sê Mans oor haar dogter.

“Sy is die mees onbaatsugtige mens wat ek ken. Sy is nog altyd aan my sy en is in baie opsigte Victor se tweede ma. Sy vat hom oral waar sy gaan, bad en skeer hom en loer gereeld in. Sy doen dit opreg uit liefde en nie omdat sy moet nie.”

Mans sê sy het nooit gedink dat sy op haar ouderdom nog voltyds vir iemand sal moet sorg nie.

“Dit is egter iets wat enige ma sal doen.

“Maak nie saak hoe moeilik dit raak nie, dit is altyd die moeite werd wanneer Victor terugkom van die kliniek met papierblomme wat hy gevou het en ʼn glimlag op sy gesig. Ek sê altyd dat God ons met ʼn doel op hierdie pad geplaas het: Om ons geduld en nederigheid te leer.”

Luidens ʼn verklaring deur die geldinsamelingsinisiatief Back a Buddy beloop Du Plessis se mediese uitgawes sowat R10 500 per maand. Enigiemand wat tot Du Plessis se mediese onkoste wil bydra kan dié blad vir meer inligting besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boer ·

Sterkte daar vir jou, my kind het net 1 siekte (leukemie) en dit is al klaar erg genoeg. Victor jy sal wen.

Louise ·

Ai dis so hartseer, baie sterkte. Julle is in my gebede! Mag ons Hemelse Vader julle die nodige krag en gemoedsrus gee!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.