Video: 13 beseer toe Durban-gebou brand

Die brand het Vrydag omstreeks 10:00 uitgebreek [Foto: ALS Paramedics Medical Services]

Altesaam 13 mense is beseer toe ʼn brand Vrydagoggend in ʼn Chinese winkelsentrum in die middestad van Durban uitgebreek het.

Volgens Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, is reddingswerkers net na 10:00 na die winkelsentrum op die hoek van Anton Lembede- en Brookstraat in die middestad van Durban ontbied.

“Volgens inligting het ʼn brand op een van die vloere van die gebou uitgebreek. Ethekwini se brand-en-reddingsdienste, lede van die metropolisie en die polisie se soek-en-reddingseenheid het lang lere gebruik om toegang tot die brandende vloer te kry. Hulle het mense wat nog in die gebou vasgekeer was, gered,” sê Van Reenen.

Brandbestryders het hoë lere gebruik om toegang tot die brandende gebou te kry (Foto: Emer-G-Med, Verskaf)

Altesaam 13 mense het geringe tot matige beserings opgedoen. Robert Mckenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, sê altesaam 11 van die beseerdes is op die toneel behandel terwyl twee per ambulans na die hospitaal geneem moes word.

Volgens ALS Paramedics Medical Services is een van die persone wat hospitaal toe geneem is, beseer toe hy uit die venster probeer spring het om van die brand weg te kom.

Van Reenen sê daar was geen kinders onder die beseerdes nie. Geen sterftes is aangemeld nie.

“Die oorsaak van die brand is in hierdie stadium nog nie bekend nie. Die polisie ondersoek die saak.”

Teen die tyd van publikasie was West- en Smith-straat asook die M4 vir verkeer gesluit terwyl brandbestryders steeds gespook het om die brand te blus.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peter Pan ·

Ook seker aan die brand gesteek… so brand SA stuk vir stuk af!

Louisepretorius ·

Hoe is dit moontlik dat so Baie geboue in ons land aan die brand raak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.