Video: Aandklasse word dalk afgeskaf ná Matie-student se aanval

Ilze-Dene Oberholzer (skermskoot uit die video)

Ilze-Dene Oberholzer (skermskoot uit die video)

Aandklasse en -eksamens gaan moontlik by die Universiteit van Stellenbosch in die Wes-Kaap afgeskaf word nadat ʼn student na-ure ontvoer en aangerand is.

Die universiteit se akademiese beplanningskomitee het Woensdag die voorstel aan die senaat voorgehou nadat die student, Ilze-Dene Oberholzer (21), Maandag ontvoer is, en ander misdade aangemeld is.

“Só ʼn besluit sal verreikende gevolge hê vir die akademiese funksionering van die universiteit en dit is ʼn jammerte dat misdaad só ʼn groot impak moet hê, maar ons het nie meer ʼn keuse nie,” het prof. Arnold Schoonwinkel, viserektor van leer en onderrig, Donderdag gesê.

Oberholzer het Maandagaand omstreeks 19:00 in ʼn munisipale parkeerarea langs Eikestad-winkelsentrum gestap toe sy aangeval is, volgens die universiteit. Sy was op pad om ʼn eksamen af te lê.

Kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, het gesê toe sy val en opstaan, het twee mans haar in ʼn motor gedwing en met haar op die agterste sitplek weggejaag. “Terwyl hulle gery het, het sy haar motorsleutels uit die venster gegooi en die mans het die motor by ʼn ander voertuig gestop en uitgeklim,” het Van Wyk gesê.

Sy kon losbreek en het ongedeerd weggehardloop.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

Die universiteit is besorg oor die voorval en het berading vir Oberholzer aangebied. Schoonwinkel sê ʼn onderskeid moet getref word tussen studente wat verantwoordelik optree en aangeval word (soos Oberholzer), en studente wat hulself in gevaar stel. Hy sê talle studente is verkeerdelik onder die indruk dat hulle beskerm is teen die misdaad wat in die res van die land gebeur. “Die realiteit is dat Stellenbosch ʼn oop kampus is, en nie geïsoleerd is van die res van die dorp of die land nie,” het hy gesê.

Die universiteit en kampusbeheer doen hul bes met veiligheidspatrollies, toegangsbeheer, veiligheidsdienste, na-ure-studentevervoer, alarmmonitering en reaksie, noodreaksie en kringtelevisiemonitering.

Schoonwinkel sê, alhoewel universiteite maatreëls kan instel, soos om aandtoetse op te skort, kan dit nie studente verhoed om in die aand vrylik op die kampus en in die dorp rond te beweeg nie. Hy doen ʼn beroep op studente en personeellede om nie alleen in die aand of in die vroeë oggendure te loop nie, nie alkohol te misbruik nie en om van die voetgangerpendelaarsdiens op die kampus gebruik te maak.

Oberholzer het in ʼn video aan EWN verduidelik wat die aand gebeur het en ander damestudente gewaarsku om nie alleen in die aand uit te gaan nie.
(SAPA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.