Video: Aanlyn kosprojek voed reeds duisende

The Cradle of Hope voed tans meer as ‘n duisend mense per dag en die kos hardloop dikwels vinnig uit. Sowat 604 kg se sop is Vrydag by We^Can opgelaai om vir die naweek se etes te verskaf. (Foto: Verskaf.)

We^Cook, ʼn aanlyn maatskappy van Pretoria, het reeds meer as 11 ton kos ingesamel en aan behoeftige mense in die nasionale inperkingstyd in Gauteng uitgedeel.

Dié maatskappy is kort voor die inperking gestig en wou aanvanklik ʼn diens verskaf waar mense tuisgemaakte etes kan bestel, terwyl die verskaffers van die etes terselfdertyd ook ʼn geleentheid het om produkte op die aanlyn platform teen ʼn verlaagde prys aan te skaf.

We^Cook het egter met die inperkingstyd wat in Maart ingestel is vinnig ʼn ander plan beraam om gemeenskappe te help. Die We^Can-projek is van stapel gestuur waar mense kos van verskaffers teen verlaagde pryse kan koop en dit op so ʼn wyse aan diegene kan skenk wat dit nou broodnodig het.

Volgens Francois Mouton, die eienaar van We^Cook, het die We^Can-projek in die afgelope drie weke op hierdie wyse reeds ses keer kos aan behoeftige mense verskaf en meer as 12 000 mense gevoed.

Eleos, ʼn nie-winsgewende organisasie wat opheffingswerk deur middel van 15 projekte bied, het Donderdag ʼn skenking van We^Can ontvang. Die organisasie kan nou ʼn week se kos aan mense in die weste van Pretoria verskaf.

Clariza Botha, bemarkingsbestuurder by Eleos, sê hulle organisasie fokus nou hoofsaaklik daarop om voedsel te verskaf. “Die grootste nood in Pretoria-Wes is kos. Broodwinners kan geen inkomste verdien nie en gesinne kry ongelooflik swaar. Ons gee gewoonlik net noodkospakkies, maar nou kan ons vir meer as 350 gesinne kos verskaf.”

We^Can samel tans kos vir die volgende organisasie in:

  • Projek 1 – Louis Botha-kinderhuis
  • Projek 2 – Spreading the Love
  • Projek 3 – The Cradle of Hope
  • Projek 4 – Helpende Hand, Ons Plek in Derdepoort
  • Projek 5 – Eleos
  • Projek 6 – Lig Kinderbediening
  • Projek 7 – The Cradle of Hope
  • Projek 8 – Ons Tuis (tot Saterdag om 12:00)
  • Projek 9 – Bethany House (begin Saterdag om 12:00 tot Maandag 12:00)

Hoe kan jy betrokke raak?

Word deel van die We^Can-gemeenskap deur aanlyn ʼn ete namens ʼn We^Can-begunstigde organisasie aan te koop:

Stap 1: Gaan na www.wecook.co.za en lees meer oor die huidige We^Can-projek

Stap 2: Koop die voedselitems, asook die hoeveelhede, direk vanaf die We^Cook-webtuiste.

Stap 3: Die aangekoopte items word beskikbaar gestel aan die We^Can-begunstigde om sodoende iemand te voed.

Stap 4: Nooi iemand om dieselfde te doen.

 

Word ʼn We^Can-verskaffer deur jou produkte teen aansienlik verlaagde pryse aan die We^Cook-platform te verskaf:

Stap 1: Registreer as ’n We^Can-verskaffer op www.wecook.co.za

Stap 2: We^Cook lys die produk aanlyn en stel dit op as We^Can-projek sodat die We^Can-gemeenskap namens die We^Can-begunstigde aankope kan doen vir mense in nood.

Stap 3: Wanneer die betrokke We^Can-projek tot ’n einde kom, sal jy ’n amptelike aankoopbestelling (purchase order) van We^Cook ontvang.

Stap 4: Die geregistreerde We^Can-begunstigde sal die produkte by jou kom oplaai, waarna betaling van We^Cook af sal plaasvind.

 

Word ʼn We^Can-begunstigde indien jy omsien na mense in nood en ʼn bestaande welsynsorganisasie of nie-regeringsorganisasie (NGO) is:

Stap 1: Voltooi die aansoek om ’n We^Can-begunstigde te word op www.wecook.co.za

Stap 2: Sodra die aansoek goedgekeur is, sal We^Cook ’n aanlyn We^Can-projek skep sodat die We^Can-gemeenskap produkte kan aankoop vir jou projek.

Stap 3: Na afloop van die betrokke We^Can-projek sal ’n amptelike afhaalbewys (collection order) deur We^Cook uitgereik word.

Stap 4: Laai die produkte by die We^Can-verskaffer op en voed die mense in jou sorg.

Volg We^Can en We^Cook se werksaamhede op Facebook en Instragram met die hutsmerke #WeCan en #WeCook. :

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus op kykNET, DStv-kanaal 144, elke aand om 19:00.

  • Kyk die video oor die projek hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ronel ·

Hongersnood onder al die minder bevoorregte mense is groot kommer in SA. Dankbaar dat soveel ander probeer om almal te help. Verstommend dat die regering nog nooit iets daaraan kan doen om die situasie te verander of verbeter.

Eerlik ·

Soveel beloftes met geen aksie. Nou met die covid uitbreuk moes hulle inderhaas blyplek soek vir mense op straat, hoekom nou eers? Hierdie is n wonderlike inisiatief en mens kan ten minste sien waarheen jou bydrae gaan en weet dat dit die regte mense help.

Lorna ·

Word daar na die wit plakkerskampe ook omgesien
Ek sien OP TV net swart plakkerskampe kry kos en ek weet daar is al mense jare lank sonder werk
Of word die wit nie op TV gewys nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.