[Video] Aardklop 2017: sit aan vir ʼn fees na hartelus

Alexa Strachan, feesbestuurder (Foto: Verskaf)

Die programbekendstelling vir vanjaar se Aardklop-kunstefees is Woensdagaand in Newtown in Johannesburg gehou. Oor dié fees het die “kunste-cowboys” en “feesfoendies” dit eens: Vanjaar gaan daar na hartelus fees op Potchefstroom gehou word.

Alexa Strachan, feesbestuurder, het tydens die bekendstelling gesê vanjaar se fees gaan voortbou op die sukses van verlede jaar – om die fees vir die mense te hou.

“Kom ons praat uit die hart uit, en noem ʼn ding op sy naam: Aardklop 2016 was ʼn wonderwerk. Saam het ons binne ʼn paar maande die bykans onmoontlike reggekry. Daarom gaan ons ná hierdie gesamentlike reusereddingspoging in 2017 elke uiteenlopende feesganger, deelnemer en kunstenaar se bydrae tot die sukses en voortbestaan van Aardklop vier.”

Japie Gouws, voorsitter van die Aardklop-direksie, sê hoewel dit nie vir die direksie ʼn moeilike besluit was om Aardklop vanjaar weer aan te bied nie, staar talle uitdagings die fees steeds in die gesig.

“Mense verkeer nou onder die indruk ‘Aardklop is gered’. Dit is waar – en verlede jaar se kaartjieverkope was goed, maar as elkeen wat die fees besoek net een bykomende kaartjie koop of dalk vir die eerste keer van die vertonings bywoon, maak dit ʼn reuseverskil in die volhoubaarheid van die fees.”

Vanjaar se fees beloof om selfs groter en beter as vorige feeste te wees. Meer as 25 debuutwerke word hierdie jaar aangebied.

Musiek

Vanjaar bied Aardklop iets vir almal met bekendes soos Laurika Rauch, Loki Rothman, Stef Bos, Coenie de Villiers, Hemelbesem, Mathys Roets, Rocco de Villiers, Charl du Plessis, US Koor, Wits Trio, Radio Kalahari Orkes, Joshua na die Reën en vele meer.

“Ons bied regtig iets vir almal en nooi elke feesganger om sy feeservaring self saam te stel: wat ook al jou smaak, styl, voor- of afkeure, jy sal vir seker feesvier na #hartelus,” sê Strachan.

Debuut Hannes Brümmer in ‘Wie’s jou pappa?’ (Foto: Verskaf)

Teaterdebute

Hannes Brümmer speel solo in Wie’s Jou Pappa? wat speels spot met ʼn voormalige punk in plakkies wat nou soos ʼn pantoffelpappa moet paradeer.

Getroudes met Elize Cawood en Wilson Dunster gaan met die lagspiere peuter. Hulle spring op die mallemeule van die mediese wêreld vir veral diegene wat ouer word in Toetse, hulle jongste stuk geskryf deur Saartjie Botha. Je-ani Swiegelaar maak ook haar buiging in Sê My Naam.

Op ligter trant speel Simoné Nortmann die rol van Nina van Zyl, ʼn popster wie se loopbaan sukkel in Los Asseblief ʼn Boodskap. Sy beleef ook skrywersdroogte en haar eks het kanker! Sy vat die langpad van Johannesburg na Kaapstad, dorp tot dorp … en nooi almal saam op haar tragikomiese avontuur.

Jo Black (Foto: Maroela Media)

Musiekdebuutwerke

In Die Woordenaars sien jy vir die eerste keer saam op die verhoog musikale digters soos Stef Bos, Spoegwolf, Jo Black, Koos van der Merwe en Herman Kleynhans. In Ekstravaklassiek is Chris Chameleon te sien in hierdie eenmalige vertoning saam met die Nasionale Jeugkoor.

Die blinkste jong operasterre, Vuvuyiso (Vuvu) Mpofu (sopraan)
en Bongani Kubheka (bas-bariton), sluit by pianis Charl du Plessis aan vir ’n program van operagunstelinge in Stemme vir Môre.

Uniek by die fees

Die Aardklop Pronk Podium is die nuwe platform vir tiener- en studenteproduksies. Die Aardklop Lang Tafel is terug op openbare aandrang! ʼn Eksklusiewe kuier-, eet-en-feesviergeleentheid onder die reuseplataanbome in die NWU-Potchefstroomkampus se bekende Lovers’ Lane.

PG du Plessis (Foto: ATKV)

By die Aardklop Atrium bied die fees vir avontuurlustige feesgangers minder tradisionele produksies aan. Van een-tot-een-teater – één akteur en één gehoorlid – tot gemengdemedia-installasieteater.

Taxi Teater, een van Aardklop 2016 se groot suksesverhale, word dié jaar uitgebou ten einde die wonderlike diversiteit van Potchefstroom, Ikageng en Promosa se talent op die podium te plaas.

PG: ʼn Lewe Vol … is ʼn huldeblyk aan dr. P.G. du Plessis, bekroonde dramaturg, draaiboek- en romanskrywer en storieverteller wat oorlede is op 7 Junie vanjaar. Van Suid-Afrika se voorste kunstenaars kom bymekaar om hierdie groot gees se lewe en werk te vier.

Wat jy elders misgeloop het

Solo-diva Sandra Prinsloo weet hoe om harte te frommel met Moedertaal, ʼn hartroerende storie van lief en leed. Prinsloo speel ook in Pa, maak vir my ʼn vlieër, Pa. Koöperasiestories is die jaar se topverkoper by feeste landwyd en draai ook op Potchefstroom.

In Ag, Kom ek val sommer met die Holm in die huis, raak Marion Holm diep as sy terugkyk na ʼn jaar van persoonlike pyn – maar natuurlik met haar eiesoortige Holm-humor. Pieter-Dirk Uys praat padlangs in Weerklank van ʼn Wanklank wanneer hy die padwysers uitlig wat die verloop van sy lewe bepaal – soos altyd met ʼn skalkse lag en ʼn sagte traan.

Hoe gemaak?

Aardklop word aangebied tussen 2 en 8 Oktober. Kaartjieverkope open op 30 Julie by Computicket. Toegang tot die feesterrein op Die Bult kos R20.

Vir meer inligting, besoek Aardklop se splinternuwe webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.