Video: AB maak eendagkrieket-geskiedenis

AB de Villiers. Foto: @OfficialCSA op Twitter.

AB de Villiers. Foto: @OfficialCSA op Twitter.

AB de Villiers het Sondag tydens die Proteas se tweede eendagwedstryd teen die Wes-Indiese Eilande geskiedenis gemaak deur die vinnigste honderdtal nog in dié weergawe van die spel aan te teken.

De Villiers het slegs 31 aflewerings nodig gehad om sy honderdtal aan te teken. Die Proteas se eendagkaptein het sy vyftigtal van 16 aflewerings aangeteken.

Corey Andersen van Nieu-Seeland het vroeër die rekord gehou nadat hy ʼn honderdtal van 36 aflewerings aangeteken het in Januarie verlede jaar, ook teen die Wes-Indiese Eilande.

De Villiers het 16 sesse en ses viere aangeteken. Een van die sesse het in ʼn area beland wat vir die borskankerveldtog R10 000 besorg het. Hy het 149 lopies gemoker van 46 aflewerings voor hy uitgevang is.

Die Proteas, wat vandag in pienk geklee speel ter ondersteuning van borskankerbewustheid, het 439/2 in sy beurt aangeteken, sy hoogste telling nog in eendagkrieket. Die vorige rekord was 438/9 wat in Maart 2006 teen Australië aangeteken is.

Hashim Amla het 153 lopies gemoker terwyl Rilee Rossouw 128 lopies aangeteken het. Wes-Indië moet nog kolf en met Chris Gayle goed op dreef is die teiken wat die Proteas gestel het nie heeltemal buite bereik nie.

Die Proteas het die eerste wedstryd reeds beklink.

http://youtu.be/0vJcCa7i8V4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.