[Video] Adjunkburgemeester van Nelson Mandelabaai gepos

‘n Skermskoot uit die video.

Die UDM se Mongameli Bobani is Donderdag deur middel van ʼn chaotiese stemproses van sy amp as adjunkburgemeester van Nelson Mandelabaai onthef.

Die spanning in die raadsvergadering was hoog toe daar oor die mosie om Bobani van sy amp te onthef gestem is. Sommige raadslede het hul teenkanting teen die mosie uitgespreek terwyl hulle die saal verlaat het.

Die mosie, wat deur Marlon Daniels, ʼn raadslid van die Patriotic Alliance ingedien is, het met 60 stemme geslaag. Partye wat die mosie ondersteun het, was die DA, African Christian Democratic Party en Congress of the People.

“Die adjunkburgemeester se wisselvallige gedrag het tot onstabiliteit in hierdie regering gelei en by verskeie geleenthede belangrike raadsake onnodig vertraag,” het Daniels ter ondersteuning van die mosie gesê.

Ontevrede raadslede van die opposisiepartye, waaronder die ANC, die EFF en die African Independent Congress, het uit die raadsaal gestap terwyl die stemmery aan die gang was.

Bicks Ndoni, die ANC se koukusleier, het die probleem só opgesom: In die tyd toe raadslede die saal verlaat het, is ʼn “gefabriseerde kworum” geskep om die 61-lid-kworum te verkry wat nodig is om met die vergadering voort te gaan. “Dit is ʼn kriminele ding wat gedoen is en dit kan nie daar gelaat word nie,” het Ndoni gesê.

“Terwyl mense opgestaan het, is daar gesê die vergadering gaan voort. Dit kan nie so wees nie. Dit is ʼn ernstige oortreding. Ons gaan dit nie daar laat nie. Ons gaan die saak verder voer en regsadvies bekom,” het hy buite die saal aan die media gesê.

“Dit is nie ʼn tegniese aspek hierdie nie. Dit is ʼn duidelike kwessie van die nodige kworum wat nie teenwoordig was nie. Daar was nie ʼn kworum toe die besluit geneem is nie, ons is baie seker daarvan. Hulle weet hulle het net 60 raadslede, so hulle wat nou sê ons het oorhaastig getel, praat nie die waarheid nie.”

Die EFF en die ANC het saamgestem dat die stemproses foutief was. EFF-raadslid Zilindile Vena het gesê hulle is gekant teen die Patriotic Alliance “wat by die agterdeur ingesluip het”.

Intussen het Bobabi gesê speaker Jonathan Lawack moes die vergadering laat verdaag het die oomblik toe die situasie chaoties geraak het. “Hoe kan die mosie geslaag het terwyl ander raadslede uitgestap het? Hy was veronderstel om seker te maak die vergadering verloop ordelik. Hy moes alles stopgesit en getel het of daar genoeg raadslede was om te verseker dat daar ʼn kworum is om mee voort te gaan,” het hy gesê.

“Hulle was vasbeslote om seker te maak dat hierdie mosie slaag en dit is onwettig.”

Bobani het gesê hy het Athol Trollip, die uitvoerende burgemeester, voor die stemproses versoek om seker te maak dat die reëls met die stemproses gevolg word. “Jy kon sien hy wou nie my hand skud nie, hy wou nie met my praat nie en het my net gestamp. Watter soort mens doen dit? Miskien wil hy nie met ʼn swart mens hand skud nie,” het Bobani later aan verslaggewers gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Praat van skande die waarheid maak seer nog altyd het die anc saamgesweer om dinge nie te laat klop nie kyk in mogale city dis n skande as jy uitgevang word en nog boonop uit n vergadering te loop was ek die groot koppe was het ek almal wat uitgeloop het weggejaag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.