Video: AfriForum stel videoveldtog vir moedertaalonderrig bekend

'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ‘n videoveldtog vir die bevordering van moedertaalonderrig van stapel gestuur.

AfriForum sê die veldtog het ten doel om leerlinge en voornemende studente aan te moedig om in hul moedertaal te studeer, en fokus veral op Afrikaans, omdat die voortbestaan van Afrikaans as hoëfunksietaal vir AfriForum van kernbelang is. AfriForum wil egter ook klem lê daarop dat álle leerlinge en studente sover moontlik die voorreg moet hê om in hulle moedertaal te kan studeer.

“Ons wil met dié veldtog ʼn sterk visuele boodskap oordra. In die video, vervaardig deur Elrich Yssel, moedig suksesvolle Suid-Afrikaners, wat kundiges in verskillende beroepsvelde en voorstaanders van onderrig in Afrikaans is, jongmense aan om in hul moedertaal te studeer.

Ons gaan seker maak hierdie boodskap bereik jongmense landwyd deur middel van sosiale media soos Facebook, YouTube en AfriForum se webwerf. Ons doen ʼn beroep op skoolkinders en studente om die video oral op sosiale media en selfs via e-pos te deel met vriende. Die boodskap moet versprei soos ʼn veldbrand, het Carien Bloem, die hoof van AfriForum se onderwysveldtogte gesê.

In die video vertel onder andere die bekroonde Afrikaanse skrywer, Deon Meyer, radio-persoonlikheid, Pulane Sekepe, akteur en musikant, John-Henry Opperman, filmvervaardiger Sallas de Jager asook Amanda Mynhardt, Proteas-netbalspeler watter positiewe impak hul opvoeding in Afrikaans op hul loopbane gehad het.

“Jy’t ʼn beter kans om in Afrikaans gepubliseer te word as in enige ander taal. Die lesers is honger vir lekker, goeie tekste, en om in Afrikaans te publiseer beteken nie dat jy as skrywer nie internasionale erkenning gaan geniet nie. Gaan leer in Afrikaans, anders is dit ʼn kwessie van slim vang sy baas,” sê Meyer in dié lekkerkykvideo.

http://youtu.be/zM6M19qmivA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.