’n Video van ’n vroueveiligheidswag wat deur Kaizer Chiefs-ondersteuners aangerand word ná Kaizer Chiefs se nederlaag teen Free State Stars het sosialemediagebruikers warm onder die kraag.
Die voorval het Saterdagaand in die Moses Mabhida-stadion in Durban plaasgevind ná die wedstryd in die Nedbank Cup-toernooi. Free State Stars het Kaizer Chiefs met 2-0 geklop.
Foto’s van ’n gebreekte kamera en brand wat plek-plek gestig is, word ook op sosiale media rondgestuur.
Free State Stars-spelers moes ook inderhaas die veld verlaat ná hordes aggressiewe toeskouers op hulle neergesak het.
Steve Komphela, afrigter van Kaizer Chiefs, het onmiddellik ná die wedstryd as spanafrigter bedank.
In die video kan gesien word hoe ’n groot groep ondersteuners die wag met onder meer stoele en ander voorwerpe aanrand, asook skop en slaan.
Die groep bars uiteen wanneer polisie en nooddiensbeamptes die vrou te hulp snel.
Intussen het Kyle van Reenen, woordvoerder van Marshall Security, bevestig die gerugte is onwaar dat die wag wat tydens die voorval beseer is een van hul werknemers is.
Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig twee verdagtes, onderskeidelik 27 en 33 jaar oud, is in hegtenis geneem vir openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging.
“Die toeskouers het die veld bestorm. Hulle het ’n vuur begin en voorwerpe op die veld gegooi. Die polisie moes skokgranate gebruik om hulle uiteen te jaag.”
Gwala het bygevoeg die polisie het inligting ontvang dat sommige mense tydens die voorval beseer is.
Die twee verdagtes sal Maandag in die Durban-landdroshof verskyn.
Don't let Steve Kompela's resignation distract you from the fact that Kaizer Chiefs fans (mostly men) beat up a female security guard until she was unconscious. #NedbankCup pic.twitter.com/payco4fQPM
— Rohula Black (@RohulaBlack) April 21, 2018
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
36 Kommentare
Wat kan mens nou meer sê van die gepeupel in hietdie land.
Let op pragtige demoon -strasie van waarmee mens in SA te doen het
Sê liewer niks dan is daar niks…
Was daar kameras wat naby-skote kon skiet. Om gesigloses te probeer identifiseer? Hierdie is media sensasie.
Die “staat” gaan weer hierdié moordenaars beskerm…met belastingbetaler se geld.