Video: Alte jollie-pa(trollie) agter trok op hoofweg

‘n Skermgreep uit die video.

Video’s van ʼn laggende man wat dit gate uit geniet terwyl hy in die reën agter ʼn brandstofvragmotor in ʼn winkeltrollie aangesleep word, het internetgebruikers aan die gons.

Luidens talle inskrywings op sosiale media is die video’s in Pretoria, Gauteng, op ʼn hoofweg geneem.

Die video’s, wat vanuit ʼn paar verskillende hoeke afgeneem en gedeel word, wys hoe die man skaterlag en opgewonde wuif vir die onbekende mense wat dié jolige – en gevaarlike – affêre verfilm.

Hoewel die glimlag op sy gesig talle mense laat saamglimlag, vra die persoon in die agtergrond op een van die video’s tereg: “Het hy ʼn doodswens?”

Talle ander sosialemediagebruikers is ook bekommerd oor die veiligheid van die man in die trollie – terwyl dit blyk dat hy nie ʼn bang haar op sy lyf het om só in die trollie op die hoofweg gesleep te word nie.

“Ek dink net aan die slaggate in die paaie van ons land. Dít gaan in trane eindig,” het ene Sandile op Twitter geskryf.

“Soveel dinge kan hier skeefloop, soos die trollie se wiele – ons almal weet hoe swak dit is. Miskien is hy gelukkig dat dit reën, so die wiele kan nie smelt of breek weens die spoed van die vragmotor nie,” bespiegel ene Edwin Dooms.

“Mense is moeg vir die pryse van brandstof,” het ene Malume geskerts.

The Fast and the Furious 2022, wêreldrekord in Suid-Afrika,” het ene Masala, met verwysing na die rolprentfranchise The Fast and the Furious met die akteur Vin Diesel, geskerts.

Kyk hier na die video’s:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chantel

Dis wonderbaarlik dat daai trolllie se wiele nie mee gegee het nie. Genade!!

André

Ek wil net weet; waar kry hy ‘n trollie sonder daai wiel wat die heletyd oos wil draai?

Misky

Almal lag en spot saam, maar ek stem saam en dink aan die gevolge en wat kan gebeur. As daai trok skielik briek of slaggat tref en hy is dood, word bestuurder moontlik aangekla. Nie net dit nie, mense wat dit moet aanskou en moontlike trauma kan deurgaan.

May10

As ek die petrol prys so bekyk,dink ek ons almal moet n trolley aanskaf.

Swerwer

O Genade! Dan loop ek maar liewer. Dink net aan al die pyn en lyding as daar ‘n oeps gebeur!