Video: Atlete mik na rekord vir 220 km oor die berge

Foto: Kelvin Trautman via Ryan Sandes op Facebook

Foto: Kelvin Trautman via Ryan Sandes op Facebook

‘n Video volg onderaan die berig. Ryan Sandes en Ryno Griesel gaan poog om ʼn nuwe wêreldrekord op te stel wanneer hulle die Drakensberg oorsteek.

Die roete is ongeveer 220 km lank van die Sentinel-motorparkering in die noorde tot by Bushman’s Nek-grenspos in die suide. Die roete neem stappers gewoonlik tussen ses en 10 dae om te voltooi.

Sandes en Griesel gaan poog om dit binne drie dae te doen.

Om die titel in te win moet hulle hul eie toerusting dra met geen vorm van ondersteuning al langs die roete nie. Hulle moet dus van die begin af en vir die hele roete hul eie kos dra en die hele roete te voet aflê.

Die huidige rekord is 60 ure, 29 minute en 30 sekondes. Gavin en Laurie Raubenheimer het die roete in Februarie 1999 binne vier dae, 9 ure en 39 minute voltooi, maar Ryno Griesel en Cobus van Zyl het in April 2010 die huidige rekord opgestel.

Sandes het al op elke kontinent ʼn ultra-roetedrafmarathon gewen.

Die weer is een van die uitdagings. Daar is gewoonlik tydens Maartmaand nie sneeuval nie, maar Sandes en Griesel kan swaar mis en swaar wolke op die platorand te wagte wees. Hulle kan moontlik verdwaal indien hul GPS buite werking is en die reddingshelikopter kan hulle moontlik nie bereik indien daar ʼn noodgeval is nie.

Die twee atlete sal hoofsaaklik 2 800 meter bo seespieël spandeer en sonder slaap moet klaarkom.

Klik hier om meer uit te vind oor die twee atlete en om hulle van 23 Maart regstreeks te volg. Die poging, Drakensberg Grand Traverse, kan ook met #DrakTraverse op Twitter gevolg word.

Bron: RedBull

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.