Video: ‘Bedelaar’ toe ʼn gryp-en-spaander-aanvaller

'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

ʼn Gryp-en-spaander-aanvaller wat homself as ʼn bedelaar voordoen, is op video afgeneem waar hy Donderdagaand op ʼn niksvermoedende slagoffer tydens spitsverkeer in Johannesburg toegeslaan het.

Craig Jennings het die voorval met ʼn aanboordkamera op sy voertuig afgeneem en op YouTube gelaai. Jennings skryf die voorval het omstreeks 18:20 op ʼn brug in Witkoppenweg naby die Cambridgeweg-kruising plaasgevind.

Dit wil voorkom of die verdagte langs die pad bedel, terwyl ʼn tweede man vir sy makker uitkyk en hul ontsnappingsroete oophou.

Die verdagte loer blitsig by die vroulike slagoffer se voertuig in, staan dan terug, gooi iets na die venster en duik dan in die motor in. Kort daarna spring hy en sy vermeende medepligtige oor die versperring langs die brug en verdwyn uit sig.

Jennings het gesê die vrou het ʼn snywond aan haar arm opgedoen en was sigbaar geskok. Haar voertuig se vensters het kleefband op om gryp-en-spaander-aanvalle te voorkom. Die vrou se selfoon is gesteel. Hy doen ʼn beroep op mense om nie waardevolle items oop en bloot in voertuie te los nie.

Volgens André Snyman, stigter van die misdaadbekampingsorganisasie eBlockwatch, is die spesifieke gebied ʼn probleemarea, nes enige brug wat ʼn besige pad kruis en waar daar nie ʼn afrit is nie. Die verdagtes se wegkommotor staan gewoonlik onder die brug geparkeer en is maklik toeganklik vir die oortreders wat soontoe vlug terwyl die slagoffer bo die brug gestrand is.

Die polisie was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

THEA SWART ·

geen wonder ek gee niks vir niemand mee nie en ek sluit my handsak agter in my kattebak toe so ek ry rustig sonder enige loervrate wat wil gryp

ELAINE ·

Ons is ook deur iemand wat pamflette uitdeel gevang hy was so goed dit is of hulle gaan vir “training” hy het sy pamphlet met die een hand ingedruk en my verloofde se hangertjie met die ander gegryp en die snaakste is die venster was so 7cm oop vandaar het ons Bubbles op so jy kan nog jou venster daai stukke oopmaak ons het aircon maar ai ek verkies die vars lug. Hoop die raad sal ander help Groete

Susan ·

Ek is op presies dieselfde manier gevang met die pamflette. Ek sluit ook alles in die kattebak toe.

Hannelie ·

“Die voertuig se vensters het kleefband op om die gryp-en-spaander aanvalle te voorkom.” Beteken dit dat die “kleefband” nie gehelp het om die booswig te keer nie? Daardie “voorsorg” instalasie het ons ‘n klomp rand gekos!

Susan ·

Die film hou die glasskerwe bymekaar en voorkom beserings van vlieënde glasskerwe. Dit maak egter ook die vensters donker sodat mens nie so maklik in die kar kan insien nie.

Lillian ·

Ek stem, wonder nou wat gaan die vervaardigers daarvan sê … of het die gemors alweer ‘n manier uitgevind om die kleefband te sny en sodoende toegang te kry?

Asjas ·

Ek sluit ook alles on die kattebak toe. Toe word ek by ‘n padblokade afgetrek en was die meneer omtrent omgekrap toe ek nou eers rustig aftrek, kar veilig maak, gordel afhaal en toe uitklim en agtertoe stap om my persoonlik besonderhede uit te haal. Nee wat, jy gaan net eenkeer in jou lewe deur daai drama om alles te vervang!

Elfie ·

Mnr Andre Snyman sê volgens berig die kar van die spul word gewoonlik onder die brug geparkeer – nou hoe moeilik is dit vir polisie om gereeld daar ‘n draai te maak en die spul te verjaag? Maak dit waar jy kan moeilik om hul kriminele dade te pleeg. Kan iemand nie bottelstukke daar gaan gooi dat hul bande gesny kan word as hulle daar wil stop nie? Dis mos g’n stopplek en behoort dopgehou te word en so die goed uit te vang!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.