Video: Bejaardes ruk op oor borgtog vir ‘moordenaar’

Talle mense het voor die hof opgeruk. (Foto: Verskaf)

Bejaardes in Christiana en naburige dorpe in Noordwes het Donderdag na dié dorp se landdroshof opgeruk om die verdagte se aansoek om borgtog teen te staan. Hy het glo ʼn bejaarde sakeman op die dorp vermoor.

Die 78-jarige Callie van Heerden, eienaar van Callie’s Hardware in Christiana, is in Augustus deur twee verdagtes in sy huis oorrompel en later deur sy buurman dood aangetref.

ʼn Verdagte is kort ná die voorval in hegtenis geneem, maar nog een is steeds op vrye voet.

Die oorsaak van Van Heerden se dood is nog nie bekend nie, maar sal met behulp van ʼn nadoodse ondersoek bepaal word.

Die vermeende moordenaar se borgtogaansoek is Donderdag in die Christiana-landdroshof aangehoor. Die hof het egter die aansoek van die hand gewys en die verdagte bly dus vir eers agter tralies.

Bennie Potgieter, ʼn inwoner op die dorp, het voor die aanvang van die hofverrigtinge ʼn petisie met byna 1 300 handtekeninge aan die hof oorhandig in die hoop om dié aansoek teen te staan.

“Hoewel die beskuldigde regte het, het die inwoners en bejaardes van die dorp ook die reg om veilig te voel. Callie kon nie homself teen sy aanvallers beskerm nie, daarom is dit belangrik om ons bejaardes teen sulke misdrywe te beskerm.”

Potgieter het die optog binne net 24 uur gereël en die handtekeninge versamel.

“Ons is verlig dat borgtog nie dié keer toegestaan is nie,” het Potgieter gesê.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, het aan Maroela Media bevestig dat die verdagte se saak tot 23 September uitgestel is.

“Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek. Hy sal met sy volgende hofverskyning weer aansoek om borgtog kan doen,” het Mamothame gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Hoekom moet moordenaars en verkragters borg kry? Wat van hulle slagoffers se menseregte wat hulle ontneem is? Wees bly hulle het nie in die Bybel se tyd geleef nie, dan was hulle al lankal gestenig!!!!

Francois ·

Hy sal wel volgende keer losgelaat word. Dis mos n agtergeblewe se reg om dood te maak en te vat waarvoor hy nie gewerk het

Nico ·

Die beskuldigde het mos al sy regte verloor toe hy die misdaad gepleeg het, graag wil ek net weet van watter regte word hier gepraat.

Vicky ·

Mense moet mooi probeer verstaan..As jy ñ VERDAGTE is,is jy nog nie in ñ hof skuldig bevind nie. Die polisieman agter die counter kan WEET jy is skuldig,maar tot ñ hof dit beslis het,is jy onskuldig. Ons tronke en selle is oor bevolk met 70%,dis hoekom so baie VERDAGTES borg kry tot hulle moet voorkom in die hof.
S..A. se regstelsel het lankal gefaal.

Marcello ·

Aai! arme oumense, hulle is so weerloos, en dit is hoekom die lafaards hulle aanval. Oumense kan hulle self mos nie verdeig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.