Video: Besetters op Gauteng-plaas ná 2 weke verwyder

Die Rooimiere het Dinsdagoggend ingegryp en die besetters van ’n eiendom in Soshanguve verwyder. Foto: Verskaf

Sowat 1 000 Rooimiere, bygestaan deur ʼn span van AfriForum en die polisie, het Dinsdagoggend alle besetters van dr. Motodi Maserumule se eiendom noord van Pretoria verwyder.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê die besetters wat verlede maand meer as 100 hutte op die plaas naby Soshanguve opgerig het, het min weerstand gebied. “Hulle het ʼn paar buitebande aan die brand gesteek en een of twee petrolbomme gegooi, maar besef hulle het nie ʼn kans teen die Rooimiere nie.”

Teen 11:00 is alle onwettige bouwerk afgebreek en die grondgrypers verwyder. Cameron sê dis vreemd dat die besetters beweer hulle soek grond vir bewoning, maar eintlik daarop uit was om woonplekke op te rig met die oog daarop om dit te verhuur.

Hy beskryf vandag se optrede teen die grondbesetters as ʼn groot oorwinning vir AfriForum, maar sê: “Dis sleg dat dit so lank gevat het en die polisie nie hul werk gedoen het nie. Ons grootste uitdaging nou is om op te tree teen die polisie (wat hul plig versuim het).”

Vanoggend se opruiming volg nadat AfriForum Vrydag die tussentydse hofbevel wat hy verlede maand namens Maserumule bekom het, finaal kon laat bekragtig.

Ingevolge dié bevel moes die balju betreders verwyder wat Maserumule se grond onregmatig beset het. Die hooggeregshof in Pretoria het gelas die polisie moet die balju in die verwydering bystaan.

Die Rooimiere het omstreeks halfnege begin om die grondbesetters te verwyder. Foto: Verskaf

Cameron het Vrydag gesê die betreders het ’n prokureur opdrag gegee om die aansoek teen te staan, maar geen opponerende stukke is ontvang nie. Die betreders en hul verteenwoordiger het nie die hofverrigtinge bygewoon nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die groep onwettige besetters verteenwoordigers van AfriForum en ’n mediaspan vroeg verlede Maandagoggend met onder meer petrolbomme gedreig het toe hulle ’n onderhoud op Maserumule se eiendom wou voer.

Besetters het vroeër ’n sinkhuisie met die woord “Office” daarop opgerig en na bewering begin om erwe teen R500 stuk aan lede van die publiek te verkoop.

“Ons sal onverpoosd by soortgelyke optredes en aansoeke betrokke wees om seker te maak dat die verantwoordelike persone en liggame, waaronder die SAPD, tot verantwoording geroep word indien hulle nie hul verantwoordelikhede nakom nie,” het Cameron gesê.

Hy het grondeienaars gemaan om hul grond te omhein en alles in hul vermoë te doen om potensiële besetters te ontmoedig om hul grond te betree.

Maroela Media wag nog op die polisie om kommentaar te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mag ·

Mooi man! Dit is wat met die meeste plase en eiendom gaan gebeur wat oorhandig word, honderde onooglike sinkhuisies gaan in ‘n oogwink opgeslaan word en iemand daar gaan baie geld uit die mense maak want hul gaan vir elke posseel grote grond wat hul wil hê moet betaal aan die groepleier wat al vetter en ryker gaan word ten koste van die arm mense.

Elize ·

Waar kry hulle al die sinkplate vandaan? Genugtig lyk my dit kom uit die grond uit

Lana ·

Knap gegaan AfriForum en Rooimiere!!
Dis wat die polisie 2 weke gelede reeds moes gedoen het.

Patriot ·

Tragies dat Afriforum nie Pieter Boshoff van Limpopo en ander boere bystaan nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.