Video: Beskuldigdes gevonnis vir mangat-moord

Ná die vonnis het Johnson se pa, Bryan Swarts, en sy broer, Lebogang, hom emosioneel omhels en saam met hom gehuil voordat hy by die trappe afgeneem is na die hofselle toe. Foto: Phillip Bruwer

“Daar is geen bewyse voor die hof gelewer wat aandui dat die beskuldigdes enigsins berou het nie – eerder dalk spyt.”

Dít was die harde woorde van regter Bert Bam Dinsdag in die Pretoria-hooggeregshof waar drie mense gevonnis is in verband met die moord op Danie Dreyer (64), ʼn afgetrede polisiebeampte en sakeman van Pretoria. Dreyer is in 2016 in sy huis in Villieria dood.

Estelle Reddy (38), Dreyer se voormalige meisie; Gerhard Papenfus (44), Reddy se destydse kêrel; en Kevin Johnson (31) is aangekla van moord, roof met verswarende omstandighede, diefstal, regsverydeling, brandstigting en die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie. Papenfus is ook aangekla van die besit van dwelms.

Bam het Reddy en Papenfus Maandag skuldig bevind op al die aanklagte teen hulle. Hulle is Dinsdag albei tot lewenslange tronkstraf gevonnis op die aanklag van moord. Reddy en Papenfus is ook tot altesaam 53 jaar tronkstraf gevonnis in verband met die ander aanklagte. Papenfus is ook ʼn bykomende twee jaar tronkstraf opgelê op die aanklag van besit van dwelms (kristal-metamfetamien).

Johnson is Maandag skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede, diefstal en regsverydeling. Hy is vrygespreek op die aanklagte van brandstigting en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Hy is Dinsdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord en altesaam 28 jaar in verband met die ander aanklagte. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Estelle Reddy, Gerhard Papenfus en Kevin Johnson in die beskuldigdebank (22 Mei 2018). Foto: Phillip Bruwer

“As die beskuldigdes ware berou getoon het tydens die verhoor, sou dit ʼn beduidende invloed gehad het op sekere vonnisse. Dit was ʼn bose daad om ʼn man in die veiligheid van sy huis aan te val en dan op so ʼn manier van sy liggaam ontslae te probeer raak,” het Bam tydens die vonnisoplegging gesê.

Al drie beskuldigdes se regsverteenwoordigers het direk ná die vonnisoplegging aansoek gedoen om verlof tot appèl teen hul kliënte se skuldigbevindings. Bam het al drie se aansoeke van die hand gewys en gesê hy is nie daarvan oortuig dat ʼn ander hof tot ʼn ander beslissing sal kom nie.

Johnson se pa was ná die vonnis erg emosioneel voor sy seun na die aanhoudingselle geneem is.

Ruvan Regionald Furst, die drie se medebeskuldigde, is Woensdagoggend van die verhoor verskoon nadat sy saak van die ander drie s’n geskei is weens sy gesondheidsprobleme. Hy bly in aanhouding terwyl hy waarneming ondergaan en moet weer op 17 September in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Reddy het haar op 4 April 2016 by die Villieria-polisiestasie oorgegee, waarna sy die polisie gewys het waar Dreyer op 28 Maart 2016 in sy kamer in sy huis in Villieria vermoor is. Nadat sy liggaam verwyder is, is Dreyer se kamer aan die brand gesteek. Reddy het ook uitgewys waar Dreyer se liggaam in ʼn mangat in Capital Park gestort is, langs die huis in Flowerstraat, waar Papenfus woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Koos de Meyer. ·

Dis net jammer dat die doodstraf af geskaf is. Jou lewe in ons dierbare land is niks werd nie.

HPV ·

Koos, dierbare land? Nee vriend, helhool deur die anc geskep.

Amelia ·

julle het n pa en n vriend weg gevat van ons…. julle verdien baie baie meer as wat julle gekry het…

Shame ·

Shame.Dis nogal hartseer…MAAR waar was die emosies toe die moord gepleeg is? Lekker sit-Net jammer dis ten koste van belastingbetalers.

Belasting ·

Ou ek betaal lag lag my belasting om die gemors van die strate en van my erf af te hou. Belasting het baie voordele.

Annie ·

Bietjie van ‘n ligte vonnis – DOODSTRAF!!!! sou baie beter gewees het. Want nou moet ons belasting betalers vir hulle nog steed betaal om elke dag te lewe en kos te kry. Maar dis seker beter as om vir hulle borg te gee. Sterkte aan Dreyer se familie en vriende en vir die res van die families het ek geen simpatie nie.

Annelize ·

En dis nie die “spyt” oor wat hulle gedoen het nie, dis die “spyt” dat hulle uitgevang is. Daar is ‘n verskil.

Jan ·

As jy jou kinders groot maak volgens die Woord van God, behoort hierdie dinge nie te gebeur nie:

Effesiers 6:4 – “En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.”

Alida 2 ·

Jan ek is bly jy sê ”behoort nie te gebeur nie”
Baie ouers voed hulle kinders goed op en dra hulle in gebed op maar kinders maak verkeerde keuses.
Ons kan nie veralgemeen en alle blaam voor ouers lê nie.

christa ·

hy het niks gevoel toe die moordslagoffer geen genade betoon is nie. HY moet gee genade betoon word nie.

Sophia ·

Ai my hart is nog seer oor Danie so WREED weg is, hy het DIT nie verdien nie!! Maar die mense wat goed is vir ander kom mos maar altyd die slegste daarvan af… Bly egter dat sy familie afsluiting kan kry en dat hy nou in vrede kan rus. JY WAS EEN AWESOME MENS DANIE!!

Ano ·

Die straf gaan hom nooit terugbring nie, maar nou kan sy familie weet dat geregtigheid ge-seevier het. RIV Danie.

Ronel ·

Amelia hoe weet jy die mans op die foto is minderbevoorreg??

Leser ·

As hy maar die hartseer gehad het voordat hulle voortgegaan het met die moord, dan was hulle trane nou gespaar.

Peet J ·

“n Onskuldige ordentlike opgevoede persoon wat nog ‘n aanwins vir baie in hierdie lewe beteken het se dood , (sy liggaam ) op so ‘n afskuwelike wyse deur sy moordenaars probeer verdoesel was, is laakbaar en onmenslik ook gesien in die lig daarvan dat almal wat betrokke was daarby, alvorens die daad gepleeg sou word, seker finansieel bevoordeel sou moes word mag julle eendag alle voorspoed ondervind in die verderf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.