[Video] Bewys ontvang dat SA’ner in Mali steeds lewe

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Die organisasie Gift of the Givers het ʼn videoboodskap ontvang as bewys dat die Suid-Afrikaner Stephen McGown, wat al vier jaar lank in Mali deur Al-Kaïda gyselaar gehou word, steeds lewe.

Die organisasie het in November bevestig hy het uiteindelik kontak gemaak met die persone wat Stephen McGown van Johannesburg en ʼn man van Swede, Johan Gustafson, aanhou.

“Ons is versoek om persoonlik beeldmateriaal af te haal wat met die twee gyselaars verband hou,” het Imtiaz Sooliman gesê. “Ons onderhandelaar in Mali, Mohamed Yehia Dicko, het op 25 November in Bamako aangekom. Dit was op daardie dag presies vier jaar sedert die ontvoering.”

Volgens Sooliman het hulle die hele week lank gespanne moes wag en moes baie geduldig wees. “Ons het tussen drie en vier oproepe per dag ontvang deur die bemiddelaar wat om verskoning gevra het en gesê het ʼn video sal binnekort gereed wees.”

Gift of the Givers het Dinsdag, 1 Desember, uiteindelik omstreeks 13:00 twee video’s ontvang, een van elke gyselaar.

Die video’s is op 20 Oktober verfilm. “Indien ons kommunikasie die afgelope paar weke in ag geneem word, is die inhoud en datum van die video absoluut geloofwaardig en realisties,” het Sooliman bygevoeg. “Ons is veral dankbaar dat die gyselaars bewus is daarvan dat onderhandelings plaasvind om hul vrylating te verseker. Dit sal ongetwyfeld vir hulle baie hoop gee.”

Sooliman het gesê die pad vorentoe is nog lank, maar hulle maak vordering.

Gift of the Givers het vroeër die Suid-Afrikaner, Yolande Korkie, se vrylating verseker nadat sy op 10 Januarie 2014 deur Al-Kaïda ontvoer is. Haar man, Pierre Korkie, is tydens ʼn onsuksesvolle reddingspoging deur die Amerikaanse weermag oorlede.

Lees alle vorige berigte oor Stephen McGown op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.