Video: Bewyse ontvang dat ontvoerde SA joernalis nog lewe

‘n Skermgreep uit die video. (Video verskaf via ANA)

Die rampverligtingsorganisasie Gift of the Givers het bewyse ontvang dat Shiraaz Mahomed, die Suid-Afrikaanse joernalis wat in Januarie 2017 in Sirië ontvoer is, wel nog lewe.

Imtiaz Sooliman, woordvoerder van Gift of the Givers, het Sondag bevestig die organisasie het ʼn video ontvang as bewys dat Mahomed nog lewe. (Video volg onderaan berig.)

“Die het twee jaar en drie maande geneem, maar uiteindelik het Gift of the Givers bewyse ontvang dat [Mahomed] wat op 10 Januarie 2017 in die omgewing van Gift of the Givers se Ah Rahma-hospitaal in Darkoush, Sirië, ontvoer is, nog lewe,” het Sooliman gesê.

“As fotojoernalis, met ʼn passie om die swaarkry van gemeenskappe in nood vas te vang, wou hy die tragedie van die Siriese mense aan die wêreld wys deur middel van foto’s. Shiraaz is daarvan beskuldig dat hy ʼn buitelandse spioen is, ʼn oneerlike manier om die aanhouding van ʼn onskuldige man te regverdig,” het hy gesê.

Op 8 Januarie 2018 is die eerste bewys van lewe ontvang in die vorm van antwoorde op tien persoonlike vrae wat net Mahomed sou kon beantwoord. Sooliman sê die antwoorde op die vrae was akkuraat en daar was by Mahomed se familie geen twyfel dat dit wel van hom af kom nie.

Hy sê dit was sedert Mahomed se ontvoering ʼn baie moeilike tyd waarin die organisasie groot netwerke van mense ingespan het om te probeer bepaal waar Mahomed aangehou word.

“Die video as bewys van lewe, wat op 13 April 2019 gemaak is, is op 26 April om 22:00 via WhatsApp ontvang. Shiraaz se familie is baie emosioneel, verheug, vol hoop en dankbaar teenoor die Here. Hulle het geweet Shiraaz lewe nog,” sê Sooliman.

“’n Belangrike gebeurtenis op 12 April het daartoe gelei dat ons hierdie belangrike video ontvang het. Waardevolle inligting is oor die tydperk van sy aanhouding versamel. Die video verskaf ook belangrike inligting. Ons kan vir eers nie meer besonderhede bekendmaak nie aangesien baie lewens in gevaar kan wees.”

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het Sondagaand in ʼn kort verklaring gesê hy neem kennis van die video wat deur Gift of the Givers uitgereik is.

“Dirco was in kontak met die familie en sal voortgaan om met die familie in gesprek te tree rakende die kwessie. Geen verdere inligting sal deur Dirco gegee word nie en geen media-onderhoude sal deur Dirco toegestaan word nie weens die sensitiwiteit van die saak,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johanna Botha ·

Dit wat hulle se en dit wat hulke doen is werelde van mekaar ….ek verstaan nie hoe hulle wegkom met dit nie.

HPV ·

Johanna, net soos malema hier wegkom daarmee kom hulle weg. Hulle smeek vir ‘n derde wêreld oorlog, net so soek malema en ander radikale vir ‘n burgeroorlog in die land.

Toontjie ·

Wel, ongelukkig is daar radikales. Mag hierdie man se lewe gered word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.