Video: Bokke, Aussies kuier saam ná tawwe wedstryd

‘n Video van Eben Etzebeth en Allan Alalaatoa wat saam kuier ná Saterdag se wedstryd in Sydney, word wyd op sosialemedia gedeel. (Foto: Skermgreep)

Die vurige woordewisseling Saterdag op die rugbyveld in Sydney, Australië, tussen die rugbyreuse Eben Etzebeth en Allan Alalaatoa, het skynbaar nie blywende nagevolge gehad nie.

ʼn Video wat wys hoe die Bok-slot en Aussie-stut Saterdag ná die wedstryd saam ʼn biertjie knak, het sosialemediagebruikers gaande en is al meer as 1 miljoen keer op Twitter gekyk. Dit is ook reeds meer as 8 500 keer op Facebook gedeel.

In die video haal Alalaatoa ʼn paar verversings uit ʼn yskas en stap dan na Etzebeth toe, waarna hulle saam gesels en kuier.

Die video wys ook hoe ander spanlede, soos Willie le Roux en Franco Mostert, saam met ander lede van die Australiese span kuier.

Etzebeth en Alalaatoa se onderonsie, waartydens Etzebeth en die Wallabies-stut byna handgemeen geraak het, het wêreldwyd hoofopskrifte gehaal.

Suid-Afrika het die Australiërs tydens Saterdag se Rugbywêreldkampioenskap met 24-8 geklop.

Maar daar is skynbaar geen kwade gevoelens nie. “Meer as rugby,” het die Wallabies oor die video op hulle Twitter- en Facebook-bladsye gesê.

Sosialemediagebruikers is ook gaande oor die video en honderde mense het kommentaar gelewer oor die “goeie sportmanskap” waarvan die video getuig.

“Dis waarom rugby die beste sport op die planeet is!” het een Twitter-gebruiker gesê.

“Soveel respek, neem nie emosies van die veld af nie,” het nog iemand op Twitter geskryf.

“Dis so goed vir kinders om dit te sien en hoe om konflik te hanteer, wat deel is van enige sportspan – en die lewe,” het ʼn Facebook-gebruiker gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Tien uit tien! Dit is nou voorwaar goeie sportmanskap!

Treurwilger ·

Lekker saam kuier is goed en mooi, maar goeie sportmanskap hoort op die sportveld.

twaalfboor ·

Sal jy verkies dat as die Aussies punte aanteken dat die Bokke vir hulle ñ luide toejuiging en hande klap gee. Die spel is op die veld met al sy grille en geite. Sportmanskap is van die veld af na die wedstryd. GROOT verskil.

efjy ·

Kan iemand nie verslag doen oor die huidige puntestand in die rugby kampioenskap nie. Asseblief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.