Video: Britse gesin deur branderplankryers gered

Foto: Marc Rodgers/NSRI

Foto: Marc Rodgers/NSRI

Twee branderplankryers het Donderdagmiddag tot die redding gekom van drie Britse toeriste wat in die see by Plettenbergbaai in die moeilikheid beland het.

Marc Rodgers, die bevelvoerder van die plaaslike stasie van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê ʼn 52-jarige pa, sy 15-jarige dogter en sy 18-jarige seun het in die see geswem toe hulle deur seestrome meegesleur is.

Jock Kannemeyer en Andy Fermor, twee branderplankryers wat in hierdie stadium op die strand was, het gesien wat gebeur en die see in geswem om die gesin te help. “Ongeveer 100 meter van die strand af het die branderplankryers die pa en twee kinders bereik. Hulle het die pa op een branderplank geplaas en die seun op die ander branderplank terwyl hulle die dogter vasgehou het om te keer dat sy onder die water verdwyn,” het Rodgers gesê.

Die ma van die gesin was in hierdie tyd op die strand en het die reddingspoging van daar aanskou.

Die seestrome was egter te sterk vir die branderplankryers om met die drie mense terug te swem strand toe en hulle het dus net gesorg dat almal bymekaar bly terwyl hulle vir hulp gewag het.

“Die NSRI se Plettenbergbaai-bemanning het gereageer deur dadelik lewensredders en ʼn reddingsboot uit te stuur,” het Rodgers gesê. “Een van die branderplankryers, met sy branderplank, kon daarin slaag om op die reddingsboot te kom, terwyl die ander mense deur die lewensredders na die strand gebring is.”

Volgens Rodgers het die pa tekens getoon van erge uitputting en byna-verdrinking en is hy op die strand behandel voordat hy na ʼn hospitaal geneem is. Die twee kinders was skynbaar nie beseer nie, maar is ook na ʼn hospitaal geneem om deur ʼn dokter ondersoek te word.

Die gesin kom glo van Newcastle Upon Tyne in Engeland en was in Plettenbergbaai met vakansie toe die voorval gebeur het. Rodgers het Kannemeyer en Fermor geloof vir hul dapper optrede om die gesin te red.

Die NSRI het ʼn video van die reddingspoging op YouTube gedeel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Drieks ·

Laas Oktober het ‘n pas getroude britse paartjie daar verdrink. Wat doen Plettenbergbaai om hierdie mense genoeg te waarsku teen die see.

KarooKlong ·

Hulle moet dalk die waarskuwings in brits skryf.
In Plet swem jy net in Afrikaans.

Cherokee ·

As die mense net wil onthou die see is (byna net)so onvoorspelbaar soos ‘n vroumens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.