[Video] Comrades: Camille Herron wen vrouetitel

Die Amerikaner Camille Herron is die vrouewenner van die 2017 Comrades Marathon. Foto: Twitter

Die Amerikaner Camille Herron was Sondag die vrouewenner van die 2017 Comrades Marathon wat van Durban na Pietermaritzburg gehardloop is.

Herron het die wedloop in ses ure, 27 minute en 35 sekondes voltooi. Rusland se Alexandra Morozova het in ses ure, 31 minute en 45 sekondes tweede oor die wenstreep gehardloop. Charne Bosman was die eerste Suid-Afrikaner oor die wenstreep en het met ʼn tyd van ses ure, 39 minute en 51 sekondes die derdeplek ingepalm.

In die laaste 500 m van die wedloop het Herron toeskouers laat wonder of sy wel die wedloop gaan wen toe sy ophou hardloop het voordat sy heeltemal oor die eindstreep was. Herron, wat duidelik onder die indruk was dat sy reeds die wedloop voltooi het, het met toeskouers hand geskud en vir die skare gewaai terwyl sy stadig aangestap het na die wenstreep.

Uiteindelik het ʼn manlike hardloper van agter gekom en vir Herron aangedui dat sy nog nie oor die wenstreep is nie. Sy het vinnig terug in aksie gespring en oor die wenstreep gesnel.

Herron het sedert die begin van die uitmergelende 89 km-wedloop die voortou geneem en het deurentyd die eerste posisie behou. Bosman, verlede jaar se Comrades-vrouewenner, was soos verwag ʼn sterk teenstander dwarsdeur die wedloop, maar moes uiteindelik die knie voor Herron buig.

Herron was by die eerste kontrolepunt op 18 km reeds vier minute voor die res. Teen 30 km was sy ses minute en 44 sekondes voor Bosman wat tweede verby daardie punt is. Teen die 42 km-kontrolepunt het Morozova egter vir Bosman verbygesteek om die tweede plek in te neem.

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaner Bongmusa Mthembu het Sondagoggend as die manswenner van die 2017 Comrades Marathon weggestap met ʼn tyd van vyf ure 35 minute en 34 sekondes. Hatiwande Nyamande van Zimbabwe het tweede van die mans klaargemaak met ʼn tyd van vyf ure, 38 minute en 46 sekondes. In die derde plek was die Suid-Afrikaner Gift Kelehe met ʼn tyd van vyf ure, 41 minute en 48 sekondes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

graskopper ·

heels geluk Charne. ons graskoppers is trots op jou prestasie aan gesien jy ons ou stukkende dorpe genies het om te oefen. baie sterkte vorentoe.

Cherokee ·

Om elfuur die wegtrekpad gery na Riverside en dele daarvan was steeds afgesper. Ek kyk na die video van haar verwelkoming toe sy oor die sperstreep hardloop en dink daaroor dat die wedren deur blankes ingestel is en die kontras daarmee en dat blankes nie meer welkom is maar wat nagelaat word, word met dubbelhande gegryp.

Lol ·

Kan Nedbank hulle begroting en onkostes van oorsese vroulike atlete vs plaaslike vroulike atlete bekend maak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.