Video: DA-leier antwoord self leerling se versoek

Foto: Facebook

Carla Coetzee. Foto: Facebook

Carla Coetzee, ʼn gr. 6-leerling van Laerskool Garsfontein, het ʼn groot verrassing gekry toe Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie (DA), vir haar ʼn video gemaak het om haar te bedank vir die skrywe wat sy aan hom gerig het.

Carla het ongeveer drie weke gelede kontak met Maimane probeer maak oor ʼn taak waarmee sy besig was in sosiale wetenskappe (SW). Volgens Carla se ma, Amanda, het die taak gehandel oor iemand wat ʼn bydrae lewer tot die demokratiese proses. “Sy het Mmusi gekies omdat hy ʼn persoon is wat vir haar uitstaan en omdat sy hom ook baie in die nuus sien.” Amanda meen dat Maimane ʼn persoon is na wie Carla opsien en dat sy ook beïndruk is met die feit dat hy ses tale kan praat.

Die korrespondensie het ʼn redelike tyd gevat omdat Maimane baie op die pad is, maar Carla het gereeld met sy sekretaresse kontak gemaak en só haar inligting vir die taak gekry.

Amanda sê die video was persoonlik deur Maimane gestuur en dat Carla eers ʼn bietjie oorweldig was toe sy die video gesien het. “Sy is nou baie opgewonde oor die reaksie wat die video kry.”

Carla se onderwyser, Dries Vermeulen, het die video op sy Facebook-blad gedeel nadat hy Carla se projek saam met die video Vrydag ontvang het. “(Dis wonderlik) wanneer ʼn kind in my klas al die moeite doen om met Mmusi Maimane kontak te maak, en hy ’n video persoonlik aan haar rig,” het hy geskryf. Vermeulen het bygevoeg Maimane het gesê hy hoop Carla kry ’n goeie punt.

Vir Carla se ma is dit merkwaardig dat Maimane die video gemaak het. “Dit gebeur nie eintlik dat sulke sleutelpersone soveel moeite doen nie.”

Die video is tot dusver meer as 45 000 keer gekyk en meer as 2 700 keer gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Annie ·

Fantasties. Hy is darem maar ‘n “gentleman”. Meer as wat Zuma kan se.

anet ·

Ek stem met jou Annie. Mmusi het nog altyd opgtree met respek teenoor alle mense.

Se maar net ·

Shoe Rynhardt maar jy is uitgesproke… Onthou net – partykeer is ‘n goeie daad net ‘n goeie daad en jou agterdog spreek meer oor jou as oor Mmusi se sogenaamde propaganda

André ·

Ek ‘like’ hierdie ou! Hy kry my stem in die volgende nasionale verskiesing.

Susan ·

Rynhardt, laat die son tog op ander ook skyn toe? Dit is werklik inspirerend om te sien mense doen moeite met mekaar en is bereid om van hulself te gee (beide die leerder en die leier).

Kwagga ·

Antwoord my hierdie vraag? Wat die DA oor plaas moorde? Hoekom sien ek net Agriforum wat probeer planne maak en hulp gee. Mmusi ek glo jy is die antwoord vir die land maar regtig ons het hulp nodig teen plaas aanvalle. Drie in die laaste 48uur.

Kwagga nr 2 ·

Kwagga………..sien jy is erg beswaard. Sluk ‘n “chill” pill. Sien dit in die lig waarin dit bedoel is……hy het ‘n leerder gehelp in ‘n projek………moes hy daardeur sy politieke probleme van die land uitsorteer………dink jy is bietjie kortsigtig……..vra vir Zuma om dit te doen………en (LOL) niks in die lewe is kits nie……….moenie “issues” verwar nie Kwagga

Phil ·

Ek Verstaan eerlik waar nie waar helfde van hierdie mense leer tik het nie… Sien, mens gebruik 3 punte (ellips) en nie die hele paragraaf deur nie.

Henry ·

Afgesien van die sogenaamde demokratiese proses wat besig is om op unieke Afrika wyse in hierdie droewe land af te speel, wonder ek wat die ou oor transformasie, regstellende aksie, BEE, behoud van Afrikaans op tradisionele Afrikaanse universiteite en skole, sport kwotas, plaasmoorde – spesifiek swart op wit geweld ens ens ens., te sê het.
Hy hoef nie ‘n video te maak en dit persoonlik aan my te stuur nie.
La’ waai sommer hier op Maroela en vertel ons spul Afrikaners dat alles hankie dorie gaan wees as en wanneer julle wonderlike party die leisels eendag vat.

Ansie ·

Lees nou eers jou antwoord, nerens in die video geen Mnr Maimane versprei Mnr Maimane iets dat alles hankie dore gaan wees nie, Hy moedig bloot ‘n leerder aan. Refeksie van sy waardestelsel

pop ·

Mmusi ek “like” jou styl. En wraggies as ek na die Kaap kyk, dan kry jy my stem verseker. Dankie tog daar is nog n ordentlike opgevoede man in die parlement. Jy lyk en tree altyd waardig op. Ek is heeltyd so negatief oor ons land en dan kom doen jy een klein dingetjie om my dag te maak. Jy het daai dogter ook baie gelukkig gemaak.

Pop se kind ·

Pop ek “like” ook sy styl en gaan beslis ver hom stem

Wos ·

Baie positiewe “brawe” poging van so jong leerder!!!!!! Go for it girl………….

Klein Mevrou ·

Ongelooflik bedagsaam van hom – Is dit ‘n refleksie van sy waardestelsel

Antionette ·

Het by die skool hiervan gehoor – welgedaan Laerskool Garsfontein

Adri ·

Ek lees liewers Mr Maimane was ook ‘n jeugleier dit is seker hoekom hy ‘n sagte plekkie het vir kinders

Adriaan ·

Harlik geluk aan die leerder, onderwyser en Mmusi Maimane – Gaaf can hom

Blinkservaas ·

Dit is nou ‘n klomp nonsens, word wakker mense dit is bloot ‘n verkiesingsfoefie

Ansie ·

Blinkservaas – Jy is omtrent suur man – hemel – die man het bloot die klind gehelp

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.