Video: ‘Dalk was Jayde se moord net ʼn transaksie’

Christopher Panayiotou in die hof. Foto: ANA

Regter Dayalin Chetty wat Christopher Panayiotou Vrydag tot lewenslange tronkstraf gevonnis het vir die moord op sy vrou, Jayde, het in sy uitspraak gesê Panayiotou het geen berou getoon nie en weier om verantwoordelikheid vir sy aksies te neem.

“Daar is maande lank aan die teregstelling beplan. Dit het ʼn rits potensiële huurmoordenaars ingesluit en toe die gewillige moordenaar uiteindelik gevind is, is tyd, geld en energie spandeer om seker te maak die moord word suksesvol uitgevoer,” het Chetty in sy uitspraak gesê.

“Intussen was Jayde salig onbewus dat die man met wie sy haar bed gedeel het ʼn proses aan die gang gesit het wat uiteindelik tot haar dood sou lei. Terwyl die video in hierdie hof gespeel is en [Panayiotou] se betrokkenheid by haar moord ontbloot is, was hy nonchalant. Miskien was dit vir hom maar net ʼn transaksie, gegewe sy vernuf daarmee.”

Die Inggs-familie in die hof. Foto: ANA

Jayde se familie het opgespring van vreugde toe Chetty die vonnis uitgelees het. Hulle het drie vingers in die lug opgehou, ʼn simbool uit Hunger Games, een van Jayde se gunsteling-rolprente.

Maroela Media het vroeër berig Panayiotou se medebeskuldigde, Sinethemba Nenembe, is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Jayde, asook ʼn bykomende 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede. Zolani Sibeko is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir sameswering tot moord.

Jayde is op die oggend van 21 April 2015 buite die Stellen Glen-kompleks in Kabegapark ontvoer waar sy gestaan en wag het vir ʼn saamrygeleentheid werk toe. Haar liggaam is die volgende dag in ʼn afgeleë gebied naby die Kwanobuhle-township buite Uitenhage gevind. Sy is drie keer geskiet, twee keer in haar rug en een keer in haar kop.

Michelle Inggs, Jayde se ma, het gesê die familie is tevrede met die vonnisse wat die drie mans opgelê is.

Christoper Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die hof. Foto: ANA

Panayiotou het, soos die geval deur die verhoor was, emosieloos in die beskuldigdebank gesit terwyl hy vonnis is. Chetty het in sy uitspraak gesê dit was van die begin van die verhoor duidelik dat Panayiotou geen verantwoordelikheid vir sy optrede aanvaar nie. “Soos die bewyse ontvou en die orkestrasie van Jayde se moord aan die lig gekom het, het hy nonchalant en uitdagend gebly en ten spyte van die magdom bewyse teen hom, voortgegaan om alle verantwoordelikheid te ontken.”

Chetty het gesê die afwesigheid van berou by Panayiotou klop ook met die aanduiding van sy regspanne dat hulle teen sy skuldigbevinding sal appelleer – nog voordat ʼn vonnisdatum vasgestel is.

Chetty het gesê hy het geen twyfel dat om Jayde se lewelose liggaam te sien haar pa, Derrick Inggs, sowel as haar skoonpa, Costa Panayiotou, tot trane gedryf het nie. Hy meen egter indien Christopher wel enige trane gestort het, was dit, gegewe sy orkestrasie van Jayde se dood, net krokodiltrane.

Panayiotou se regspan sal na verwagting op 13 Desember ʼn aansoek voor die hof bring om verlof tot appèl teen Panayiotou se skuldigbevinding.

Kyk hier na die reaksie in die hof kort nadat Panayiotou, Nenembe en Sibeko gevonnis is:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pop ·

3 mans op die oomblik in hof omdat hulle die vrou wat hulle belowe het om te beskerm, vermoor het. Hoe nou? , moet alle jong vrouens bang wees om te trou of naby n man te kom. Daai vrouens het ook die man in hulle lewe vertrou.

Willemien ·

Wonder of dit ooit by haar opgekom het dat die man wat sy op haar huweliksdag met haar lewe vertrou het, so spoedig vir haar dood verantwoordelik sou wees…. Glo nie.

Ja nee ·

Puik gestel. Ja nee emosieloos en beslis NET ‘n sake transaksie. Begrafnis het alles bevestig van sy puik toneel spel….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.