[Video] Derby-Lewis vertel van Hani-moord

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis het in sy laaste onderhoud voor sy dood verduidelik wat tot die moord op SAKP-leier Chris Hani gelei het en die proses wat daarna by die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) gevolg het.

Volgens Derby-Lewis het Hani groot steun onder die radikale jeug gehad. “Ons was in ʼn staat van oorlog. Ongelukkig het die veiligheidsmagte dit so goed beheer dat die man op straat dit nie geweet het nie,” sê Derby-Lewis in die onderhoud wat op 2 September vanjaar opgeneem is. Ernst Roets, uitvoerende hoof van Forum Films, het die onderhoud gevoer. Derby-Lewis is op 3 November oorlede.

“In ʼn tyd van oorlog is enigiets aanvaarbaar. Ek glo een van die groot probleme met Chris Hani was dat hy ʼn kommunis was wat nie in God geglo het nie. Ek het hom as deel van die Antichris gesien.” Volgens Derby-Lewis het hulle destyds ʼn beweging begin wat gebruik is om Engelssprekende mense te bereik en hulle van die Konserwatiewe Party se beleid in te lig.

“Janusz [Walus] het geïnteresseerd geraak in die beweging en het na ʼn vergadering gekom. Hy het betrokke geraak en ons het gereeld politieke gesprekke gevoer. Toe [FW] De Klerk ʼn verbod op verkiesings op parlementêre en munisipale vlak geplaas het, het ek as senior lid van die Konserwatiewe Party gedink hoe kan ons dit keer. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat ʼn mens iemand soos Chris Hani met ʼn groot groep radikale volgelinge moet uithaal aangesien dit tot gevolg kon hê dat Suid-Afrika onregeerbaar sou wees.”

Volgens Derby-Lewis het hy dit met Walus bespreek. “Hy het gesê hy sou bereid wees om die skietwerk te doen. Ek kon hom nie opdrag gee om moord te pleeg nie. Hy het vrywillig besluit om dit te doen, maar dit het ingepas by die plan en sover dit my aangegaan het, was dit ʼn politieke doel. Ek het vir hom gesê as jy dit wil doen, dan doen jy dit, maar jy hou my daaruit.”

Roets het Derby-Lewis gevra of die moord op Hani noukeurig beplan was, soos of daar op ʼn datum en plek besluit is. “Nee. Ons het vuurwapens bymekaargemaak ingeval De Klerk sou besluit om alle wapenlisensies te kanselleer. So, ons moes ongelisensieerde vuurwapens bymekaarmaak. Ek het ʼn 9 mm-pistool in die hande gekry en ʼn knaldemper laat opsit. Walus het ʼn ongelisensieerde vuurwapen nodig gehad en ek het dit vir hom gegee. ʼn Vuurwapen met ʼn knaldemper het spesiale ammunisie nodig en ek het onderneem om daai ammunisie vir hom in die hande te kry.”

Volgens Derby-Lewis was hy nie oortuig dit was die regte ding om te doen nie. “Maar ongelukkig het ek nie geweet dat Walus sy eie 9 mm-pistool gehad het nie. Hy het die een wat ek vir hom gegee het, getoets en probleme ondervind met die knaldemper. So, hy het van die knaldemper ontslae geraak en toe ammunisie gaan koop vir sy 9 mm. Hy het dit en die vuurwapen wat ek verskaf het, gebruik.”

Derby-Lewis het gesê hy en sy vrou het die dag van die moord op Hani by vriende in Krugersdorp gekuier. “Die telefoon het gelui en die vrou het teruggekom en gesê Chris Hani is geskiet. Ek het geweldig verlig gevoel, want ek het gedink dit kan nie Walus wees nie aangesien ek die ammunisie gehad het wat hy nodig sou hê.” Volgens Derby-Lewis het hy egter die Sondag uitgevind dit was Walus.

“Toe ons oor die moord gepraat het, het ek vir hom ʼn groot pers pruik gereël om te dra, indien hy sou voortgaan. So, mense sou na die pruik kyk en nie sy gesig nie en sou hom dus nie kon identifiseer nie. Hy was ook veronderstel om die motor se nommerplaat te verander. Die enigste opdrag wat ek eintlik vir hom gegee het, was dat niemand anders buiten Hani moes seer kry nie.”

Volgens Derby-Lewis het Walus die dag van die moord Hani se bewegings in die Dawn Park-gebied in Boksburg verken. “Hy het gesien dat Hani nie lyfwagte het nie en gedink dis die gulde geleentheid. Ek het uitdruklik vir hom gesê om dit nie oor die Paasnaweek te doen nie.”

Hani is op 10 April 1993 buite sy huis doodgeskiet. Volgens Derby-Lewis is Walus dieselfde dag in hegtenis geneem. “Ek is nie dadelik in hegtenis geneem nie. Ná weke lange ondervraging het die veiligheidspersoneel hom vol bier gemaak en kon toe daarin slaag om hom te oortuig dat hulle politiek gesproke aan ons kant is en dat hy die persoon of persone wat hom gehelp het, moet waarsku sodat hulle dadelik landuit kan vlug. Dit is hoe ek daarby betrek is.”

Volgens Derby-Lewis is daar tydens sy hofsaak ʼn saak van omstandigheidsgetuienis aangegee en die oorhandiging van die moordwapen was noodsaaklik hiervoor. ʼn Huishulp het getuig sy het gesien hoe Derby-Lewis die wapen aan Walus oorhandig het. Derby-Lewis het gesê dit is onmoontlik dat die huishulp dit sou kon sien. Hy is egter skuldig bevind aan sameswering tot moord en is die doodstraf opgelê.

Volgens Derby-Lewis was een van die bepalings van die WVK dat die komitee verteenwoordigend moes wees van die Suid-Afrikaanse bevolking. “Daar moes met ander woorde ʼn Afrikaner in die komitee gewees het. Die Afrikaner in die paneel was vroeër ʼn kollega van my in die parlement en hy is later met ʼn bruin persoon vervang. So, die komitee was nie meer verteenwoordigend nie.”

Derby-Lewis het gesê dit was na afloop van die WVK se verhore duidelik dat die hele proses ʼn “vertoonvenster” was om vir mense te wys hoe die ANC-regering met die opposisie omgaan. “Die wetgewing vir die kommissie het verskeie klousules bevat en een daarvan was dat jy amnestie kon kry indien dit ʼn politieke oortreding was. Jy moes van jou politieke party opdrag gekry het om dit te doen.”

Volgens Derby-Lewis het hy aangevoer dat sy posisie in die KP destyds soortgelyk aan dié van ʼn kabinetsminister was en dat hy in dié hoedanigheid die besluit geneem het. “Hulle het die klousule gebruik dat my party nie die opdrag gegee het nie. Die party het toe aangevoer dat ek dalk gedink het dit sou tot voordeel wees van die party, maar dat hulle nie ʼn beleid van geweld gehad het nie.”

Deel drie en vier van die onderhoud word later dié week bekend gemaak.

Hier volg die volledige tweede deel van die onderhoud:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lee ·

Ek glo dit nie vir een oomblik dat Derby Lewis dit gereel het nie. Ek persoonlik dink hy het opdrag van ‘n hoër mag gekry. Ek kan verkeerd wees maar hoekom het hy nooit voorheen iets gesê nie en nou is die videos bekend gemaak na sy dood. Ek ruik ‘n rot….

Ronel ·

Baie goed van die vorige EN (meer van die) huidige regering stink. Mense moet net onthou. ‘n Leuen het kort beentjies…

jaco ·

Is die dood van die KP-leier Dr A.P. Treurnicht, skaars 2 weke ná Hani, al ooit ondersoek? Dit was glo ‘n hartaanval in ‘n hospitaal, maar het FW en wie. nie dalk daar ook ‘n “finger in the pie” gehad nie?

Jdp ·

Wat my aanbetref is Clive se eie dood verdag. Hy lyk nie op hierdie video soos iemand wat nie eers 2 mde later dpod sou wees agv gesondheidredes

nhk ·

As die land toe in n oorlog stryd was…in watter stryd is die land nou

Johannes Meintjes ·

Die stryd tussen lig en donker het nog nooit opgehou nie. Dit eskaleer. Die probleem is na mening dat die wie die waarheid ken, ook en veral vanuit die Skrif, kop in die sand bly sit of bloot apaties toekyk sonder om al die meganismes en strukture tot ons daaglikse regsgeldige beskikking, konstruktief en deurdag daarteen te benut. Die Christen, vanuit die kerkbanke, behoort op elke moontlike terrein van die samelewing ‘n stigtende inset te kan lewer, – of dit nou d.m.v. die buurtwag, GPF, skoolraad, kerkraad, verkiessings of bestuur in die werkplek is. Dit gebeur eenvoudig dikwels of meestal gad nie, – voer ek aan.

GJ de C K ·

Dit is wat dit is. Laat staan maar die agterdog.

Die tragedie is dat die nodige militêre leierskap in gebreke gebly het om die geleentheid te benut – soos wat ‘n Duke of Wellington, George Washington, Harry Smith of Andries Pretorius sou doen.

Ons latere diensplig stelsel was aan die einde van die dag suksesvol met EEN misie: “Bestuurde passiwiteit”. En in ons uur van krisis was en is ons steeds effektief passief! Oorwin van binne af, maar hopelik nie vir altyd nie!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.