Video: Derby-Lewis vertel van sluipmoordpogings en stryd om parool

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis het in die laaste onderhoud voor sy dood vertel van die sluipmoordpogings wat daar op sy lewe was, die pogings om Thabo Mbeki by die moord op Chris Hani te betrek en sy stryd om mediese parool.

“Toe ek tronk toe is, het almal vir my gesê my lewe is in gevaar en dat ek doodgemaak gaan word. Die tenoorgestelde was waar. Ek was saam met sowat 300 van die gevaarlikste misdadigers in Suid-Afrika in C-Max maar het nooit bedreig gevoel nie,” sê Derby-Lewis in dié onderhoud wat op 2 September vanjaar opgeneem is. Ernst Roets, uitvoerende hoof van Forum Films, het die onderhoud gevoer. Derby-Lewis is op 3 November dood.

Derby-Lewis sê in die onderhoud hy is oortuig dat die pogings om hom te vermoor polities gemotiveerd was. “Ek is vier keer parool geweier. In Julie 2013 is ek weer oorweeg en daar is voorgestel dat ek op parool vrygelaat word. Ek dink iemand in die SAKP wou ontslae raak van my en het gedink die gevangenis is die ideale plek. Vir 21 jaar het ek nie eers ʼn skrapie opgedoen nie en toe binne een maand is ek twee keer aangeval.”

Volgens Derby-Lewis was albei die mans wat hom aangeval het bekend aan hom en het hy hulle dikwels met kos en sigarette uitgehelp. “Een was ʼn generaal in die 26’s bende. Hulle het ʼn kode waarvolgens jy nie ouer mense aanval nie en wanneer jy ʼn hoë-profiel persoon wil aanval moet jy eers toestemming kry. Volgens hom het ek Nelson Mandela beledig wat nie waar is nie. Hy het my met ʼn skeplepel aangeval. Hy het vir my kop gegaan, maar ek was rats. Hy het my arm gebreek met die impak van die slag.”

Derby-Lewis sê die volgende aanval was ʼn maand later. “Die aanvaller was nie veronderstel om in dieselfde afdeling as ek te wees nie, maar die hek is nie gesluit nie. Ek was besig om met iemand te praat toe hy my met ʼn stuk glas in die rug gesteek het. Ná ʼn uur het ek hulp gekry en die suster het my wond ontsmet en vir my steke gegee. Hulle was veronderstel om my hospitaal toe te stuur vir X-strale, maar hulle het nie. ”

Volgens Derby-Lewis is hy ingevolge ʼn hofbevel wat vroeër bekom is die volgende dag hospitaal toe geneem vir sy velkankerbehandeling. “Die dokter het my ondersoek en X-strale gedoen. Hy het gesê ek moet dadelik geopereer word aangesien ek besig is om in my eie bloed te verdrink. My long is raakgesteek. Dit is toe ook dat hulle gesien het ek het longkanker.”

Volgens Derby-Lewis is dit interessant dat Schabir Shaik op mediese parool vrygelaat is weens hipertensie terwyl hy ook erge hipertensie, kanker en gangreen gehad het, maar sy aansoek om mediese parool is keer op keer geweier. ʼn Regter het later beslis Derby-Lewis moet op mediese parool vrygelaat word.

Een van die redes wat onder meer vir die weiering van mediese parool aangevoer is, is Derby-Lewis se beweerde weiering om Chris Hani se weduwee, Limpho, om vergifnis te vra. “Dit is snert. Ek het elke keer wat ek om parool aansoek gedoen het, versoek om met haar te vergader. Sy het egter geweier en gesê ons moet ʼn afspraak met haar regsverteenwoordiger maak. Toe ek in die hospitaal was, het my regsverteenwoordiger die SAKP versoek om my te kom sien, maar dit is geweier.”

Die SAKP het nog altyd aangevoer dat daar “meer” is agter die moord op Hani. Een van die samesweringsteorieë is onder meer dat oudpres. Thabo Mbeki op ʼn manier betrokke was. “Die SAKP is blatante leuenaars. Dit is ʼn teorie wat hulle aanhou aanhang, maar dit is so duidelik ʼn leuen. Ek is in ʼn stadium deur twee ministers in die gevangenis kom besoek en hulle het my gevra of Mbeki enigiets daarmee te doen gehad het. Ek ken nie vir Mbeki nie. Ek het al foto’s van hom gesien, maar ek het hom nooit ontmoet of met hom gepraat nie.”

Deel vier van die onderhoud word later dié week bekend gemaak.

Hier volg die volledige derde deel van die onderhoud:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hannes ·

Dankie dat jy probeer het oom Clive. Jammer vir jou pyn en lyding. Rus in vrede.

Basson ·

Hoe meer ek as objektiewe ondersoeker geskiedenis begin bestudeer (terloops vanaf voor die Rebellie ens), hoe meer besef ek hoe walglik die NP ‘dinastie’ gewees het. (Ook met verwysing na betrokkenheid by die grens oorlog ens)

jaco ·

My ma is ook aan kanker dood en sy het 2 maande voor haar dood nie NAASTENBY so goed gelyk of geklink soos Clive Derby-Lewis 2 maande voor sy dood nie. WAT het dan sy dood veroorsaak?

Elisabeth ·

Sies. Met die regte mediese hulp kan mens nog jou waardigheid behou. Party werk nog ook…

Bruno Stef ·

Ja Clive ek saluut jou vir jou bydrae. Die probleem was dat ons teen die Media geskrewe en SAUK leuns en manupilasie moes trotseer om ons saak te stel en dit herinner my baie aan die stryd wat Donald Trump in Amerika gevoer het.Ek sou net graag wou weet waarom Andries Beyers destyds nadat die Konserwatiewe Party die tussenverkiesing met hom as kandidaat gewen het oorgestap het met sy setel na die NP. miskien weet van ons ouer mense wat nou betrokke was wat die rede was.

Shirls ·

Ek wil nie verder lees nie, mens bly mens reeds in die gevangenis vir daad. My hart is seer, die oom was reeds soooooooooooooooo siek, liefde en respek vir almal. Ek kan nie glo ons gevangenisse is so besmet met mense wat niks omgee vir mekaar nie.

Visser Bezuidenhout ·

Politiek en Godsdiens
Daar is net eenvoudig geen politikus of geestelike leier wat enigsins iemand anders as hulself en hul sakke in gedagte het as hulle besluite neem nie.
So Basson dis nie die eerste keer in die geskiedenis nie en gaan beslis ook nie die laaste keer wees nie.

Manie ·

Ek hoop DE klerk en sy gespuis beland in die tronk. Dit is waar verraaiers hoort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.