Video: Dié robot kan braai

Ford se braairobot in aksie. (Foto: Skermgreep uit video)

“Ons gaan nóú braai” en niks minder nie as 120 stukke braaivleis binne net 12 minute. By Ford bou hulle duidelik nie net bielie-bakkies en ander voertuie nie; hulle braai ook.

Die motorvervaardiger spog nou met ’n eg Suid-Afrikaanse braairobot wat die tradisionele braaier ’n blaaskans gee.

Ford se span in Suid-Afrika het die robot, genaamd die TCF BBQ Robot, in minder as ’n maand vervaardig, waarna meer as 1 000 stukke braaivleis tydens ’n interne geleentheid gebraai is. Dit is gedoen as deel van ’n interne kompetisie onder Ford-werknemers.

“Ons het ons kennis van braai en ons begrip van die vervaardiging van voertuie gevat en dit gekombineer om ’n masjien te skep wat braaivleis op ’n rooster kan optel en omdraai,” sê Duduzile Nxele, woordvoerder van Ford.

“Ons wou iets skep wat almal kan geniet en ons Suid-Afrikaanse erfenis verteenwoordig.”

Die robot is die geesteskind van Claude Roux, die areabestuurder van Ford se TCF (Trim Chassis & Final Line). Hy het dié blink plan tydens ’n interne kompetisie saam met Ford se instandhoudingspan bedink, in aanloop tot ’n groot personeelbyeenkoms.

Die idee het behoorlik die Ford-span se “innerlike kind” aangewakker, vertel Nxele aan Maroela Media.

Die opdrag was duidelik, naamlik “Gebruik wat jy kan kry”, en daar is besluit op ’n ongebruikte Fanuc-robot wat tydens die uitgebreide opknapping van die aanleg in Silverton in die ooste van Pretoria weggegooi sou word.

Ford se braairobot in aksie. (Foto: Skermgreep uit video)

Ou houtpalette is gebruik vir ’n basis, ongebruikte metaaltrollies vir braaiers en ’n Siemens programmeerbare logiese beheerder (Programmable Logic Controller, PLC) vir die braairobot se kontrolemeganismes.

’n Gekwalifiseerde elektrisiën, ’n gekwalifiseerde installeerder, ’n PLC-programmeerder en ’n kontrolespesialis het oor ’n tydperk van drie weke aan die robot gewerk.

Die naam van die robot spruit uit die bedryfsterm “Backup-Bypass and Quick Changeover (BBQ)”, maar Nxele sê in hierdie geval is die term “Braai Boerewors Quickly” eintlik meer gepas.

Die TCF BBQ Robot kan:

  • ’n Rooster vol boerewors optel
  • Die rooster op ’n gekose braaier plaas
  • Die rooster ná ’n tydperk omdraai
  • Die rooster later op ’n werkstasie neersit sodat ’n persoon die gebraaide wors kan uithaal en bedien

Die robot is ook in staat daartoe om – nes dit ’n ware Suid-Afrikaner betaam – ’n vlag op te tel en herhaaldelik te waai. Dit kan ook vier glase water of koeldrank skink en die drinkgoed op ’n skinkbord vir gaste aanbied.

Nxele sê die robot wys net weereens oor hoeveel unieke vaardighede Ford se personeel beskik. Dit het vir groot vermaak onder die personeel gesorg, aangesien ander spanne ook aan die kompetisie deelgeneem het en die braairobot in die geheim vervaardig is.

“Almal wat video’s van die geleentheid gesien het, sal verstaan ​​dat die harde werk en die plesier daarvan uiteindelik vrugte afgewerp het.

“Dit was lekker om die glimlagte en verwondering op mense [tydens die personeelgeleentheid] se gesigte te sien toe hulle besef dat ’n masjien eintlik so ’n indrukwekkende en veilige taak verrig wat normaalweg met die hand gedoen word, en ’n integrale deel van die Suid-Afrikaanse kultuur is.”

Die robot sal voortaan intern vir opleiding van gegradueerdes by Ford gebruik word. Hulle sal die geleentheid gebied word om die robot, met behulp van gekwalifiseerde tegnici, te programmeer en beheer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Mauritz ·

Ek s baie beïndruk met alles behalwe die naam. Hulle beskryf dit egter as ‘n eg Suid-Afrikaanse braairobot en dan noem hulle dit die TCF BBQ Robot. ‘n BBQ is in ding wat die Amerikaners en Australiërs aanvang met Weense worsies en hamburger frikkadelle, As hulle die ding eg Suid-Afrikaans wil noem, moet dit ‘n TCF Braai Robot wees. ‘n Braai is ‘n braai in Afrikaans, Engels, Zulu, Sotho, en nog ‘n klomp ander tale. Eg Suid-Afrikaans! Behalwe my kritiek teen die naam ; wel gedaan manne!

Suzette ·

Net so tong in die kies. Hulle het seker n Ford Figo gebruik…..

Jan Seerot ·

Weet jy Mauritz, jy is heeltemaal korrek. Die woord “braai” word ook in Zambia gebruik. Ek het dit in Kitwe teëgekom. Die spelling was “braii” maar die proses was presies dit…’n braai. Nie so algemeen hier in Mosambiek in Portugees nie.
Die af-duimpie is seker maar dié van ‘n hanskakie of ‘n halfmak Yank.

Frank John ·

Uitstekend vir die span, regtig eg Suid Afrikaans. Veelsgeluk vir die span.

Frikkie ·

Kom die robot ook met stuk blou draad en tang om hom reg te maak????

Waarnemer ·

Nou ja toe,hoe meer dae,hoe meer dinge,nou word die tradisionele biertjioe of brannas by n braai ook uit gefaseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.