Video: Diewe gefnuik wat honde skop, skiet

'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

WAARSKUWING: Die beeldmateriaal bevat geweld en wys hoe ʼn hond geskop en een geskiet word. Sensitiewe lesers word ontmoedig om die video te kyk.

ʼn Groep gewapende rowers het Dinsdag helder oordag op ʼn onderneming naby die OR Tambo-lughawe toegeslaan waar hulle ʼn waghond met ʼn AK47-aanvalsgeweer doodgeskiet het.

Wynand Bakker, eienaar van Airport Parking Services (APS) in Kempton Park, Johannesburg, het Woensdag aan Maroela Media gesê 12 mans het omstreeks 10:08 in twee swart BMW’s buite sy onderneming stilgehou.

APS voorsien ʼn diens om kliënte se voertuie by die lughawe te gaan haal, skoon te maak, en weer terug te neem na die lughawe wanneer hulle van hul reis af terugkeer.

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe een van die BMW’s voor die onderneming se hek stilhou. ʼn Man klim uit en doen hom as ʼn kliënt voor, sodat hulle toegang tot die perseel kan kry.  ʼn Personeellid kom uit om die man te verwelkom, waarna hulle ʼn AK47 op haar rig en terug in die kantoor in dwing.

Mickey, Bakker se Duitse herdershond, en Milo, ʼn Jack Russel, kom uit om ondersoek in te stel. Die man skop Milo teen ʼn muur vas. Mickey maak gereed om aan te val waarna sy drie keer in die kop geskiet word. Sy is op die toneel dood. Milo is ongedeerd.

Die vier mans betree daarna die kantoor waarna ʼn skoot met ʼn ander vuurwapen geskiet word.

Bakker het intussen die skote gehoor, sy vuurwapen gegryp en op die rowers losgebrand, waarna hulle gevlug het. Een van die verdagtes vergeet egter om die BMW se deur toe te maak terwyl die motor agteruit ry, en die deur tref die kant van die skuifhek en ʼn lamppaal.

“Dit het alles so vinnig gebeur. Hulle was in en uit in twee minute,” het Bakker gesê. Hy het gesê buiten dat hy en sy personeel bietjie getraumatiseer is, en hartseer is oor Mickey se dood, is hulle dankbaar dat dit nie erger was nie. “Ek vermoed hulle was hier om voertuie te steel. Dit is die eerste keer dat so iets hier gebeur. Hulle kan maar terugkom, ek is gereed vir hulle, die keer met ʼn haelgeweer,” het hy gesê.

Bakker het gesê hy vermoed hy het een van die verdagtes getref.

Kapt. Jethro Mtshali, woordvoerder van Kempton Park-polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. “In die stadium ondersoek die polisie ʼn saak van poging tot besigheidsroof,” het Mtshali gesê.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Hy het gesê die polisie sal binnekort amptelike beeldmateriaal van die verdagtes uitreik in ʼn poging om die verdagtes vinniger op te spoor.

“As iemand die verdagtes in die beeldmateriaal herken, of meer inligting oor die voorval het wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, moet hulle Crime Stop by 0860 10111 skakel,” het hy versoek.

Die insetsel is deur eNCA vervaardig. Kringtelevisiebeeldmateriaal is deur Bakker verskaf.

[wpvideo 2Vq4IS5k]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

boer ·

En die regering dink as hulle die wapen wet hersien, hierdie soort van ding nie sal gebeur nie?????

Probeer weer, dit sal n meer algemene veskynsel in die strate word, want ons sal nie wapens he om onself mee te beskerm nie.

Julle het n ander verskuilde agenda met die nuwe wet, en julle dink ons n te stupid om dit agter te kom

Riaan Slabbert ·

Ons is dalk nie te stupid om dit agter te kom nie, maar wel te freaking Slapgat om ons daarteen te verset…

Riaan Slabbert ·

Verbeel ek my, of is die ou wat so koes-koes weghardloop, n security…? Met die blou uniform. Was hy saam met die rowers of wat?

Drieks ·

20 jaar, en dit is ons daaglikse lewe, wag vir die misdadigers…hul het mense regte ons nie…

Anita ·

Die flippen skuim!!!!

Die arme diere………my hart gaan uit die mense wat die trauma beleef het en met die hartseer sit van hulle 4 poot vriend wat dood is “in the line of duty”.

Jy’t ‘n held gesterf Mickey xx.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.