Video: Dowe baristas beïndruk by koffie-ekspo

Van links is Karabo Motla (derdeplekwenner), Mduduzi Lukheleni (eersteplekwenner), en Barron Fourie-Williams (tweedeplekwenner). (Foto: Pieter Cloete)

Terwyl die reuk van koffie en sjokolade die lug gevul het, het Mduduzi Likheleni en Barron Fourie-Williams Saterdag beoordelaars by die Coffee & Chocolate Africa-ekspo in Randburg verstom met hul knap en geoefende koffiemaak-vaardighede.

Wat dié barista-kompetisie egter uniek maak, is al die deelnemers is doof.

Ciro het Saterdag vir die derde keer hul Dowe Barista‑kompetisie by die Coffee & Chocolate Africa-ekspo gehou. Dié kompetisie is die eerste van sy soort ter wêreld en is daarop gemik om baristas se vaardighede ten toon te stel. Elke dowe barista wat deelneem, het hul vaardighede geslyp by Ciro se koffie-akademie en vorm deel van die maatskappy se opheffingsprogram vir gehoorgestremdes.

Van Suid-Afrika se voorste koffiekundiges het die beoordeling behartig waartydens streng kriteria toegepas is om die wenners te bepaal. Volgens Lizaan Alberts, hoofbeoordelaar, sluit dié kriteria onder meer in die balans tussen die melk en koffie, sowel as die smaak en visuele tentoonstelling van die koffie.

Terwyl Christopher Abrahams en Deon Mastenbroek die sensoriese vaardighede beoordeel het, was Tim Krynauw vir die tegniese beoordeling verantwoordelik.

Mduduzi Likheleni het Saterdag met die eerste prys weggestap, terwyl Barron Fourie-Williams, een van die Ciro-alumni, as naaswenner aangewys is. Karabo Motla het die derde plek behaal.

(Foto: Ciro)

Lani Snyman, Ciro se kliëntediens- en opleidingsbestuurder, verduidelik Ciro is al lank in die koffiebedryf en weet die aroma van varsgemaalde bone en die atmosfeer van ’n goeie koffiewinkel is dikwels die platform vir menige ontmoetings.

Maar hoe gemaak wanneer jy gehoorgestremd is in ’n bedryf waar kommunikasievermoë een van die sleutelbestanddele is?

Ciro, Suid-Afrika se grootste vervaardiger en verspreider van koffie, maak steeds opslae met hul unieke en innoverende manier om dié uitdaging te oorkom. As deel van die maatskappy se korporatiewe sosiale investering, lei Ciro dowe baristas op én help hulle om enige kommunikasieuitdaging tussen dié baristas en die publiek te oorkom.

Snyman sê hoewel Ciro reeds ’n geruime tyd ’n koffie-akademie bedryf, is hierdie die eerste module wat gemik is op die opleiding van dowe baristas. Die maatskappy het ongeveer ses jaar gelede die koffie-akademie van stapel gestuur.

Drie jaar gelede het die akademie besluit om ook dowe persone op te lei en so te bemagtig vir verdere indiensneming deur die private sektor. Dit het ook natuurlik nie sonder uitdagings gekom nie. Hoe bestel jy een van jou gunstelingdrankies as daar nie enige gebaretaal vir dit is nie?

(Foto: Ciro)

Volgens Snyman kan dit waarlik as ’n baanbrekerprojek in Suid-Afrika beskryf word, aangesien daar voorheen geen koffie-woordeskat in gebaretaal bestaan het nie. Hierdie uitbreiding van gebaretaal is in samewerking met die baristas ontwikkel wat kommunikasie met klante aansienlik vereenvoudig.

Deur die Dowe Barista‑projek is gebaretaal geskep om doeltreffend oor koffie, en die verskillende soorte koffie, te kan kommunikeer. Dit het gerealiseer met vennote soos E-Deaf, wat gehelp het om dowe mense te inkorporeer by hierdie projek. Unisa het ook aan boord gekom en gehelp met hulle Unisa Barista‑kursus.

Snyman verduidelik Ciro het destyds besef dit is tyd om baristas te bemagtig en hul vermoë om ʼn funksie binne ʼn maatskappy te vervul, te bewys. Sy voeg by dit is uiters bevredigend om op hierdie manier ʼn verskil te kan maak.

Ciro het, saam met vennote wat ingekoop het op hierdie inisiatief, reeds ongeveer 2 000 baristas opgelei, van wie sommige gehoorgestremd is. Die indiensnemingsyfer van dowe baristas wat by Ciro opgelei is, in ag genome dat die baristas wel op soek moet wees na werk, is tot dusver 100%.

Om meer uit te vind oor hierdie unieke inisiatief en Ciro se betrokkenheid, besoek hul Facebook-blad of webtuiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

PJ ·

Ons verskaf werk aan ‘n paar van hierdie outjies en dis magic ????

Louis Jonker ·

Onthou Worcester het ook ‘n blinde barista! Hy werk in die blindeskool se koffie winkel in Kerkstraat

dolphin ·

ek is baie trots vir dowes mense kan verskil maak mense se lewens .dankie vir die ciro dat die dowes ondersteuning om beter gehalte te skep om makliker kan werk kry.ek is doof person.so trots .

Hendrik van George ·

Hoe bestel jy jou latè met skimmed amandel melk, ekstra shot met pampoen speserye ens? Goeie idee maar kan moeilik raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.