Video: Driehoek-hoof praat oor seer en hoop

Skoolhoof Hein Knoetze troos Maandag ‘n leerling. (Foto: Mia Spies/Twitter)

“ʼn Stuk van my siel is weg saam met die kinders, maar ek moet jou ook vertel van die mooi wat hier uitgekom het.”

Só praat Hein Knoetze (59), hoof van Hoërskool Driehoek, dié week met Maroela Media in sy kantoor.

Vrydag sal dit ʼn maand wees nadat ʼn betonblok van dié skool in Vanderbijlpark se loopbrug op ʼn groep leerders ná ʼn saalopening ineengestort het.

Vier leerlinge, Roydon Olckers (17), Jandré Steyn (13), Marli Currie (13) en Marnus Nagel (16), is dood en nog 29 ander is met verskeie beserings na hospitale in die provinsie gehaas. Die 14-jarige Shamoné Steynvaart is in die ongeluk verlam.

Knoetze sê dit gaan deesdae beter met die skool, leerders en sy onderwysers. Volgens hom het hulle darem al ʼn mate van berusting gekry en daar word nou weer klas gegee, al is dit ook in tente, wat sy eie uitdagings bring.

Hy erken egter dat hy, sy personeel en die leerders deur diep waters die afgelope paar weke is, en dit gaan nie aldag maklik nie.

“Ons werk nog deur ʼn paar goedjies. Hier sal nog lank traumaberading gedoen moet word.”

As ʼn mens hom vra hoe word ʼn skoolgemeenskap deur so ʼn ramp gedra, het hy net een antwoord: “Ons sterk fondasie van Christenskap en gebed.”

Vir Knoetze wat homself as nie net as ʼn skoolhoof nie, maar ook ʼn pa van die skool se 1 060 leerders beskryf, het dit nog altyd oor twee goed by die skool gegaan: As ʼn leerder se getuigskrif in sy hart reg is en sy kop is reg – want dit gaan hom of haar help om ʼn goeie matrieksertifikaat te behaal – dan weet hy die skool was suksesvol in hul opleiding. Al die ander goed is vir hom ʼn bysaak.

Die loopbrug by die Hoërskool Driehoek sal binnekort gesloop word. Foto: Marius Vermaak/Maroela Media.

‘Die Here het geweet’

Die ramp het die skool getref ʼn maand voordat Knoetze ná meer as drie dekades uit die onderwys uittree.

“Eers het ek gevra: Hoekom ek? Hoekom nou? Maar toe begin ek dink… Hoekom nie ek nie? Hoekom nie nou nie?

“Ek is nou oortuig daarvan die Here het geweet wat gaan gebeur en Hy het die regte personeel hier aangestel om dit te kan hanteer.”

Knoetze glo alles wat tot dusver met hom gebeur het, het hom voorberei vir die ramp daardie Vrydag.

“Jy weet, ek kom maar uit ʼn goeie ou NG kerk agtergrond en het altyd ʼn bietjie gefrons as ʼn ouer sê sy bring vir my ʼn woord of wil ʼn visioen met my deel. Vandag dink ʼn effens anders daaroor.”

Hy vertel van ʼn ma wat vir hom vertel het sy het ʼn visioen gehad dat Hoërskool Driehoek ʼn brandende vuurtoring van hoop en Christenskap in Suid-Afrika sou word.

“Toe ek daardie laatmiddag by die skool se hekke uitloop en die rye kerse sien wat brand, toe bel ek my vrou, Ina, en sê vir haar nou verstaan ek.”

Hy vertel van gebeure wat soos ʼn goue draad alles saamsnoer. Hy glo dit is ʼn teken van ʼn Hoër hand.

“Een van die ouers sit nou al lank aan my. Hy wil vir ons ʼn standbeeld van vlekvrye staal oprig met die drie hoeke wat dui op ons hoërskool se naam, maar ook die Drie-eenheid van God. Ná die ongeluk sê hy vir my hy wil ʼn wit duif by die driehoeke sit.”

“Net daarna bring die motorfietsklub vir ons Bybels wat hulle by die skool wil uitdeel. En weet jy, elke een van daardie Bybels het ʼn wit duif op. Later deel iemand ʼn foto op sosiale media met my wat by een van ons geleenthede geneem is. Op die foto is daar ʼn wit duif wat oor ons skool se naam op ʼn gazebo vlieg.”

Hy wys ons die skool se dagboek wat elke jaar ʼn nuwe tema het. “Hierdie jaar se tema is ‘Sprei jou vlerke’ en die voorblad het die ʼn wit vlerk van ʼn duif op.”

ʼn Week en ʼn half voor die brug se ineenstorting het ʼn juffrou ʼn epileptiese toeval by die skool gehad en is sy redelik ernstig beseer.

Dit het Knoetze laat besef dat die skool sy noodmaatreëls gereed moet kry.

“Ons het ʼn lys van ambulansdienste gemaak, besluit wie sal min of meer vir wat verantwoordelik wees en vir die leerlingraad gesê hulle moet die leerders van die toneel weglei na die saal toe.”

En toe gebeur die ramp.

Die oggend toe die 8 ton-betonblok val, het tyd vir hom gaan stilstaan.

Tog nou, as hy terugdink, was dit maar net 18 minute wat verloop het tot die loopgraaf die beton van die beseerde kinders gelig het – al het dit vir hom soos ʼn ewigheid gevoel.

“Ongeveer 40 minute later was al die beseerde kinders reeds hospitaal toe geneem.”

Knoetze onthou net hoe elke personeellid in die chaos byna instinktief geweet wat hulle in die noodsituasie moet doen.

Clarissa van Zyl, die hoofmeisie, het ook die grootste groep leerders na die saal geneem waar sy hulle rustig gehou het deur vir die kinders te bid.

“Ek kan net dink hoe dit vir die ouers moes gevoel het om hulself na die skool te moet haas sonder om te weet of dit dalk hul kind is wat seergekry het. Dit is sekerlik ook nog ʼn stuk trauma waardeur elke ouer sal moet werk.”

Gesamentlike gedenkdiens vir slagoffers van die Hoërskool Driehoek-tragedie (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Daar is nog hoop

Hy bly ʼn oomblik stil. Sy stem breek en daar is opnuut ʼn sagtheid in sy bruin oë.

“Voorheen het ek maar min hoop vir die Vaaldriehoek en die land gehad, maar ná hierdie gebeure kan ek regtig nie enige iets sleg sê van die onderwysdepartement of ons gemeenskap nie.”

Oor geloof- en kultuurgrense heen het die hulp en gebede vir dié skool ingestroom.

ArcelorMittal het onderneem om die loopbrug oor te bou en Knoetze wil hê alles moet weer reg wees as die skool in April vir die nuwe kwartaal open, selfs al tree hy amptelik op 15 Maart af.

“Ek het ná ʼn gesprek met ʼn leerder besef ons kan nie die brug afbreek terwyl die kinders hier is nie. Die harde geluide sal hulle net weer van vooraf ontstel.”

Knoetze het aanvanklik besluit die gebeurtenis gaan nie sy loopbaan definieer nie, maar nou glo hy dit sal, en dit is ook reg so. Hy het ʼn nuwe soort verantwoordelikheid vir die ramp aanvaar.

Hy gaan net gedurende die skoolvakansie sy vrou, Ina, help om by hul aftreehuis in Tergniet buite Mosselbaai in te trek, en dan sal hy terug by die skool wees as ʼn gewone burger.

“Ek wil net seker maak alles is reg en gaan ook die busdrywer wees vir ʼn toer. Ek sal terug wees, want ek het die kinders belowe ek sal dit doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Taryn ·

Ek kry hoendervleis en trane oor hierdie skoolhoof se woorde. Dis wonderlike dat ‘n skool sulke sterk Christelike waardes het. Dit laat ons weer besef God IS hier by ons. Ons moet dit besef. Ons moet Hom ken in als wat ons doen. Ons almal moet nader aan GOD. God gee ons riglyne HY wil ons lei. Orals vloek en skel mense, gebruik Sy naam ydelik, doen verkeerde dinge, gun niemand niks en verwag dit moet goed gaan met hulle. Ja ons verstaan nie waarom sekere dinge in die lewe gebeur nie ons verstaan nie die pyn en seer nie. Maar dis wonderlik dat ons weet dat God ons krag gee en dra. Ons bid en dink aan gesinne waar daar pyn, seer, moedeloosheid, magteloosheid en verlies is. Ons bid dat God vir elkeen van jul ‘n teken op jul pad sal stuur, jul sal help om die struikelblokke te oorkom, engele op jul pad sal stuur om dinge makliker te maak. Die lewe is nou ‘n spieel maar ons sal eendag verstaan hoekom al die dinge gebeur. Mag jul Sy nabyheid ervaar. Ons sal Driehoek nooit vergeet nie. Dis soos die Westdene busramp en so baie ander dinge wat altyd in ons harte en gedagtes sal wees. ‘n Wit duif sal my nou vir altyd aan Driehoek laat dink.

toy ·

Dit se vir my baie van die skoolhoof. ‘n Mens wat lief is vir sy beroep en kinders. Ek kry ‘n knop in die keel.

Laerskool Vastrap ouer ·

Ons skool is verlede jaar in Feb deur n soortgelyke trama met Aiodhon van Zyl, ‘n graad 4 leerder wat uit n bewegende bus geval het op n koorkamp…. en kan ek se dat die afsterwe van n kind, of kinders van n skool baie seer is en niemand werklik so n voorval vergeet of verwerk nie.

Maar tog laat dit mens besef dat die lewe BAIE-BAIE kort en tydelik is.

Voorspoed Driehoek.

Bernadette ·

Wow!!!! Ek salueer u, Mnr. Knoetze. God is steeds in beheer. Ons moet net glo en vertrou. Al gebeur daar slegte dinge wat ons nie verstaan nie. Die Here wil net goed vir ons as sy kinders hê. Ek bid vir almal wat deur die tragedie geraak is. Almal sal sterker anderkant uitkom, want die Here, ons God, dra hulle.

Azette kriel ·

Ons harte was saam seer vir driehoek ek gee skool by SAVF KOSMOSSIES KRIEL EN ONS HET DIE VRYDAG OOK SAAM MET ONS KLEUTERS DUIWE LOSGELAAT EN GEBID VIR ALMAL DAAR ONS HARTE GAAN UIT NA ELKE OUER WAT N KIND VERLOOR HET HULLE SE ALTYD ONS KINDERS MOET ONS BEGRAWE NIE ONS HULLE NIE MA GOD IS GROOT ELKEEN SE PAD IS VIR HOM UITGELE SOOS DIT GOD BEHAAG

Caroline Lessingh ·

Ek het my kind laas jaar 2018 oorgesit in Driehoek.So vanaf die 3de kwartaal af.Ons het n onderhoud gehad met Mnr Knoetze,wat n dierbare mens.Hy het ons met ope arms aanvaar,en ek wil v jou dankie sê Mnr Knoetse,my kind was nog nooit so gelukkig nie.Al was die tragedie daar,het dit niks verander nie.Dit het haar net nog meer gemotiveer om te bly.Sy het n kind gehelp wat n angsaanval gekry het en gebly by hom tot hy sussie gekry het.Kinders wat sy nie eers geken het nie.Die mense het so saam gestaan en saam gewerk.Dankie Mnr Knoetze jy is baie spesiaal v hierdie skool

Wielspore ·

Die hoof spreek soveel waarhede en dit is hoe ek ons toekoms as Suid Afrikaners sien.

Hercules ·

my hart is nog soms seer omdat ek van kinders en jongmense hou, maar nou gaan ‘n ouer hof toe – dit gaan nie jou kind dadelik gesond maak nie – ek dink jy moet besin mevrou!!

Werner Ferreira ·

Mnr Knoetze ek wil jou komplimenteer vir jou leierskap..jou leiding ..jou voorbeeld en mooi nederige hart!…..ons bid nog steeds vir HS Driehoek en elke leerder…ouer…onderwyser en almal hierdeur geraak

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.