
Op soek na ‘n snoephappie in St. Lucia. Duisende mense het reeds na die video van die seekoei gekyk. (Skermgreep: Facebook)
Caltex het ʼn haas, Lacoste het ʼn krokodil en die OK Express op St. Lucia in KwaZulu-Natal het ʼn seekoei.
Bykans ʼn halfmiljoen mense het reeds na ʼn video van ʼn seekoei gekyk wat doodluiters en al snuffelende na die rybaan van die Engen-vulstasie op die dorp stap. Die OK Express-winkel by die vulstasie het die video op sy Facebook-blad gedeel, waarna dit soos ʼn veldbrand versprei het.
“Net ʼn rustige Sondagaand-staptog in St. Lucia op soek na snoephappies by die OK Express,” lui die inskrywing op Facebook.
Marié Stubbe, oordbestuurder van Lake View Cabanas en ʼn jarelange inwoner van die dorp, het die video Sondagaand geneem nadat sy van vriende af op pad huis toe was.
“By ons is diere in die strate ʼn alledaagse verskynsel. Ons sien gereeld diere soos nag-apies en muskeljaatkatte, maar die seekoeie het die grootste aantrekkingskrag.
“Die diere gee ʼn ander betekenis aan St. Lucia se ‘naglewe’,” het Stubbe geskerts.
“Omtrent almal op die dorp het al ʼn video van ʼn seekoei op Facebook gedeel. Ek weet nie hoekom hierdie een so mal gegaan het nie.”
Sy sê daar is tans ook ʼn vlakvark wat gereeld in die dorp opgemerk word.
Stubbe sê by die oord waar sy werk, waarsku sy gewoonlik nie haar gaste teen misdaad nie, maar eerder dat hulle op die uitkyk vir seekoeie in die straat moet wees.
Sy sê die meeste mense is gewoond aan die diere en laat hulle begaan. Dit bly egter wilde diere wat onvoorspelbaar kan reageer as hulle skrik.
Stubbe sê nadat die seekoei ʼn draai by die vulstasie gegooi het, het die dier rustig weer weggestap.
Die seekoeie woon in die iSimangaliso-vleilandpark, ʼn wêrelderfenisgebied.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Ons gaan hou gereeld vakansie in St. Lucia. Die oord waar ons tuisgaan het ‘n seekoei wat so paar meter van die swembad se hek af slaap.
Daardie seekoei is altyd daar! het daar gebly! hy is al n ou inwoner en almal ken hom al.