Video: ‘Ek het Andrea Venter gewaarsku’

Thea Pretorius vertel hoe sy Andrea Venter probeer waarsku het teen haar seun [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Gerhard Jansen van Vuuren se ma het haar gewaarsku om nie met haar seun deurmekaar te raak nie.

Só vertel ʼn hartgebroke Thea Pretorius (62) aan Maroela Media, meer as ʼn dekade ná Andrea Venter (25) se moord in 2011.

“Die oggend toe ek die oproep kry dat Andrea vermoor is, het ek op my knieë neergeval en begin bid. Ek het daardie dag ook ʼn dogter verloor. Ek het haar lief gehad,” sê Pretorius.

“Tot onlangs as ek wit Volkswagen Polo sien, huil ek en dink weer aan Andrea, want sy het só ʼn kar gery. Sy het hom splinternuut net voor haar dood gekoop.”

Venter is die Paasnaweek van 2011 na bewering deur Jansen van Vuuren (40) aangehou, mishandel en met ʼn vuisyster aangerand. Sy het die Maandag (2 Mei) uit sy kloue probeer ontsnap, maar hy het haar toe glo beetgekry en 12 keer met ʼn mes in die rug gesteek, waarna hy sy eie keel oopgesny het in ʼn poging om selfmoord te pleeg.

Venter en Jansen van Vuuren was sowat sewe jaar lank in ʼn verhouding en volgens Pretorius het sy vroeg reeds gevaarligte sien flikker, aangesien Jansen van Vuuren uiters besitlik was.

“Andrea kon in ’n restaurant nie haar kop vir twee minute draai nie, dan raak hy mal.

Pretorius hou fotos van haar en Gerhard vas en sê dit is van haar enkele goeie herinneringe wat sy saam met hom het [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

“Hy was ʼn produk van sy pa, wat my en die kinders fisiek mishandel het. Ek het haar [Andrea] gesmeek om hom te los en nie dieselfde pad as ek te stap nie. Sy het egter gesê sy kry hom jammer en wil hom probeer verander.”

Jansen van Vuuren en sy suster, Yvonne, het by hul pa, Johannes Gerhardus Jansen van Vuuren, gebly ná sy en Pretorius se egskeiding. Van Vuuren was toe slegs twee jaar oud.

“Gerhard wou by sy pa bly. Hy was sy pa se kind. Maar ek dink tog hy verwyt my dat ek my goed gevat en geloop het. Ek het egter nie ʼn ander keuse gehad nie.”

Skuldgevoel, verwyte

Pretorius het lank skuldig en verantwoordelik vir Venter se dood gevoel.

Die enigste foto wat Pretorius saam met Andrea het [Foto: Verskaf]

“Aanvanklik het ek gedink as ek langer by die kinders gebly het en ’n beter ma was, sou dinge dalk anders uitgedraai het. Later het ek besef dat ek nie beheer het oor iemand anders se doen en late nie. Nie eers my eie kind s’n nie.”

Sy sê mense het haar lank verkwalik oor wat gebeur het en na haar verwys as die “ma van Andrea se moordenaar”.

“Ek het met Andrea se begrafnis in die kerk se galery gaan sit en gehoop niemand sien my nie. Omdat ek geweet het mense se koppe sou draai as hulle my daar sien.”

Van Vuuren het in Mei 2013, vier dae voordat sy moordverhoor sou begin, met vervalste reisdokumente uit Suid-Afrika na Brasilië gevlug. Hy is in Junie 2020 in die land opgespoor en vier maande later aan Suid-Afrika uitgelewer.

Pretorius sê die laaste keer wat sy Jansen van Vuuren gesien het, was die dag toe hy aan Suid-Afrika uitgelewer is. “Ek het daardie dag vir hom ʼn pak klere, skoene, toiletware en biltong gevat.”

Al is dit vir haar moeilik, sê Pretorius, indien haar seun skuldig is, moet hy die gevolge van sy dade dra.

“Maak nie saak hoe die saak uitdraai nie, ek sal altyd vir hom lief bly. Hy bly my kind. Hy is die enigste persoon wat weet hoe my hartklop klink,” vertel Pretorius met ʼn moederlike deernis in haar stem.

“As ʼn ma sal jy enigiets vir jou kind doen. In ons geval kan ek niks doen nie, behalwe om vir Boetie [Gerhard] te bid.”

Terwyl sy haar diepste emosies oor haar seun en die moord deel, vloei daar nie ʼn enkele traan uit haar oë nie. “Dit is omdat ek nie meer kan huil nie. Ek het al te veel gehuil. Ek is leeg.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Carolina ·

Hoekom dink vrouens altyd hulle kan iemand verander, as hy so optree nog voor julle getroud is, is dit hoe hy is en hy gaan net erger word!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.