Dit het reddingswerkers Donderdag langer as vyf uur geneem om ʼn 30-jarige man te bevry nadat ʼn sloot waarin hy gewerk het toegeval het.
Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het by ʼn huis in Kloof naby Durban plaasgevind.
“Die man was omstreeks 14:00 in die sloot en het na bewering by die fondasie gegrawe toe die grond om hom op hom ingeval het. By paramedici se aankoms op die toneel was die man van sy skouers af onder swaar grond vasgekeer,” het Vermaak gesê.
ER24 het ekstra hulpbronne en reddingsdienste na die toneel ontbied. Die brandweer, polisie en reddingsdienste het onverpoosd gewerk om die toneel te beveilig, die grond te stabiliseer en om die man te bevry.
“Die man het gedurende die reddingsproses voortdurend met paramedici gepraat en sy toestand was stabiel,” het Vermaak gesê.
Die reddingspanne is omstreeks 19:00 deur bystand afgelos en die man is kort daarna na veiligheid gebring. Hy is met matige beserings na ʼn hospitaal geneem.
ER24 het almal wat deel was van die reddingsproses, asook inwoners wat verversings vir die spanne aangedra het, bedank.
[WATCH] Man trapped over 5 hours in #Kloof #Durban. Numerous rescuers on scene trying to free him since 2pm. #KloofTrenchRescue pic.twitter.com/Fxe0nGDmT1
— ER24 EMS (Pty) Ltd. (@ER24EMS) March 2, 2017
Die hoeveelste keer wat dit gebeur. Sal daar ooit geleer word dat daar genoegsame bestutting moet wees. Maar nee, dit kos tyd en geld om dit aan te bring. Hopelik sal die verantwoordelikes hieroor aan die pen ry want hulle speel met lewens. Hierdie man was net met genade gelukkig om lewend letterlik uit die sloot te kom.