Video en foto’s: ʼn Slang in die gras…of altans 68 slange in die gras

Foto: Facebook.

Foto: Facebook.

Foto’s en ʼn video van ʼn swetterjoel klein luislangetjies, wat op ʼn plaas in Limpopo gevind is, word wyd op sosiale media versprei.

Theunis Victor en ʼn vriend van hom, Cor Viljoen, beide slangvangers, is op 30 Desember na die plaas in Modimolle ontbied, waar ʼn luislang en haar kleintjies gewaar is.

“Ons is saam op die Limpopo Snake Removal-groepie en is toe gevra om dié slange te kom verwyder. Die eienaar van die wildsplaas was bang sy werkers sou die slang doodmaak. Daar is mos maar baie mense wat nog glo ʼn dooie slang is ʼn goeie slang en sommige mense eet hulle ook,” sê Victor.

Victor en Viljoen het op ystervarktonnels op die plaas afgekom en die nes met die kleintjies opgespoor. “Cor het begin grawe en eers ʼn klomp eiers begin uithaal en ons kon toe agterkom daar moet ʼn hele klompie slangetjies wees.”

Foto: Facebook.

Foto: Facebook.

Hulle het 68 slangetjies, wat byna drie weke oud was, uit die nes verwyder. “Hulle het vir daardie tydperk van die inhoud van die eiers geleef en ons het ook enetjie gekry wat gevrot het en nooit uitgebroei het nie,” het Victor gesê. “Drie van hulle het my beetgekry tydens die uithaalproses, maar hulle is gelukkig glad nie giftig nie, want hulle versmoor hul prooi.”

Hulle kon ongelukkig nie daarin slaag om die ma op te spoor nie, hoewel hulle, volgens Viljoen se Facebook-inskrywing, vir vier uur lank na haar gesoek het. “Die foto van die groot ma-luislang is by ʼn vorige geleentheid geneem. Werkers het op haar afgekom, maar dis nie reg om hulle so aan die stert te trek nie, hulle kan seerkry of opkrul in die ystervarktonnels en dan sal jy hulle nooit daar uitkry nie.”

Viljoen het die slangetjies vir ʼn week by hom gehou totdat hulle vervel het en hulle is toe vrygelaat op ʼn plaas in die omgewing van sowat 2 000 ha. “Hopelik sal die helfte van hulle ten minste oorleef, want voëls en muishonde vang hulle graag”.

Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vygie ·

Ek stem…. flip ek grip my al klaar dood, wat nog te sê as ek op hul moet afkom….

Marianne ·

Aaag mamma hulle is so oulik!!!! Ek wens ek kon hulle almal tergelyk vashou.
Ek is oortuig daarvan dat hulle in goeie hande is en VEILIGE verblyf gegee sal word.
Luislange se getalle is laag, hulle bewaaring is van kardinale belang.
EK WENS EK KON HULLE HELP VERSORG EN LIEF HE.

John ·

Het ons nie genoeg moeilikheid in die land nie en genoeg prentjies van ellende op die’ bladsy al beskou nie. Nee, Maroela, nee…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.