Video en foto’s: SA se 2de nanosatelliet gelanseer

Suid-Afrika se tweede nanosatelliet is vroeg Donderdagoggend suksesvol vanaf die nuwe Vostochny Cosmodrome in Rusland saam met 25 ander nanosatteliete en twee groot sateliette gelanseer. Foto verskaf deur die departement van wetenskap en tegnologie.

Suid-Afrika se tweede nanosatelliet is Donderdagoggend vroeg suksesvol by die nuwe Vostochny Cosmodrome in Rusland gelanseer.

ZACube-2, wat net 4 kg weeg, is vroeër die jaar na Delft, Nederland, verskeep waar dit saam met 25 ander nanosatelliete verpak is vir lansering. Dié satelliet is die tweede een wat deur die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie (KSUT) se Frans-Suid-Afrikaanse Instituut vir Tegnologie (F’sati) gebou is.

Nadat die nanosatelliet in Nederland geïntegreer is met die ander satelliete, is die loonvrag na Rusland geneem. Volgens die lanseerdiensverskaffer GK Launch Services is die loonvragte opgestuur met ʼn Soyuz-vuurpyl. Buiten die 26 kleiner nanosatelliete, is twee groter satelliete, Kanopus-V-5 en Kanopus-V-6, ook gelanseer.

Die departement van wetenskap en tegnologie het gesê dié tweede satelliet, waarin R16,5 miljoen belê is, is deel van die regering se Operasie Phakisa. Die hoofdoel is om die land se kuslyn van 3 900 km te bekyk.

ZACube-2, wat net 4 kg weeg, is vroeër die jaar na Delft, Nederland verskeep waar dit saam met 25 ander nanosatelliete verpak is vir lansering. Foto: KSUT.

As deel van die Oseane Phakisa-program sal dit Suid-Afrika se maritieme ekonomiese sone beskerm. Hoewel skepe in ons water hul radar kan afskakel, kan ’n satelliet hulle steeds waarneem met sy baie gesofistikeerde kamera.

Die nuwe satelliet is drie keer groter as sy voorganger, TsepisoSat, wat in 2013 gelanseer is. Dié het net 1,2 kg geweeg en was 10 cm x 10 cm x 10 cm. Die nuwe een is 30 cm x 10 cm by 10 cm. Buiten goeie kameras aan boord gebruik dit sagteware om skepe en bote te identifiseer wat in die land se waters is.

ʼn Tweede kamera sal in werklike tyd na veldbrande soek en dié inligting word na ʼn app van die van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) gestuur.

Prof. Robert van Zyl, direkteur van die satellietprogram by KSUT, het gesê dit kan ʼn paar dae neem om die eerste sein van die satelliet te ontvang. Die grootste gedeelte van Januarie sal gebruik word om die twee sendings aan die gang te kry en daarna sal hulle begin om eerste die skepe te monitor en te sien hoe dit verloop en daarna die veldbrande.

Suid-Afrika se tweede nanosatelliet is vroeg Donderdagoggend suksesvol vanaf die nuwe Vostochny Cosmodrome in Rusland saam met 25 ander nanosatteliete en twee groot sateliette gelanseer. Foto verskaf deur die departement van wetenskap en tegnologie.

Binnekort sal ZACube-2 ook sy eie naam kry nadat skoolkinders landwyd aan ʼn kompetisie kon deelneem. Die naam sal binnekort aangekondig word, het die departement van wetenskap en tegnologie gesê.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van wetenskap en tegnologie, het gesê dit is danksy wetenskap dat die uitdagings van die gemeenskap, soos die monitering van veldbrande en die kuslyn, aandag kry.

Dié nanosatelliet is ʼn voorloper tot ʼn konstellasie van nege nanosatelliete wat saam as een sal werk om baie hoë frekwensie data en kommunikasiestelsels te verskaf vir die maritieme bedryf.

Die loonvragte word voor die lansering met die vuurpyl en fregat geïntegreer in Rusland. Suid-Afrika se tweede nanosatelliet, ZACube-2 is deel hiervan. Foto verskaf deur die departement van wetenskap en tegnologie.

Dié konstellasie sal as die Maritieme Domein-bewusmakingsatelliete bekend staan.

ʼn Nanosatelliet is aansienlik goedkoper om te ontwikkel as ʼn groot een en met die tegnologie wat al beter raak, word hulle toepassings al ratser. Volgens die Nanosatellietdatabasis is daar al 966 gelanseer deur 58 lande en daar is selfs twee na planete gestuur.

Die meeste is in ʼn wentelbaan van 400 km tot 650 km bo die aarde en hulle kan sowat 15 keer per dag om die aarde wentel.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.