Video en foto’s: Storm veroorsaak chaos in Polokwane

Sommige voertuie was tot by hul hoofligte onder water. Foto: Facebook

ʼn Hewige donderstorm met swaar reën het Saterdag tot erge oorstromings en kitsvloede in Polokwane in Limpopo gelei.

Inwoners het verskeie video’s en foto’s op sosiale media geplaas waarin gesien kan word hoe water soos riviere in strate afspoel en voertuie, sommige tot by hul hoofligte, in water in parkeerterreine gestaan het.

Dele van die Savannah Mall in Fauna Park het oorstroom en professionele skoonmaakspanne moes ontbied word om die vloedwater uit die winkelsentrum te kry. Video’s wat op sosiale media geplaas is, wys hoe inkopiegangers tot enkeldiepte in die water deur die winkelsentrum se gange loop, terwyl vloedwater ook die winkels instroom.

Gedeeltes van die Savannah Mall wat oorstroom het. Foto: Facebook

Die swaar reënval het ʼn magdom ander probleme tot gevolg gehad, insluitend kragonderbrekings, bome wat omgeval het en paaie wat met puin en vullis versper is. Die plaaslike munisipaliteit het Saterdagaand in ʼn verklaring gesê hy is bewus van die talle probleme oral in die stad en is besig om so gou moontlik daaraan aandag te gee.

“Die publiek word versoek om geduldig te wees, want daar is ʼn lang lys [klagtes] wat hanteer moet word. Spanne is tans ontplooi en hulle sal onverpoosd werk om elke kwessie wat aangemeld is te hanteer.”

Volgens die munisipaliteit is dele van die stad ook sonder water gelaat aangesien die Ebenezer-watersuiweringsaanleg weens die storm sonder elektrisiteit gelaat is.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het bewolkte weer met 30% kans vir reën vir vandag in Polokwane voorspel.

ʼn Video volg onderaan die berig.

Posted by Franco Jorgito Breotti on Saturday, January 12, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Felix ·

As die dorpe se name gebly het soos dit oorspronklik was, het al die onheile ons nie nou getref nie.

Willie ·

Soos my pa altyd gesê het: ‘n Goeie woord is genoeg vir ‘n halwe begryper….

Pieter ·

Stormwater beplanning en bestuur duidelik misken. Naby Savanna Mall was ‘n klein rivierloop wat nou ontwikkel is, die water kan nie weg nie. Mensgemaakte probleme want elke vierkante meter moet verkoop en ontwikkel word. Water moet vloei soos are in ‘n mens.

EIA ·

Weet jy dalk wie die omgewingsimpakstudie voor die ontwikkeling gedoen het?

Pastoor ·

Peter , Graeme en Shaun Polock bly daar. Vandaar die naam.

1+1 ·

Wanneer laas is daar aandag gegee aan die stormwaterpype? Hoe gaan dit met die munisipaliteit na al die gerugte van wanbestuur waarvan daar gelees word ?

Cherokee ·

As die sluise in die hemel oopgemaak word, kan stormwaterpype bloot miskien verligting bring maar nie oorspoeling voorkom nie.

Johanna Botha ·

???? omdat die plastiek en gemors wat nie opgetel word die afvoerpype geblok het …stadsraad en rommel strooiers se skul !

IK ·

Dit kos slegs ‘n paar takke plus plastieksakke om ‘n afvoerpyp se inlaat te verstop. Dit was laas in die 1990’s dat ek gesien het hoe voor die aanvang vd reënseisoen stormwaterpype skoongemaak was. Die pype word van die onderkant (uitloop) skoongemaak. Jaarliks was ook die oorhoofse elektriese kabels se kloue (na huise ens.) los- en skoongemaak en met ‘n spesiale jel gesmeer voor vashegting. Ek daag ENIGE munisipaliteit om te bevestig of dit nog gedoen word?? Van hulle weet nie eers waarna ek verwys.

Te ingewikkeld ·

Die doel daarvan word nie begryp deur die tipiese ANC stemmer en regeringsamptenare van die ANC regering nie.

Jeremia ·

Gaan kyk maar na die stormwaterpype – vol gemors. Niks word skoongemaak of instandgehou nie.
Om by Pieter aan te sluit: dit verstom my dat plakkers dikwels in droë rivierlopies plak. Indien die omgewing se waterlope nie verreken word nie kan die ontwikkelaars en die hoogedele stadsvaders die wêreld nogal ingewikkeld maak.
Maar geld wat stom is, maak reg wat ……

Hb ·

Skade agv wanbestuur kan herstel word. Die reen is n blessing.

Mokopane ·

Ek bly sowat 60km vanaf Pietersburg in Potgietersrus en ons bid hard vir soveel water! Ons plekke hier is so droog!

Joe ·

Dankie Mokopane, vir die enigste kommentaar wat verwant ia aan die berig!

emily ·

Stormwater pype word nooit skoon gemaak nie. Blameer die Munisipaliteit vir die skade.
Hulle mense soek helse salarisse, maar wil nie daarvoor werk nie.
Dit gaan in elke stad so, gaan kyk gerus.

Polokwane ·

Die vorige naweek was die mall ook onder water gewees, dis nie eers iets snaaks nie

PJN ·

Ek is woonagtig in Polokwane (Pietersburg????) en was Saterdagmiddag by Savannah Mall toe dit gebeur het. Die oorstromings het niks met verstopte stormwaterpype te doen gehad nie. Dit was ‘n wolkbreuk en massas water het letterlik deur die hele dorp gevloei en die afvoerpype was nie voldoende om die water af te voer nie.

Katerina ·

Vind nog iemand die 6de foto van bo af “creepy”? Daai modder wat so opspat lyk of daar 2 spookagtige figure in het, van links n kleine en in die middel n grote. En n bees skedel aan die regterkant. Ek weet dis maar net pareidolia maar dit lyk tog vreemd.

Cherokee ·

‘n Gesig met twee groot donker oë en oop mond, reg in die middel en dit kyk reguit na die leser. Jy sal die foto op maksimum grootte moet kyk om dit te sien.

Dellie ·

Ou naam was Pietersburg.

Sommer in die algemeen, met al die reën het ons nou al vir 3 dae nie ‘n druppel water nie, maar soos hulle sê, same old same old……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.