Video en foto’s: Swart Vrydag-winskopies lei tot vertrapping

‘n Skermskoot uit ‘n video van ‘n skare wat ‘n winkel binnestroom.

Werknemers van verskeie kettingwinkels moes Vrydag bontstaan om die skares inkopiegangers te hanteer wat sedert middernag winkels binnegestroom het op soek na goeie winskopies.

Verskeie video’s en foto’s is Vrydag op sosiale media versprei van lang rye mense wat angstig wag vir winkels se deure om te open sodat hulle hul hande op daardie langverwagte aankoop teen ʼn spotgoedkoop prys kan kry. By sommige winkels het ʼn vertrapping ontstaan soos mense probeer het om eerste by die winkel se deur in te kom.

Verskeie foto’s en video’s van gretige Swart Vrydag-inkopiegangers is op sosiale media gedeel. Video’s is onder meer gedeel van ʼn skare mense wat by ʼn Game-winkel instroom nog voordat die winkel se deure om middernag behoorlik oopgemaak kon word. Op die video kan gesien word hoe die glaspanele aan die voorkant van die winkel kraak soos die skare vorentoe beur en sommige mense wat val en onder die histeriese inkopiegangers se voete beland.

Swart Vrydag, oftewel Black Friday, word al jare lank in die VSA gevier, maar het eers sedert 2015 ten volle in Suid-Afrika posgevat. Annaleigh Vallie, woordvoerder van die Mass Mart- en Walmart-groep, het gesê hulle bied al die afgelope drie jaar spesiale Swart Vrydag-aanbiedings by hul winkeltakke van Builders, Makro, Game en DionWired.

“Verbruikers kan oor die algemeen ongelooflik mededingende pryse verwag op uitgesoekte produkte wat in hoë aanvraag is,” het sy gesê. Sy het gesê Swart Vrydag-verkope is onder die hoogste op hul jaarlikse promosiekalender weens die aantreklike winskopies wat met die dag gepaardgaan. Sommige items word op dié dag tot 50% afgemerk.

“Ons berei voor soos ons normaalweg doen vir groot promosies deur seker te maak ons het personeel aan diens om te help en genoeg voorraad om aan die vraag te voorsien.”

Te oordeel na foto’s wat op sosiale media gedeel is, is veral televisies, yskaste en ander huishoudelike toestelle gunstelingaankope op Swart Vrydag, asook babadoeke, waspoeier en ander kruideniersware.

Die onderstaande video van ʼn skare inkopiegangers by ʼn Game-winkel word wyd op sosiale media versprei. Nog foto’s volg onderaan die video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

A Mac ·

Gierigheid laat mense vreemde dinge doen. Wonder hoeveel van vandag se vreeslike “afslag” was werklike afslag of net advertensie-foefie. En hoeveel mense sit volgende maand in sak en as na hulle “winskopies” omdat hulle nie geld vir noodsaaklikhede het nie.

Peet Schabort ·

Genoeg voorraad se voet. Makro by Vanderbijlpark se advertensies het ‘n hoeveelheid wat dus ‘n beperking plaas op items. Dit het ook ek gister ondervind toe die item alreeds uitverkoop was. Ek was vandag nie naby daardie winkels want ‘ekstra’ van enigiets is nie ‘n winskoop. Dit laat my dink aan die pa wat vir die kinders gesê het: ‘Julle kan soveel tjoklits eet as wat julle wil want pa het dit as ‘n winskoop gekry’.

anton ·

Maruis, moet asb. nie Amerika met ons vergelyk nie.
Hulle is n 1ste wereld en ons n 3 de wereld.
Dinge is BAIE meer beskaafd daar op so n black Friday as hier!!!

Chris Ws ·

Die land se ekonomie is in ‘n benarde posisie.Besighede vou een na die ander omdat die kopers publiek meer selektief koop as ooit.So die belangrikste goed in ‘n huishouding kry voorkeur bo luukshede.Geen wonder die groot ketting winkels begin nou sweet nie en moes noodgedwonge ‘n ander strategie probeer om die publiek te flous om geld te spandeer.Miskien was daar winskopies maar die winkels lag al die pad bank toe!Eks dankbaar ons bly baie ver van groot winkelsentrums af.As ek REGTIG ‘n ding nodig het ry ek en gaan koop hom, “special” of nie.Vir die res van die maand bly my geld in MY sak!

Irene ·

Ek dink nie so iets soos black Friday moet weer bestaan nie ,baie mense kry seer en winkel eienaars kry skade ,kyk hoe het dit aan gegaan ,mens leer moes ,dit werk net nie ,wat van die mense wat by die talle werk ?hulle vrees ook ….

Magrietha ·

Hulle moet dit weg vat nie regte winskope nie boksfreezer se prys us al 2 maande terug 1999 nog steeds diw selfde prys wat dit weg mense gaan baie seer kry

Tiger ·

Dis net ‘n slim set om mense wat aan hul geldjies klou van plan te laat verander en onnodige items te gaan koop.Die winkels lag al die pad bank toe want hulle hemelhoe winsmarges absorbeer klein afslaggies op sekere goedere maklik.En dan is daar baie mense wat ander items koop wat nie deel uitmaak van wat hulle nodig het nie.Dankie maar nee dankie.Ek bly by die huis en hou my geldjies in my sak!

SW ·

Wonder hoeveel besef vanwaar kom die ontstaan van Black Friday? ‘n Paar honderd jaar gelede was slawe uit Afrika teen afslag verkoop. Maar vandag kan ook maar ‘n WMC-dag wees, solank ons net kan koop!

Phillip Groen ·

Die oorsprong van Black Friday as die dag waarop slawe teen afslag sou verkoop word is ‘n internet mite.

Verskeie weergawes van die oorsprong bestaan, met die mees waarskynlikste dat dit in die begin 50’s onstaan het as n term wat die polisie in Philadelphia gebruik het om die toestand van die skares en die verkeer te beskryf wanneer die kersfees inkopie seisoen afgeskop het amptelik.

Niks met slawe uit te waai nie.

Adam ·

Ek was self in Menlyn se Checkers Hyperama en alle eer aan die winkelbestuur sowel as die sentrumbestuur. Alles het baie ordelik verloop. Mense het tou gestaan en net sekere hoeveelhede in die winkel toegelaat. Na 45 minute was ek in die winkel en kon heerlik en ontspanne my inkopies doen. Geen samedromming of gestoot en stamp nie!!! Dieselfde het gegeld by New World en House and Home.. Fantasties gewees!!

Adam ·

Ek was self in Menlyn se Checkers Hyperama en alle eer aan die winkelbestuur sowel as die sentrumbestuur. Alles het baie ordelik verloop. Mense het tou gestaan en net sekere hoeveelhede in die winkel toegelaat. Na 45 minute was ek in die winkel en kon heerlik en ontspanne my inkopies doen. Geen samedromming of gestoot en stamp nie!!! Dieselfde het gegeld by New World en House and Home.. Fantasties gewees!! Dis hoe dit gedoen moet word!

nhk ·

Massa aankope …dus geen winskope. Let op na groente e vrugte se verval datums. Januarie …februarie is die winskope van tv ..yskaste ens stukkend….en die verliese groot. En geen pennie in die sak!

lynni ·

Black Friday het ontstaan die dag na Danksegging in Amerika. Dit het met die winkels se boeke te doen. Gaan Google maar of dalk kan Maroela vir ons verduidelik.

Leon ·

Sekere lande kan hul mense iets “gun” en sekere lande kan ongelukkig nie.

Johan Fourie ·

Dood gaan net vir n tv of paar doekke nee wat mense se koppe raas

Leser ·

Hoop die DBV’s regoor SA en ander diereorganisasies kry ook skenkings vir die komende Kersseisoen.

Dissie ·

Sjoe, ek is sprakeloos. Suid-Afrika moet wegdoen met Black Friday. Nie net kan ons infrastruktuur dit nie hanteer nie, maar ons mense is nie gedissiplineer genoeg daarvoor nie. Almal se bonusse waarmee skuld betaal moes word, is nou in die water. Dit is misbruik en uitbuiting van mense.

G ·

@Dissie, die mense wat hul bonusse so blaas, is mooi groot. Hul maak hul eie besluite, die winkeleienaar maak dit nie vir hulle nie. Mense word so in winkels vertrap oor sekere mense nooit maniere geleer is nie. Sal selfs mekaar doodmaak om R5 te spaar.

Dissie ·

Moou groot, @G??? Nie na aanleiding van daai videos nie… Nog heelwat opvoeding lê voor…

John ·

?.. tot vleismarinade in massa aangekoop… Vaderland. Waar kry mense geld voor die einde van die maand? En Kersfees le voor en dan begin die nuwe skooljaar… Mens kry ‘n walging in winkeliers wat euforie misbruik om mense in die skuld te dompel. En as die ekonomie duik en winkels sluit? Moenie dan nie die winkelbase jammer kry nie… Hul sakke is vol nadat ons al hul ou voorraad opgekoop het wat nou ophoop in ons kaste en motorhuise…

G ·

John, dit bly elkeen se keuse om te koop of weg te bly, al is dit ‘n geldmaak-foefie. Ek vermy maar eerder die winkels, want ek het nie krag vir al die ongemanierdes nie.

jaco ·

met al hierdie kopersaktiwiteit, nie net op Swart Vrydag nie maar einlik maar elke maandeinde, waar is SA se ekonomiese resessie en rommelstatus dan nou skielik heen???

boskind ·

black friday in SA beteken net die groot winkels raak ontslae van ou stock… en plak n sticker op wat se spesiale en mense koop voor die voet…. “mind washing”

Eddie de Jager ·

Iets wat my opgeval het is dat die basiese behoeftes in sommige winkels se pryse onveranderd of selfs duurder was as gewoonlik. Ek verwys spesifiek na melk en brood en als wat in daardie kategorie val. Wat opmerklik is is dat die armstes van die armstes volgens ons land se statestieke eerder verkies het om daardie platskerm te koop eerder as basiese behoeftes. Die oorspoel van die “American Dream” na Suid Afrika in die vorm van tradisies soos “Halloween “, “Thanksgiving “, en nou “Black Friday “, vestig ‘n neiging wat nie baie Suid Afrikaners kan bekostig nie. As jy weet dat jy in realiteit nie die TV kon bekostig nie maar hoop dat jou identiteit en sosiale status daardeur verander sal word, koop jy dit as dit verspot goedkoop is. Die kruks is brood en melk kan nie goedkoper gemaak word nie. ‘n TV of enige huishoudelike toestel wel, want dis nie noodsaaklik nie. Ek sê nie ons moet nie TV’s hê nie, dis bloot ‘n metafoor vir wat die mensdom sal prysgee vir materialisme bo noodsaaklikheid. Ek kan ook nie almal onder dieselfde kam skeer nie, ek verwys na die videos. Weet net dit, niks in die lewe is goedkoop nie. Alles kom teen ‘n prys.

G ·

Eddie, dit is so waar. Maar daar word van kleins af geleer dat die ‘government’ gaan sorg. Daar word nie verantwoordelikheid gevat vir keuses nie.

mcswart ·

Ons soek ook n dag. n White Vrydag of wat van n Coloured Vrydag of n Indian Vrydag. Hihihihihihi wat maak Black nou so spesiaal. Hoe lekker lag ek nou v my eie grappie.

Selfrespek ·

Eddie d J kan nie méér met jou saamstem.. Net miskien een ekstra…beplanning lysies maw begroting!! Bly by daai díñg al is dit hoe dis wat SELFRESPEK beteken.

Annoniem ·

Mense wat in winkels werk en banke werk kry ek die jammerste die tyd van die jaar.

Amanda ·

Daar is NIKS in die hele wereld wat ek so nodig het dat ek bereid is om daardie koopkoors en vertrapping te gaan verduur nie!!! Ek bly liewer vir ewig sonder daai bargain…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.