ʼn Reusebrand buite Tzaneen in Limpopo is ná twee dae se brandbestryding uiteindelik in bedwang nadat dit minstens 1 000 ha veld en plantasie verwoes het.
Maritsa Swanepoel, woordvoerder van die Letaba-brandbeskermingsvereniging, het Saterdag aan Maroela Media gesê die brand, in die Triangle-omgewing, is tot so ʼn mate in bedwang dat helikopters en vliegtuie nie meer in die brandbestryding gebruik word nie, maar brandbestryders spook steeds om die vlamme te blus.
“Dit was ʼn helse groot vuur,” het sy gesê. “Dit is maar meestal plantasies wat verwoes is. Gelukkig het daar geen huise in die slag gebly nie en niemand het in die brand omgekom nie. Daar is wel enkele gevalle aangemeld waar mense ligte beserings opgedoen het soos ligte brandwonde, ens.”
Swanepoel het gesê die brand het omstreeks 13:00 Donderdag begin en blitsvinnig versprei. “Ons het Vrydag en vanoggend drie helikopters en twee vliegtuie gehad wat gehelp het om die vlamme te blus. In ʼn stadium het 500 mense, onder wie brandbestryders en boere, vlamme help doodslaan.” Dit is nog nie duidelik wat die brand veroorsaak het nie.
Volgens Swanepoel monitor die Letaba-brandbeskermingsvereniging steeds die brand aangesien dit nog nie heeltemal geblus is nie en plek-plek opvlam.
Die onderstaande video van die brand is op die Letaba-brandbeskermingsvereniging se Facebook-blad gedeel:
Hemelse Vader….ons bid dat U asseblief ons genadig sal wees en vir ons reën stuur.
Amen
En dit sonder n staking, daai boere moes vreeslik hard gewerk het.